Woolworths dreig boikotters met die hof

Deel op

Die kleinhandelgroep Woolworths het gewaarsku dat hy die BDS-organisasie (Boycott, Divestment and Sanctions) hof toe kan neem omdat betogers en boikotters glo die “veiligheid” van sy personeel en klante “bedreig”.

“Ons werknemers, van alle gelowe en kulture, vertel ons dat hulle toenemend deur die betogings bedreig voel. Daarbenewens berig die gesinne van ons werknemers dat hulle deur BDS beledig en daar op hulle gevloek word.

“Indien dit aanhou, sal ons verdere voorsorgmaatreëls neem, waaronder regsoptrede teen die individue wat daarby betrokke is,” sê die groep se mediawoordvoerder, Babs Dlamini.

Terwyl Afrikaners voorheen vir Woolworths geboikot het weens die groep se “slegs-Engels”-beleid, asook sy streng regstellende-aksie-voorskrifte, verkeer die winkelketting tans in die spervuur vanaf BDS omdat hy met Israel sake doen.

Tans is dit nog onbekend of die BDS-veldtog enige invloed op Woolworths se verkope uitoefen. Me. Dlamini sê: “Ons kliënte ondersteun ons steeds en verkope hou aan styg, van jaar tot jaar.”

Tot en met Junie vanjaar, het Woolworths se Suid-Afrikaanse verkope van klerasie met 10,6% gestyg en dié van voedsel met 14,8%. Maar in die mees onlangse jaarverslag waarsku die uitvoerende hoof, Ian Moir, dat “groei oor die kort termyn gedemp sal wees” in Woolworths se vernaamste markte in Suid-Afrika, Australië en die res van Afrika.
Volgens Dlamini beskik BDS oor die reg om te betoog, maar die groep se werknemers het insgelyks die reg om te werk en klante die reg om inkopies te doen sonder om geïntimideer te word.

Sy sê dat Woolworths nie seker is waarom hy uitgesonder word nie aangesien “meer as 95% van ons voedsel plaaslik aangekoop word en die regering steeds handel met Israel magtig”.

BDS, wat reeds 40 betogings by Woolworths-winkels regoor die land gehou het, waaronder Sandton City in Johannesburg, Gateway in Durban en Cavendish Square in Kaapstad, beplan egter om die druk verder te verhoog tydens die kleinhandelaar se algemene jaarvergadering op 26 November.

Volgens die BDS-aktivis, Mohammed Desai, “moet ons ons veldtog verskerp”.

Hy ontken dat BDS enige personeel of klante geïntimideer het en sou wou sien dat Woolworths sulke gevalle by die polisie aanmeld.

BDS word ook gekritiseer omdat hy Woolworths uitsonder terwyl vele ander maatskappye soos Coca-Cola, McDonalds, Danone, Nestlé en Motorola insgelyks bande met Israel handhaaf.

“Ons weet dat daar ander maatskappye met soortgelyke aktiwiteite bestaan,” sê Desai, maar BDS beskik nie oor die vermoë om almal van hulle op dié stadium aan te pak nie.

“Tans is Woolworths ons teiken. Hulle begaan ‘n ernstige fout deur ons te ignoreer en as ons al daardie kleinhandelaars betrek, gaan ons ons veldtog afwater.”

BDS probeer ook druk op die openbare beleggingskommissaris plaas om sy aandele in Woolworths te verkoop.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.