Die gewetenloosheid van links

Deel op

Deur Joseph Secrève

Bestaan daar so iets soos om die regte ding te doen en dan gehaat te word daarvoor?

Helaas is die antwoord op hierdie vraag ’n pertinente “ja”.

Daarvoor hoef ons nie verder te kyk as ons eie geskiedkundige erfenis nie.

Ek bepeins die ander dag hierdie eintste vraag en dit was nie lank nie of die antwoord word duidelik.

In hul geskiedenis het die Afrikaners eintlik alles goed gedoen volgens die linkse resep, en nie net skoorvoetend nie, maar dikwels met ywer. Kom ons kyk na ’n aantal van hierdie fasette:

Die Boere het die eerste anti-Imperialistiese oorlog in Afrika gevoer, en as dank daarvoor in konsentrasiekampe en later as armblankes in die stede opgeëindig.

Met die bekragtiging van die belangike steen des aanstoots van die ANC, die Land Act van 1913, het die Afrikanergesinde regering van Hertzog heelwat meer grond aan swartes gegee as die Engelsgesinde regerings van Smuts en Botha. Laat staan nog die wysiging van hierdie akte in 1936 toe die Afrikanergesinde regering 9 miljoen hektaar land onvoorwaardelik aan swartes oorhandig het. Hulle het selfs blankes ontruim van hul plase in hierdie gebiede aan swartes te oorhandig. As dank daarvoor word hulle beskuldig dat hulle land gesteel het. Laat staan nog dat die ontwikkeling van die tuislandbeleid suiwer antikoloniaal is waarvan die meeste swart stamme heelhartig mee ingestem het. Hulle het ’n tuisland onder andere beskou as ’n basis om hulself te kan verset teen moontlike imperialistiese grondgrype in die toekoms.

Die klein apartheidwette wat ingestel was deur die Engelse onder andere die dompaswette, was juis versag gewees sedert 1948 toe die Nasionale Party van Malan oorgeneem het. Sedert 1948 hoef swartes in blanke gebiede geen dompas te dra as hulle minder as 24 uur in blanke gebiede sou wees nie. Daarvoor, min of meer onder die Engelsgesinde regering moes dompasse ten alle tye aan hul persoon wees.

Tydens die Verdrag van Versailles het Smuts juis gewaarsku om Duitsland nie te veel te verneder nie ten einde ’n latere oorlog af te wend. Die res is geskiedenis. Desondanks het 160 000 Afrikaners hulself ingespan om teen die oprukkende Nazi’s in Europa te baklei en het meegehelp om die Jode asiel te gee in Suid-Afrika. In feite was hierdie optrede teen die Nazi’s ook ‘n antikoloniale oorlog gewees. Waar die ander Europese moonthede buite Europa grond gesoek het om te koloniseer, het Duitsland dit binne Europa gedoen. Alweer het Afrikaners hulself teen hierdie snaakse vorm van interne kolonialisme teëgesit.

Die Afrikaners het ’n einde gemaak aan apartheid, die enigste keer in die moderne geskiedenis het ’n volk afstand gedoen van sy magsposisie sonder dat hulle in ’n oorlog verslaan was.

Die Afrikaners is tot dusver die enigste kernmoontheid ooit wat sy kernprogram ontbind het. Dit is ook die eerste keer in die moderne geskiedenis dat ’n progressiewe volk homself aan die derde wêreld onderwerp het.

Anders as hul kontinentale Europese stamvolkere het Afrikaners nooit geglo in rassesuperioriteit nie. Afrikaners het geglo dat God alle mense gelyk geskape het, wat duidelik ooreenstem met die Kommuniste se universele gelykheidsbeginsel. Desondanks kan die woede en frustrasie vanuit die ANC rondom dr. Wouter Basson nie gesus word nie.

Die Engelse het in die vyftiger en sestiger jare 90 000 Keniane vermoor en nog 160 000 in konsentrasiekampe aangehou. Die Franse het indertyd ongeveer een en ’n half miljoen Algeriërs vermoor, die Katolieke kerk in Kanada het 50 000 Indianekinders gemartel en vir Mengele-eksperimente gebruik, en in Australië was dit tot 1956 wetlik toegestaan om op hul inboorlinge te skiet. Eers so onlangs as Maart 2013 het die Australiese regering die inboorlinge as inwoners met grondwetlike regte (lees: mense) erken. En dan kla almal oor Sharpeville wat nie eens 70 lewens geëis het nie toe die polisie uit noodweer moes optree.

Vanuit bogenoemde voorbeelde blyk duidelik dat van al die verskrikkinge en misdade wat gepleeg was indertyd, registreer die misdade wat begaan was onder die Nasionale Partybewind nie eens op die radarskerm nie. Afrikaners daarenteen het alles gedoen wat geoorloof was by linkse proteste. Op wreedheid en volksmoord na, het hulle alles presies uitgevoer soos die linkse draaiboek wou, maar in plaas van ’n internasionale “dankie” of voorbeeld wat ander lande hieruit geneem het, word Afrikaners beloon met volksmoord en mediastilte.

Weereens is hierdie ’n bewys dat die groot helde by linkse bewegings geen gewete het nie. Standbeelde van Boerehelde word afgebreek, ongeag hul goedgesindheid na swart stamme terwyl ander bekende figure wat min of meer volksvreemd is, soos Voorsitter Mao en Gandhi beloon word met standbeelde en straatname. Die ironie is natuurlik dat Mao die grootste massamoordenaar is wat nog ooit geleef het, en Gandhi se kort oomblik van verset teen apartheid gevoed was deur die misnoeë wat hy gehad het dat die apartheidregering die hoër kaste Indiër wou reduseer tot die vlak van “rou kaffer” (sy woorde). Hy het in feite geen beswaar gehad dat wittes oor swartes heers nie en het dit selfs verwelkom.

In al hierdie optredes is daar tog ’n silwer draad wat deur hierdie verwarrende opvattings loop. Lenin het dit goed verwoord toe hy gesê het dat die beste rewolusionêr is ’n jeugdige sonder moraal. Soos in die geval van die Khmer Rogue, die Baltiese state onder Stalin, die Rooi Chinese en die “Comrades” in Soweto in die tagtiger jare is dit die bedoeling dat daar ’n geslag gewetenlose kinders op die wêreld gebring moet word om alle vorme van ordelikheid en goeie funksionering af te breek. Hulle is perfek, want hulle is dom, onderontwikkel, vol hormone en ideale, maar tog gehoorsaam aan hul meesters. Dit mag ook ‘n verklaring bied vir die aangemoedigde massa-emigrasie van Moslems na tradisionele Christelike lande soos in Wes-Europa. Waar die politiek van die dag ons jarelank probeer voorhou het dat sulke vreemdelinge soomloos sal integreer in Europa, kan enigiemand sien dat dit nie sal gebeur nie.

Europa het uiteindelik wakker geskrik, maar nou is dit al eintlik te laat. Die skade is gedoen, en die demografiese skuiwe die komende tyd sal sorg vir die res. Die Islamitiese jeug in Europa is die moderne variant van Lenin se “beste rewolusionêre”.

Maar goed, voordat iemand my van rassisme beskuldig wil ek net gou uitwys dat hierdie tendens ook vanuit die Amerikaanse rioolmedia aan wit kinders opgedis word. In al hierdie TV-programme soos Teen Mom, Jersey en Geordie Shore sien ons bykans net wit gesigte. Is dit toevallig?

Om maar te swyg oor die jong vrou, Emily Letts, wat opslae gemaak het toe sy enkele maande gelede haar aborsieprosedure op youtube gesit het. In hierdie film kan ons sien hoe sy al optimisties, singend en glimlaggend op die operasietafel hierdie prosedure ondergaan en opgelug was toe dit eenmaal afgerond was, so asof sy van ‘n tumor verlos was. Sy het selfs die sonar as aandenking bewaar. Die gedagte dat sy ‘n lewe vernietig het, kom glad nie by haar op nie. Haar hele houding is dat hierdie ‘n terloopse kleinigheidjie is. Sommige bronne meen dat sy ‘n aktrise is en twyfel dus oor die egtheid van die film, maar dit is nie die punt nie: Die skaamtelose minagting van ‘n menselewe is die beeld wat op ons netvlies agterbly. As hierdie slegs ‘n charade was, is die sieklikheid daarvan nog erger. Onder die dun slenter van feminisme en ‘n vrou se reg tot keuse, steek die onderrok van gewetenloosheid baie ver uit.

Al hierdie gebeurtenisse help om mense geestelik swak en rigtingloos te laat, tot soverre mate dat hulle geen keuse het as om na buite te kyk om te weet wat hulle moet doen nie, en die akademici van die dag gaan soos gewoonlik verder die mite verder aanwakker dat hul pa-dominante, Christelike ingesteldheid die rede is hoekom hulle so is. In werklikheid het hierdie tradisionele instellings juis ontstaan om sulke abjekte toestande te voorkom.

‘n Mens wonder net hoe lank hierdie ellende gaan aanhou totdat mense hierteen in opstand gaan kom.

Dalk kan die Chinese ons nog iets leer: Hulle is massaal besig om tot Christendom te bekeer, weg van die ellende wat kommunisme veroorsaak het. Selfs belangrike partylede begin van hul ou leerskool af te stap en die Christelike geloof te aanvaar, waarskynlik omdat Christendom die beste geloof is wat inskakel by industrialisering en moderne kapitalisme. Die voorspelling is dat oor vyftig jaar sal China die nuwe Christelike moontheid in die wêreld word terwyl Europa stagneer onder Islamitiese wetgewings.

Wie weet, dalk kan ons in ‘n vreemde wending hoop dat die Chinese ons eendag sal verlos van die gemors waarin ons verkeer, aangesien dit lyk asof die wit volkere nie meer hulself uit hul moeras kan trek nie.

Die tyd sal dit leer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.