Spertyd vir oproer in Hong Kong kom nader

Te midde van ’n waarskuwing oor “ernstige gevolge vir openbare veiligheid” deur die Hongkongse regering en ’n naderende spertyd om die betogings te staak, het betogergetalle op straat afgeneem, maar is dit onseker of hulle aan die oproep gehoor gegee het of bloot asem skep voor hernude protesaksie.

Op die vasteland het die Kommunistiese Party se mondstuk, die People’s Daily, in ’n hoofartikel gesê dat Hongkong se beeld as beheerste stad reeds deur die agt dag lange protes vernietig is, het AFP berig.

Personeel van die universiteit het by studente gepleit om huiswaarts te keer nadat die beleërde leier, Leung Tsjoen-jing, aangedui het dat die regering vasbeslote is om sosiale orde te herstel. Hy het spesifiek verwys na die staatsdienspersoneel wat toegang tot die sentrale regeringskantore moet verkry om vandag te kan voortgaan om dienste aan die publiek te lewer.

Leung, wat twee jaar gelede met 689 stemme uit slegs 1 200 lede van ’n pro-Beijing-komitee verkies is, het op onheilspellende wyse gewaarsku dat die voortduur van huidige betogings ernstige gevolge vir die openbare veiligheid en sosiale orde mag inhou.

Tienduisende betogers het egter Saterdagaand die grootste byeenkoms nog bygewoon en die etlikes wat Sondag terug op straat was, het aangedui dat hulle geensins van voorneme is om op te gee nie.

“Ons veg vir ons beginsels en universele stemreg,” het studente gesê. “Die regering het nog glad nie op enige van die eise vir burgerlike nominasies gereageer nie, maar eis net dat ons moet onttrek.” Die betogers eis die reg om kandidate vir die volgende leiersverkiesing in 2017 te mag nomineer.

Daarenteen dring die kommunistiese regering van China, wat in 1997 weer soewereiniteit oor Hongkong van Brittanje oorgeneem het, daarop aan dat slegs voorafgoedgekeurde kandidate in die verkiesing mag staan.

Studenteleiers en die regering het aangedui dat hulle bereid is om in gesprek te tree, maar albei dring op sekere voorwaardes aan en intussen het ver­skeie botsings, veral in die digbevolkte Kowloon-distrik, plaasgevind.

Geweld het ook opnuut in die vroeë oggendure Sondag in die Mongkok-distrik opgevlam toe die onlustepolisie knuppels en pepersproei gebruik het om betogers wat hulle van samewerking met bendelede beskuldig het, in toom te hou.

Sedert die oproer verlede Sondag begin het, het 165 beseerdes reeds in hospitale beland en ly plaaslike ondernemings ook erg onder die oproer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.