Mag die Afrikaner sy kop optel?

Deel op

Max Du Preez se aanval op Steve Hofmeyr op die naweek se Netwerk 24 is ‘n sprekende voorbeeld van oppervlakkige, ondeurdagte, eensydige en bevooroordeelde joernalistiek. Kom ons bekyk dit stuk vir stuk  van naderby: Ek haal telkens aan uit sy artikel en lewer dan kommentaar daarop.

Du Preez :«Dis vir my ’n interessante verskynsel, dié dat party mense se denke en houdings verstar en hulle wêrelde kleiner word as hulle ouer word. ’n Mens sou dink dit behoort andersom te werk: hoe meer ’n mens te wete kom, hoe meer ’n mens sien en ervaar, hoe meer mense jy ontmoet, hoe oper behoort jou kop en hoe breër jou horisonne te word. »

Kommentaar : Nou hoekom is dit dat einste Max Du Preez se denke en houdings met die tyd almeer verstar voorkom. In watter opsig het Max Du Preez se sienswyses die afgelope twintig jaar verander ? Nog steeds dieselfde ou droefgeestige linksliberale Amerikaans-geëinspireerde refrein. En ek glo nie my indruk is die gevolg van my wêreld wat kleiner word nie. Sonder om op besonderhede in te gaan, meen ek my wêreld is heelwat wyer as dié van Max Du Preez. As Max Du Preez nie bewus is daarvan of bewus wil wees nie dat nasionalismes wêreldwyd besig is om te ontwaak, kan dit net wees weens sy verknogtheid aan ‘n klaaglik klein wêreldjie wat maar net nie wil groter word nie. Dit is sprekend van Max Du Preez se bevooroordeelde stiksienigheid dat hy meen sy sienswyses is die enigste wat kan roem op ‘n wye horison en wat kan aanspraak maak op waarheid en « moraliteit ».

Du Preez : « Hofmeyr is nie die enigste een met wie dit gebeur het nie. Ek kan die name van ’n hele paar van my Afrikaanse vriende en kennisse noem wat ná ’n relatief progressiewe, vrydenkende lewe al meer reaksionêr en bitterbek geword het. »

Kommentaar : Die oordeel dat hulle «reaksionêr en bitterbek» geword het, is bloot ‘n belediging komende van ‘n tipiese onverdraagsame linkse patroon. Hierdie mense is « reaksionêr en bitterbek » net omdat Max Du Preez hulle as sulks beskou. Inderwaarheid is hulle juis mense wat nie, soos Max Du Preez, verstard in hulle ideologiese kluis vasgehok bly sit het nie, maar hulle denke aangepas en gewysig het na gelang die omstandighede waarin hulle leef sedert 1994 verander het.

​Du Preez :» En as jy boonop effens verlig of andersdenkend in jou jeug was of dalk ’n keer of wat apartheid veroordeel het, het jy ’n spesiale lisensie om ná 50 ’n onvergenoegde, reaksionêre ou drol te mag wees. »
Kommentaar : Ek is liewer ‘n konserwatiewe drol as ‘n linksliberale een !

Du Preez : « Dit kan maar koud en eensaam vir ’n Afrikaner wees om deur sy/haar volk verwerp en as ’n hensopper of ’n verloopte gebrandmerk te word. »

Kommentaar : ‘n Mens wat oor die insigte beskik wat Max Du Preez voorgee om te hê, sou vra waarom ‘n Afrikaner deur sy/haar volk verwerp word en as ‘n hensopper en of ‘n verloopte gebrandmerk word. Is dit nie dalk omdat hulle inderdaad hensoppers en verlooptes is nie? Wat Max Du Preez skynbaar nie by magte is om te verstaan nie, is dat wanneer ‘n mens se volk jou verwerp, is dit nie die volk se skuld nie maar jou eie. In elk geval is dit goeie nuus dat die volk nou begin om die hensoppers en verlooptes te herken en te verwerp.

Du Preez : « In die dae toe daar nog ’n “saak” was, toe die swart mense hul plek moes ken en toe ou PW se vinger nog in ons gesigte geswaai het, was dit nog draaglik en hervormingsgesindes het hul rebelse baadjie met trots gedra. Maar in die tyd dat Thabo Mbeki met sy “colonialist of a special kind”-twak begin het, het dié baadjie uit die mode begin raak. »

Kommentaar : Ek dink « mode » is die regte woordkeuse. « Internasionaal » wees, populêr wees, met die stroom swem, agteroorbuig om die Amerikaners ter wille te wees, dít alles was deel van wat Max Du Preez nou, tereg, as « mode » beskryf, ‘n mode waaraan hy self met die grootste toewyding meegedoen het en, erger nog, steeds meedoen. As Max Du Preez tog wou verstaan, ‘n mode is iets wat verbygaan, behalwe net vir mense wat stompsinnig en verstard aan hulle klein bekende en benoude wêreldjie wil vasklou.

Du Preez : « Ons was dan aan julle kant, was die argument, en nou spoeg julle ons uit. »

Kommentaar : Wys net, « ons » was aan die verkeerde kant. Minstens begin « ons » dit nou besef.

Du Preez : « Skielik, soos dié ontnugterdes begin om die ANC te kritiseer, word hulle weer deur die Afrikaner-establishment omhels. En o, hoe lekker is dit om weer in die boesem van die volk gekoester te kan word! Slag die gemeste kalf! »

Kommentaar: ‘n Herhaling van wat reeds gesê is. Probeer tog harder Max, miskien kry jy darem ‘n nuwe idee ook. Ek is nie seker of daar so-iets soos ‘n « Afrikaner-Establishment »  is nie; miskien in die benewelde kollektiewe verbeelding van die Naspers. Maar as die gedagte van ‘n « Afrikaanse establishment » julle benoud maak, soveel te beter.

Du Preez : « Dié verskynsel word natuurlik aangehelp deur die rasbeheptheid, onbeholpenheid en korrupsie van ons huidige regerende party. »

Kommentaar : Aha, nou om ons nader aan die waarheid! Is dit wat Max Du Preez met « Demokrasie » bedoel ?

Du Preez :« Ek het dit al in verskeie variasies gehoor – Hofmeyr noem dit “ontnugterd”: Ons was teen apartheid, maar kyk wat het die swartes nou met die vryheid gemaak wat ons vir hulle gegee het. Ai, dié mense kan maar net nie ’n demokrasie en ’n moderne ekonomie bestuur nie  . . . »

Kommentaar : Is daar enige rede waarom Steve Hofmeyr of enige ander denkende Afrikaner nie ontnugter moet wees nie? Ek is beslis.

Du Preez :« Ek hoor die koor deesdae elke dag: ons is moeg gekruip; ons is gatvol vir skuldig en skaam voel; ons het nou genoeg ekskuus gevra en handjies gevrywe; los nou die verlede uit; ons wil nou weer trots wees en dit sê. »

Kommentaar : Netso, Max, netso. Wat is jou probleem daarmee ? Wat is verkeerd daarmee om weer trots te wil wees en dit te sê ? Hierdie is die kernpunt : Die Afrikaner mag nie sy kop optel nie. Dankie dat jy dit so duidelik uitgespel het, mnr Du Preez.

Du Preez : « Heil Steve, hy’t die moed om dit van die dakke af te skreeu en die volkslied van apartheid op konserte te sing. »

Kommentaar : Die « volkslied van Apartheid » is die soort stelling wat Max Du preez onherroeplik en onredbaar as vyand van die Afrikaner tipeer. Mens weet nie eers of ‘n sinvolle gesprek hieroor moontlik is nie. Niks in die inhoud van die Stem het enigiets met « Apartheid » te make nie. Die feit dat die Stem gedurende die Nasionale Partybewind in Suid-Afrika gesing is, maak nie daarvan die « volkslied van Apartheid » nie. Die Deutschlandslied (Deutschland über Alles) is die Duitse volkslied sedert 1922, d.w.s. ook gedurende die Nazitydperk. Maak dit nou van die Deutschlandslied die lied van die Nazime ? As jy so dink, hê dan die moed van jou oortuiging en gaan sê dit vir hulle !
Ek wonder nogal hoekom  « Heil » Steve. Nie juis moeilik om te raai dat Maxie weer probeer swartsmeer nie. Of moet ‘n mens liewer sê witsmeer!

Du Preez : « Ek kruip voor niemand en het nog nooit nie, nie voor die Broederbond, PW Botha se meedoën­lose masjien, Engelse geld, die ANC, die regering, die Jacob ­Zuma-kliek, die Malemas en ander swart nasionaliste nie. Ek voel nie skuldig en skaam nie, ook nie oor my wit vel of Afrikaner-wees nie.

Kommentaar : Ek is ver van oortuig. Vir my het dit nog altyd gelyk of Max Du Preez die voete soen van die Amerikaners en Engelse, amper soos « verligte » Minister Adriaan Vlok met die ANC-terroriste gedoen het in belang van « waarheid en versoening » !

Du Preez : « Maar ek maak nie asof Suid-Afrika skielik uit die niet in 1994 ontstaan het nie. Ek sluit nie my oë en ore vir die diep letsels wat die eeu van onreg op die meeste Suid-Afrikaners gelaat het en die impak wat dit nog steeds het nie.

Juis omdat ek ’n Afrikaner is, kan ek die sensitiwiteite, gebrek aan selfvertroue (selfs minderwaardigheidskomplekse), frustrasies en aspirasies van ons swart landgenote beter raaksien. Ek gaan nooit my bek hou nie, maar ek gaan ook nie met kapstewels tussen hulle invlieg en vertel hoe hulle hulself moet regruk as ’n ras nie. »

Kommentaar : As hy maar dieselfde begrip vir die sensitiwiteite, frustrasies en veral aspirasies van die Afrikaner ook gehad het, sou hy miskien meer geloofwaardig gewees het. In die omstandighede is sy geloofwaardigheid onder Afrikaners nul. Die enigste geloofwaardigheid wat hy het, is dié wat hy in die wandelgange en vergadersale van die Nasionale Pers geniet.

Du Preez : « Hofmeyr gaan egter ’n stap verder. Wit Suid-Afrikaners moes nooit ’n politieke skikking met die swart meerderheid beding het nie, want hulle moes eintlik nee gestem het in die 1992-referendum wat die onderhandelinge gesanksioneer het: “My ja-stem was ’n dolk in die rug van die minderheidsgroepe in hierdie land, veral die Afrikaner.”

Kommentaar : Ek steun hierdie sienswyse van harte. As daar hoegenaamd ‘n politieke skikking met die swartes moontlik was, dan moes dit ‘n heel ander skikking gewees het. Die « skikking » wat Du Preez in gedagte het, was hoegenaamd geen « skikking » nie, maar bloot ‘n volslae kapitulasie en oorhandiging van die land op ‘n skinkbord aan mense wat deur bomgooiery in restaurante en vermaaklikhedsplekke, in die strate en selfs in kerke en die doodbrand van mense aan die bewind gekom het. Deel van die « demokratiese oorgangsproses » moet ons aanneem.

Du Preez : « En dan, verstommend, dít: “Ek dink om alleen-heerskappy op te gee is ’n gróót opoffering. Die res? Wat het hulle opgeoffer?”

Kommentaar : Wat ons opgeoffer het, was alleen-heerskappy oor onsself. As daar sprake van ‘n « skikking » kon wees, dan moes dit ‘n skikking wees wat vir ons selfbeskikking voorsiening gemaak het.

Du Preez : « En: “ ’n Liberale ou dink die bevoordeling in daardie dae [apartheidsdae] was ten koste van ander. Ek dink dit was welverdiend.

Goeie genade. Wit mense het verdien om baas te speel en vooruitstrewend te word, en swart mense moes net sê dankie, my baas, vir ’n ou joppie, wil die baas nie gou kyk of my pas in orde is nie? »

Kommentaar : Ek glo saam met Hofmeyr dat die witmense in groot mate hulle vooruitstrewendheid verdien het. As Du Preez wil weet hoe vooruitstrewend swartes kan wees wanneer hulle aan die beheer van sake is, kan hy maar net sy oogklappe afhaal en kyk hoe gaan dit nou.

Du Preez : « Ek was ’n voorgestoelte-getuie van die ernstige politieke en ekonomiese krisisse van die tagtigerjare en van die onderhandelinge wat tot die 1994-verkiesing en die skryf van ons Grondwet gelei het. Oor twee sake het ek geen swympie twyfel nie.

Een: Ons het ’n uiteindelike burgeroorlog vermy wat soos dié in Sirië kon gelyk het, tienduisende lewens sou gekos het en almal, ook (en dalk veral) die Afrikaner wat nie sou kon bekostig het om te emigreer nie, plat te slaan soos laas met die Anglo-Boereoorlog gebeur het. »

Kommentaar : Kos die « onderhandelde konstitusonele demokrasie » dan nie sedert 1994 ook duisende lewens nie, die lewens van ons eie mense, m.a.w. die mense teenoor wie ons lojaliteit in die eerste plek verskuldig is? Maar natuurlik, ideologies-gedrewe linksliberales glo nie in iets soos «ons eie mense » nie.

Du Preez : « &Twee: Ons Grondwet met sy handves van menseregte is die heel, heel beste waarop die minderheidsgroepe kon gehoop het. Op die keper beskou, het die werklike kompromisse, soos die eiendomsklousule, eintlik net van ANC-kant gekom. »

Kommentaar : Die Grondwet mag miskien mooi lyk op papier, maar in die praktyk het dit vir ons as witmense en Afrikaners net mooi vere beteken. Dit weet Max Du Preez tog. In daardie sin kan ‘n mens vra of dit wel « ons » grondwet is. En dat die kompromisse net van ANC kant gekom het is mos nou louter onsin.

Du Preez : « Maar apartheid moes ook om morele redes beëindig word. Dis insiggewend dat Hofmeyr sê wit mense se opoffering was om “alleen-heerskappy” prys te gee. Die HAT sê heerskappy beteken “oppermag” of “oorheersing”.
Onderdrukking, dus. Die Afrikaner se duur opoffering was om op te hou om ander te onderdruk? »

Kommentaar : Dat oppermag of oorheersing dieselfde is as onderdrukking is Max Du Preez se vertolking. Dis debateerbaar of die swartes inderdaad soseer onderdruk was. Om dit te kan bepaal moet ‘n mens kyk na die posisie van swartes in vergelykbare situasies, d.w.s. nie in Amerika nie, maar in ander Afrika-lande of in Suid-Afrika sedert die ANC oorname. Is die massa swartes nou inderdaad minder « onderdruk » as onder Apartheid ? Vind die linksliberales die feit dat ‘n eliteklas swartes oor ‘n tydperk van 20 jaar fabelagtige rykdomme versamel het ten koste van die massas, « moreel » ? En is die feit dat ‘n handjievol oligarge die « reg » het om hulle sakke te vul, groot vordering op die pad na Demokrasie ? Ek dink as ons eers begin oor wat « moreel » is of liewer wat dit nie is nie, kan ons vir boekdele aangaan.

Du Preez :« Die oordrag van mag in 1994 was nie ’n opoffering nie. Dit was bloot die herstel van onreg. Dit was bloot die ongedaan-maak van ’n vroeëre wandaad. Die enigste “opoffering” wat wit mense in 1994 gemaak het, was om van hul ongeregverdigde bevoordeling prys te gee, en dit sonder om juis ’n materiële prys te betaal. »

Kommentaar : Dis juis die witmense wat geweet het dat hulle voordeel sou put uit die nuwe bestel wat dit wou gehad het – die adverteerders in die Nasionale Pers, hulle betaalmeesters en septerswaaiers. Die meeste ander mense, veral Afrikaners, het geen voordeel behaal nie en trouens baie van hulle woon tans in plakkerskampe, waarvan die ivoortoring joernaliste van die Nasionale Pers natuurlik salig onbewus sal wees.

Du Preez :« Hofmeyr en talle ander soos hy, is vandag ’n miljoenêr, wat hy nie in 1994 was nie.

Hier is die kern van die saak, my vriend Steve. Al het ons in 1992 presies geweet hoe Suid-Afrika vandag sou lyk en hoe Zuma en sy skelm, magsbehepte kornuite ons sou regeer, moes ons in elk geval apartheid keel-af gesny en ons swart landgenote se menswaardigheid herstel het.

Dit was doodgewoon die regte ding om te doen, moreel gesproke en om ons as Afrikaners se vreedsame voortbestaan in die land wat ons liefhet, te verseker. »

Kommentaar : Die « regte ding om te doen » kom so warm uit die Amerikaanse oond. Die « regte ding om te doen » was die ding wat deur die linksliberale Amerikaanse media voorgeskryf was en deur hulle na-apers in die Nasionale Pers en ander meelopers vir soetkoek opgevreet is: die « regte ding » wat hemelsbreed verwyder was van die  regte ding  vir ons.

Du Preez : « Die demokrasie is maar ’n gebrekkige stelsel en ’n mens kan soms jou kop skud oor die meerderheid se keuses, maar dis steeds die beste stelsel wat bestaan, die beste versekeringspolis teen tirannie en anargie.

Kommentaar : So werk dit in ‘n homogene of oorwegend homogene Westerse land. Nie in ‘n multi-nasionale opset in ‘n Afrikakonteks nie. ‘n Demokrasie deur en vir blankes was in 1994 met ‘n bietjie beter beplanning en ‘n bietjie meer moed en ‘n bietjie meer wil moontlik en sou inderdaad kon gewerk het. Die « demokrasie » wat ons nou het, werk net vir die swart oligargie wat die stelsel tot die droesem toe uitbuit tot hulle eie voordeel.

Du Preez : In 2014 gee ons Grondwet ons steeds die demokratiese ruimte om luidkeels te protesteer en vir ’n beter bestel te baklei. »

Kommentaar :« Luidkeels te protesteer en vir ‘n beter bestel te baklei » ! Maar hy maak seker grappies. Watter verskil maak ons protes? Wat beteken ons protes teen die verengelsing van ons universiteite en skole, teen die feit dat mense met ses en sewe onderskeidings in matriek universiteitstoelating geweier word omdat hulle wit is, om plek te maak vir studente met ‘n E-simbool, teen die feit dat iemand soos kol. Renate Botha bevordering geweier word omdat sy wit is, teen die feit dat terroriste soos Robert McBride van pos tot pos aangestel word ? Hy lewe mos in ‘n droomwêreld of hy onderskat ons intelligensie, of albei.

Du Preez : Afrikaners was eers vryheidsvegters met ’n sterk sin vir geregtigheid voor hulle rassistiese, selfsugtige boelies geword het.

Jy doen net jou eie bankbalans ’n guns, Steve, as jy probeer om die geskiedenis om te draai en jou aanhangers in ’n nuwe bestaan van rassisme, selfsug en nasionalistiese kragdadigheid in te verlei. Jy doen nie Afrikaners ’n guns nie – en ek vermoed diep in jou hart as ’n intelligente, belese mens weet jy dit. «

Kommentaar : Dis ‘n verregaande aantyging om te maak. Op watter wyse lei Steve Hofmeyr sy aanhangers in ‘n « nuwe bestaan van rassisme, selfsug en kragdadigheid » in? Deur die sing van Die Stem ? Dis tog pure snert. Dink Max Du Preez se Nasperstjomme almal so ? Indien wel, moet hulle maar net so aanhou, want die skrif is vir hulle reeds aan die muur.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.