Boere vind polisiekommissaris se benadering tot plaasmoorde ligsinnig

Deel op

“Iemand moet die Nasionale Kommissaris van Polisie, Riah Phiyega, asseblief help met die vertolking van plaasmoord statistieke.”  So sê TLU SA se Adjunk-President en Voorsitter van die Veiligheidskomitee, mnr. Henry Geldenhuys, na aanleiding van die kommissaris se voorlegging aan die Menseregte Kommissie (MRK) waarin sy meld dat plaasmoorde afneem, en dat daar geen verskil is tussen ’n plaasmoord en ’n ander moord nie.

TLU SA het sy syfers vir plaasmoorde tot en met die einde van September vrygestel.  Daarvolgens blyk dit dat daar vanjaar 53 plaasmoorde plaasgevind het in 210 aanvalle. Dit verteenwoordig ’n skerp styging teenoor 2013, toe daar tot die einde van September 43 plaasmoorde plaasgevind het in 164 aanvalle. “Dit is dus enersyds verstommend dat die Kommissaris kan beweer dat daar ’n afname is in plaasaanvalle en –moorde, en andersyds wys dit op die foutfaktor op die polisie se eie statistiek.  Vermoedelik is ander syfers van hulle dan ook verkeerd,” sê mnr. Geldenhuys. Hierdie ongewenste situasie bring mee dat die SAPD hulle eie syfers openbaar moet maak.  Daar is geen rede anders as om hul eie onvermoë te probeer verdoesel om dit nie bekend te stel op ‘n gereelde basis nie.

“Die MRK-verhoor het al genoeg getuienis aangehoor van gebrekkige polisie-optrede, om welke rede ook al. Waar daar dan nog ‘n beroep op die gemeenskap gedoen word om die polisie by te staan, is hulle strukture nie in plek nie, soos blyk uit die chaotiese toestand rondom polisie reserviste.

“In sekere tradisioneel swart gemeenskappe gebeur dit toenemend dat reg in eie hande geneem word omdat die polisie nie optree nie. Dit sal ’n donker dag wees as daardie soort optrede sou uitkring. Ook die boere raak ongeduldig met die gevoel dat hulle eintlik voëlvry is,” sê mnr. Geldenhuys.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.