‘Wes-Kaap moet onafhanklike federale Bruin staat word’

Deel op

Peter Marais, voormalige Wes-Kaapse premier en oud-burgemeester van Kaapstad, het by die Maynardville-jeugfees in Wynberg, Kaapstad, gesê bruines wil ’n onafhanklike federale Wes-Kaap hê.

Die onderleier van die Bruin Be­lange Beweging (BBB) het aan Media24 gesê die opkoms van bruin nasionalisme is te danke aan die verslag van die Verenigde Nasies se gesant oor inheemse volke in Suid-Afrika.

Bruines het in 2005 Eerste Nasie-status gekry.

“Nou is die bruin man besig om aanspraak te maak op ’n eie grondgebied in die land, op die basis van ’n outonome federale staat soos aangedui in artikel 235 in die Grondwet.

​“Konsolideer jou getalle, streef om mag te bekom en dra jou Afrika-herkoms op jou voorkop, is die nuwe kreet op die Kaapse Vlakte.

“Dis ons paspoort na rykdom en mag en dit word daar orals vertel.”

Volgens Marais sal federalisme die getalle-oorwig beperk tot provinsiale grense en aan minderhede groter politieke en ekonomiese mag verleen binne ’n grondgebied, iets wat glo nie deur ‘n onafhanklike volkstaat gegrond op velkleur sal gebeur nie.

Die Wes-Kaap is meer as 51% bruin en 80% Afrikaans.

Marais sê Afrikaans as taal van kommunikasie en vakkeuse by skole en universiteite sal sodoende opbloei.

Hy sê Suid-Afrika is reeds in ’n mate ’n federale staat, maar die sentrale parlement beskik nog oor te veel mag.

“As die ANC bereid is om geringe grondwetlike aanpassings te maak en om die aspirasies van minderhede te akkommodeer, kan ons ’n vrye, semi-onafhanklike Kaapprovinsie hê.

“Ons provinsies is grondwetlik te swak. Ons is afhanklik van die sentrale parlement vir 95% van ons begroting. Daarby subsidieer die Wes-Kaap ander provinsies. Ons provinsiale begrotingstoekenning is ’n klein deel van ons bydrae tot die land se BBP.”

Heindrich Wyngaard, kommentator oor bruin kwessies, bestempel Marais se sienings as interessant.

“Dit spreek van ’n versugting by ’n groot deel van die bruin mense oor erkenning.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.