Absurditeite is ons daaglikse brood

Deel op

In ‘n wêreld waar dit nie juis meer ‘n prioriteit is om sin te maak nie, is absurditeite van aller aard ons daaglikse brood. (Om sin te maak is mos ‘n “cultural construct” en “white male prejudice”). Geen wonder dat die teater van die absurde in “ons” (20ste) eeu sy beslag gekry het nie. Die teater van die absurde neem gewoon sy materiaal uit die daaglikse lewe en watter groter bron van absurditeite is daar nie as juis die daaglikse lewe nie. In wat volg kyk ons na ‘n paar voorbeelde, sommige waarvan selfs amusant kan wees as hulle nie so tragies was nie. (Dis natuurlik juis die kern en wese van die teater van die absurde – lag vir die tragedie van ons bestaan.) Die voorbeelde en dus die paragrawe hou nie juis met mekaar verband nie en is eintlik meer op die geaardheid van ‘n lys. Hulle het natuurlik dít in gemeen dat hulle almal, in groter of kleiner mate, met absurditeite te make het.

In ‘n absurde samelewing sit die absurditeite bont en kleurvol aan elke boom, net ryp vir pluk. Wat kan meer absurd wees as ‘n universiteit wat dosente en studente keur op grond van rassekwotas? So’n “universiteit” is net nie ‘n universiteit nie. En wat van ‘n” demokrasie” waar mense werk kry of nie werk kry nie op grond van hulle ras en op grond van ‘n situasie wat meer as twintig jaar gelede opgehou het om te bestaan? En ‘n terroris wat ‘n bom in ‘n vermaaklikheidsplek vir jongmense gooi en dan in ‘n senior polisiepos aangestel word? Of ‘n hoof van die SABC wat haas geen kwalifikasie het nie en ‘n Staatspresident nie juis beter nie? En dan is daar die geval van ‘n maansiek voormalige minister van die “Nasionale” Party wat terroriste se voete was in belang van “waarheid” en “ versoening”. Hierdie laasgenoemde behoort egter tot die kategorie van superabsurditeite of totale vreemdhede. Mens kan aanhou en aanhou, die vrugte is volop.

In Amerika is daar ‘n filosofiese skool bekend as die “Death-of- God theologists”. En hulle neem hulleself ernstig op. Erger nog, hulle word deur ander ook ernstig opgeneem!

In Frankryk het ‘n dokter onlangs ‘n geslagstimulant voorgeskryf vir ‘n gevangene wat besig was om tronkstraf uit te dien weens verkragting en dit enkele dae voor sy vrylating! Onnodig om te sê, binne ‘n week na sy vrylating het hy weer verkrag.

In Engeland word gratis vrugbaarheidsbehandeling gegee aan kinderlose onwettige immigrante terwyl hulle wag vir die afhandeling van die formaliteite vir hulle naturalisering – soort van om die tyd om te kry. Intussen moet Britse burgers wat jare reeds op ‘n waglys is vir vrugbaarheidsbehandeling maar net hulle beurt afwag. En hulle is revrede daarmee, ja hulle is tevrede.

‘n Ou tradisie in Frankryk is jaarlike varkfeeste (festivals de porc) wat in dorpies oral in die die land gereël word. Hierdie feeste is baie algemeen in die Kanadese provinsie Quebec waar hulle deur derduisende mense bygewoon word en selfs in Suid-Afrika is varkfeeste nie onbekend nie. Trouens, so ‘n varkfees is ‘n maand gelede op Heidelberg in die Transvaal gehou. (Miskien kan lesers ons ietsie meer omtrent sulke feeste vertel.) Hoe dit ook al sy, onlangs het die burgemeester van ‘n Franse dorpie die klip behoorlik in die mediabos gegooi toe hy die datum vir die volgende varkfees daar aangekondig het. Dit sou dan naamlik die Moslembevolking te na kom. Te duiwel met die gevoelens van Franse wat hulle reg wil uitoefen om bloot ‘n ou tradisie voort te sit. Hulle moet terugstaan vir die gevoelens van Moslems waarvan baie selfs onwettig in die land is.

Koningin Elizabeth (Mrs Windsor soos oom Jaap haar genoem het) is die rykste vrou in Engeland. Sy betaal egter net belasting op ‘n “vrywillige” grondslag op die winste wat sy op haar landgoedere maak. As groot grondbesitter ontvang sy ook reuse- “landbou”-subsidies van die Europese Unie. Sy het geen erfbelasting betaal op die 20-miljoen pond wat sy van ou Mary geërf het nie.

In Frankryk is prostitusie onwettig, maar word wel geduld. (Tipies Frans). Maar nou, soos ons weet, is prostitusie ‘n heel lukratiewe bedrywigheid wat vroeër of later die belangstelling prikkel van, ondermeer, die Ontvanger van Inkomste. (Miskien is dit juis die rede waarom dit geduld word.) Maar hoe nou gemaak, dis dan onwettig en ‘n belastingpligtige kan mos nou nie “prostitusie” as beroep op die belastingvorm invul nie? Wel, die eenvoudige oplossing is dat sy of hy dan maar enige ander bedrywighed as beroep moet invul, net nie “prostituut” nie. Die feit dat die belastingpligtige aan die einde van die vorm plegtig moet sertifiseer dat die inligting verstrek waar en juis is, pla skynbaar niemand nie. Wie is dan ooit besorg oor die waarheid waar harde kontant betrokke is?

Dis waar, daar is baie voorbeelde uit Frankryk, maar dan is dit ook nie verniet dat die teater van die absurde in Frankryk ontstaan het nie!

In die na-oorlogse jare het ‘n menigte lande hulleself as “volksrepublieke” of “demokratiese republieke” voorgedoen. Onder die lande wat hulle so beskryf, of beskryf het, is Die Kongo, Noord-Korea, China, Oos-Duitsland, Pole, Roemenië, Bulgarye, Mosambiek, Angola, Joegoslawië, Albanië, Hongarye, en nog vele meer. Dus: as ek lyk soos ‘n eend, loop soos ‘n eend en kwaak soos ‘n eend, dan is ek ‘n makou.

Op ‘n keer was daar in ons omgewing ‘n man wat geweier het om sy vierwielaangedrewe voertuig te verkoop ten einde sy kinders behoorlik te voed en klee, uit vrees vir wat dit aan sy “image” sal doen. Sy image! Sy “image” as ‘n man wat met ‘n vierwielaangedrewe voertuig ry, was vir hom belangriker as sy “image” van ‘n man wat sy kinders verwaarloos. Ek is nie seker of hierdie ‘n geval is van absurditeit of eerder van obseniteit nie.

In 2000 het die Sosialistiese regering in Frankryk (al weer) gewildheid probeer koop deur wetgewing aan te neem om die werksweek na 35 uur per week te verminder. Vyf-en-dertig uur in stede van die 40 uur per week voorheen – sonder enige vermindering in salaris. Dit het natuurlik reuseproduktiwiteitsverliese vir die Franse nywerheid en die ekonomie beteken, waarvoor die regering moes vergoed as hulle nie wou hê ondernemings moes op ‘n streep bankrot gaan nie. Sedertdien vergoed die Franse regering dus sake-ondernemings teen ‘n bedrag van gemiddeld €22 miljard per jaar. Dus: hulle vergoed sake-ondernemings vir die katastrofiese beleid wat hulle, as regering, in werking gestel het en soos altyd, uit die belastingbetaler se sak.

Maar nog:

Pas is ‘n Amerikaanse toeris in die “Demokratiese Republiek” van Noord-Korea in hegtenis geneem omdat hy sy Bybel in ‘n hotelkamer vergeet het. So ‘n “daad” sou naamlik “onversoenbaar wees met ‘n toeristiese besoek” en word beskou as ‘n “vyandige gebaar teenoor die staat”. Party dinge is so pateties, dis eintlik lagwekkend.

Soos ons almal weet, is ‘n groep Westerse lande tans betrokke by militêre optrede teen ISIS in Irak en Sirië. ISIS staan, soos u weet, vir Islamic State. Maar nou is daar al weer ‘n polities korrekte oorywer om ‘n polities korrekte eufemisme te vind vir Islamic State en het hulle op die woord DAECH gekom. DAECH is die Arabiese woord vir, raai wat, Islamic State.

Die storie van die sg. oorlog teen Islamitiese bewegings grens op sigself ook aan die absurde. Die beste teenwig teen die Islamitiese opmars in Irak en Libië ”en Sirië was die gevestigde leiers daar, Saddam Hoesein, Moammar Gaddafi en Bacher Al Assad, waarvan twee deur Westerse inmenging verwyder is en die derde byna. Maar moenie vergeet nie, voor hulle was dit reeds die geval in Iran waar die Sjah, wat ‘n redelik progressiewe, pro-Westerse en anti-Islamitiese beleid gevolg het, ook deur Westese bemoeienis uit die saal gelig is omdat hy dan nou sg te “outoritêr” was. In die plek van die Sjah het hulle die Ajatolla Khomeini gekry, diktatoriaal, retrogressief, anti-demokraties, anti-Westers en ‘n totale Islamitiese ekstremis. En sy opvolgers is nog steeds aan die bewind en nog steeds dieselfde. Die enigste troos wat uit die situasie te put is: hulle is minstens ‘n doring in die vlees van die Amerikaners.

En dan is daar die semantiese kleitrappery om ‘n gepaste eufemisme te vind vir swartes. In Amerika bv. was swartes voorheen bekend as Negroes as dit nie iets erger was nie. Nou is dit Blacks of “People of colour” of “African Americans”. In Frankryk was dit altyd “Nègres” en later “Noirs”. Nou is hierdie benamings ook nie meer goed genoeg nie en word, selfs in Frankryk, gepraat van “Les Blacks”. Die ironie is dat Negro of Nègre of Noir niks anders is nie as Spaans en Frans vir juis “Black”.

In Suid-Afrika het ons natuurlik ook die paadjie van eufemismes t.o.v. die swartes geloop. Eers was daar die K-woord, later Inboorling, Bantoe, Naturel en nou Swarte. Die K-woord beteken in Arabies “ongelowige”, d.w.s. iemand wat nie aan die Moslemgeloof behoort nie. Niks meer of niks minder nie en die woord is vir die eerste keer in die Engelssprekende wêreld as ‘n naam vir swartmense gebruik, waarvandaan ons dit ook oorgeneem het. Dink maar, die Oos-Kaap was op ‘n stadium bekend as “ British Kaffraria”! Interessant is ook dat Suid-Afrikaanse goudaandele wat op die Londense effektebeurs verhandel word vandag nog bekend staan as “Kaffirs”.

Nog ‘n interessantheid in hierdie konteks van semantiese preutsheid en politiek korrekte absurditeit is die uitdrukking “to call a spade a spade”. Die woord “spade” is in Amerika ‘n pejoratiewe verwysing na Swartes (omtrent enige verwysing na hulle is mettertyd pejoratief) en kom, om vanselfsprekende redes, van die Skoppensboer in kaartspel. Dus, om ‘n spade a spade te noem is politiek onkorrek en daarom praat Amerikaners van “shovel” in stede van “spade”! (Of hulle Skoppensboer ook ‘n “shovel” noem, is onbekend).

‘n Paar dae gelede wou ek so ‘n bietjie meer uitvind oor die woord “anathema”. Ek tik dit toe terstond in op Google en kry onder Wikipedia die verduideliking: “Anathema are a progressive British pop band from Liverpool”. Kyk gerus maar self.

In Washington is daar nou ‘n skool waar kinders niks anders praat nie as Latyn. Die gedagte is dat dit alle leerlinge op ‘n gelyke voet sal plaas en nie een bo die ander bevoordeel nie, aangesien niemand by die huis Latyn praat nie. Die oogmerk is natuurlik om ongelykheid tussen wit en swart uit te wis. Ons sal maar sien hoe dit uitwerk.

‘n Paar jaar gelede was daar (teen hierdie tyd weet ons al waar) ‘n hofsaak waartydens ‘n man vir moord tereggestaan het. In die loop van die saak het die vraag ontstaan of die aangeklaagde geestelik bekwaam was om verhoor te word. Die regter het twee deskundige getuies ontbied wat albei hoofde was van psigiatriese hospitale. Die een psigiater het bevind dat die beskuldigde geestelik normaal was en verhoor kon word en die ander dat hy onbekwaam was. Die regter het die getuienis aanvaar van die psigiater wat bevind het dat die beskuldigde geestelik versteurd was en hom na ‘n psigiatriese inrigting verwys. Hy verwys hom egter na die hospitaal waarvan die hoof die psigiater is wat bevind het dat hy niks makeer nie. Toe hy by die hospitaal opdaag, sertifisieer die psigiater hom as gesond en ontslaan hom. En so is hy dieselfde dag weer op straat.

In die nuus is daar oorsee op die oomblik ‘n storie van ‘n “kunstenares” wat onsigbare kunswerke “skep”. Onsigbare kunswerke! Daar is selfs ‘n museum vir onsigbare kuns in New York bekend as The Museum of Non-Visible Art (MONA) en onsigbare “kunswerke” word vir duisende dollars gekoop en verkoop. Een koerant het soos volg oor ‘n onlangse uitstalling van onsigbare kuns berig:

“The most amusing aspect of the story is the image of snobby art collectors walking through empty studios staring at the blank walls with track lighting illuminating the nothingness on display. Some of the art afficionados actually stop and soak in the lack of art that is not hanging on the wall and tilt their heads in a deeply thoughtful way as if to project their profound understanding of the message sent by the brilliant young artist and her stunning ability not to create anything.”

As ‘n mens ‘n bietjie daaroor nadink is onsigbare kuns eintlik ‘n uitstekende ding. As die meerderheid van moderne en postmoderne kunswerke voortaan maar onsigbaar kon wees. En dink aan die seëning wat dit kon wees as popmusiek ook onhoorbaar word. Salig.

‘n Onlangse beriggie op Praag maak melding daarvan dat die tekenprente Tom and Jerry voortaan vergesel moet wees van ‘n waarskuwing wat lui dat die tekenprent tonele kan bevat wat “rassevoordeel” uitbeeld. Die kennisgewing is snaakser as die tekenprent self!

Ten slotte sou ‘n stuk oor absurditiete onvolledig wees sonder om minstens te verwys na homoseksuele “huwelike”.

Waarheen is ons wêreld op pad!

Soos ek die Openbaringboek verstaan, sal voor die Koninkryk van die Hemele, die koninkryk van Satan eers kom. In Amerika is hy reeds flink in aantog met sy beste wapen in gereedheid: Om die mensdom te laat glo dat absurditeit normaal is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.