Duisende Siriese Koerde het die grens tussen Sirië en Turkye oorgesteek. Tienduisende burgerlikes stroom na Turkye om die aanslag van die Islamitiese Staat te ontvlug.
’n Aanval deur die Islamitiese Staat op Irakse basisse in twee westelike dorpe het gister die lewens van minstens 17 lede van die veiligheidsmagte en 40 jihadi’s geëis.
Die aanvalle het op basisse in Heet en Ramadi plaasgevind.
Twintig IS-aanvallers is in elk van die twee onderskeie aanvalle dood. Teen druktyd het vyf jihadi’s nog skuilgehou in ’n gebou in Heet, maar die aanval op Ramadi is met welslae afgeweer
Honderde Siriese Koerde het ook uit die dorp Kobane naby die Turkse grens gevlug, te midde van aanduidings dat vegters van die Islamitiese Staat besig is om die dorp oor te neem.
Vragmotors het burgerlikes uit die dorp ontruim en ambulanse is gebruik om gewonde soldate te vervoer.
Twee vlae van die Islamitiese Staat wapper aan die oostelike buitewyke van Kobane, drie weke nadat die rebelle die dorp onder beleg geplaas het.
Amerikaanse lugaanvalle op die dorp kon nie die Islamitiese Staat se dryfkrag stuit nie.
Die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-Moon het ISIS se aanslag skerp veroordeel en gesê dit is “barbaars”.