Potchefstroom-geval is nie ebola nie, sê departement

Deel op

Die Nasionale Departement van Gesondheid het berigte ontken dat ‘n ebola-geval in Suid-Afrika aangemeld is.

Die woordvoerder van die departement, Joe Maila sê ‘n 72-jarige man met ‘n hoë koors is in die hospitaal opgeneem.

Volgens mediaberigte is die pasiënt in die Potchefstroom hospitaal in Noordwes opgeneem in isolasie.

Hy is glo slegs as voorkomingsmaatreël in afsondering geplaas.

Maila sê dit is algemene praktyk om ‘n pasiënt in isolasie te plaas as ‘n hoë koors voorkom en is nié ‘n aanduiding van ebola nie.

Volgens Maila het die pasiënt nie ‘n buitelandse besoek onderneem nie.

Intussen het die Spaanse verpleegster wat met die ebolavirus besmet is, aan ‘n koerant gesê sy het die korrekte prosedures gevolg terwyl sy pasiënte met die siekte behandel het.

Sy sê sy het geen benul hoe sy kon aangesteek het nie. Nog vier mense is in die hospitaal opgeneem vir waarneming nadat hulle met die verpleegster in aanraking was.

Kritici sê Spanje se ebola-protokol laat veel te wense oor. Die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, het egter die land tot kalmte gemaan.

Die Amerikaanse owerheid sê mense wat in die land opdaag van dele van Afrika wat die ergste geraak word deur ebola, sal nie sondermeer die land mag binnekom nie.

Passasiers van Liberië, Sierra Leone en Guinee se temperatuur sal geneem word en hulle sal by vyf van die besigste internasionale lughawens eers ondervra word.

Die Liberiese man wat die eerste ebolapasiënt was wat in Amerika gediagnoseer is, is dood.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, het gevra vir ongeëwenaarde internasionale ingryping.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.