Mantashe klim in teen buitelandse mynbelange

Deel op

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het uitvoerende beamptes in die mynsektor daarvan beskuldig dat hulle negatiewe sienings oor Suid-Afrika aanwakker.

Daar is ‘n gebrek aan vertroue tussen die partye in die mynbedryf wat aangespreek moet word, het Mantashe gister gesê.

Mantashe het aan afgevaardigdes by die Johannesburgse Indaba gesê dit gebeur omdat daar nie meer mynmaatskappye in Suid-Afrika in plaaslike besit is nie.

Hy het gesê om saam te werk is nie om na die belange van die bedryf ten koste van die werkers en die mynbou-gemeenskappe te kyk nie.

“As ons gaan praat oor wat ‘n vennootskap moet wees, moet dit gaan oor kompromieë wat aangegaan kan word om sekere partye te akkommodeer,” het Mantashe gesê.

Hy het gewaarsku dat die regering nie ‘n “nagwag” vir kapitaal is nie. ‘n Regering moet omsien na wat die samelewing nodig het en kyk na die belange van die gemeenskap.

Mantashe het gesê die ANC is nie die voorhoede van die werkersklas nie, maar die voorpunt van die samelewing en dit is nodig om al die sektore van die gemeenskap te mobiliseer, veral in die ondersteuning van die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Die NDP is nie beleid nie, maar ‘n plan wat sal verander en aangepas word as dit geïmplementeer is, het hy gesê.

“Mynbou skep miljardêrs, maar mense rondom die myne is onderhewig aan die uiterste armoede, wat vertaal in wrok.

“Dit is wanneer anargie en verwoesting algemeen word. Ons moet saamwerk om dit te verander.

“So lank as wat myne spookdorpe agterlaat, moet ons besef dat daar ‘n wrokkigheid heers en daar gaan ‘n opstand teen die bedryf wees,” het Mantashe gesê.

Die minister van Minerale Hulpbronne, Ngoako Ramatlhodi het by dieselfde geleentheid gesê die regering kan van sy lisensievereistes verslap om beleggers in olie- en gasontginning te lok.

Hy het by die Johannesburg Indaba oor Mynbou gesê Suid-Afrika loop die risiko om sulke beleggings te verloor as hy nie gehoor gee aan beleggers se voorkeure nie.

Volgens ‘n wetsontwerp oor die ontginning van gas- en olie kry die regering outomaties ‘n 20 persent aandeel in alle nuwe ontginningsprojekte.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.