Namibiese visbedryf in opstand

Deel op

Honderde werkers van vismaatskappye het Vrydag in Walvisbaai aan ’n massa-protesaksie deel­geneem teen wat hulle as die miskenning van hul arbeids- en menseregte beskou, het die Republikein berig.

Dié betoging volg kort op die hakke van ’n soortgelyke protesaksie verlede week toe viswerkers grond van die munisipaliteit van Walvisbaai geëis het sodat hul werkgewers vir hulle woonhuise kan bou.

Vrydag se betoging het onder leiding van die vakbonde vir die visbedryf (NFI) en vissermanne, die FWU, plaasgevind.

Bepalings in die Arbeidswet van 2007 waarin die visbedryf van sekere sleutelbepalings uitgesluit word, veral ten opsigte van diensvoorwaardes en oortydbetaling, is die kern van die viswerkers se hernieude eise aan die regering.

“Dit is hoog tyd dat die Namibiese regering aandag aan ons noodkrete gee, want ons kan nie langer toelaat om deur die kapitalistiese stelsel misbruik te word wat net op maksimum winste ingestel is nie,” lui ’n petisie wat die betogers Vrydag aan die minister van arbeid en maat­skaplike welsyn, me. Doreen Sioka, gestuur het.

Die klagskrif is aan die voorsitter van die konfederasie van visverenigings, mnr. Matti Amukwa, en die plaaslike hoof van die ministerie van arbeid oorhandig.

Volgens die brief aan die minister het daar nog niks gekom van ’n soortgelyke skrywe wat op 14 Augustus deur die vakbonde aan die minister gerig is nie.

“Ons as seelui ly geruime tyd reeds weens ons diensvoorwaardes, wat skokkend is om die minste daarvan te sê, aangesien ons oor baie jare deur ons werkgewers uitgebuit word om net vir ’n vis-kommissie sonder oortyd te werk, sodat ons werkgewers aansienlike winste kan maak,” lui die petisie.

Hulle eis ook dat die minister van arbeid die bepalings van die arbeidswet soos vervat in artikels 15, 16, 17 en 19 sonder verwyl op die visbedryf van toepassing maak. Hulle eis ook dat die Namibiese regering die internasionale konvensie oor seelui bekragtig sodat hierdie werkers se diensvoorwaardes en voordele aan die res van die wêreld gelyk gestel kan word.

Me. Siyoka word in die klagskrif 14 dae tyd gegun om aan hul eise te voldoen.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.