Mark Shuttleworth wen saak teen Reserwebank, skenk R250m vir regsfonds

Deel op

Die Suid-Afrikaanse IT-miljardêr, Mark Shuttleworth, wat tans in Engeland woon, het so pas sy hofsaak teen die SA Reserwebank op appèl gewen en gaan die R250 miljoen wat die bank hom skuld, in ‘n fonds vir grondwetlike hofsake stort. Shuttleworth het dié aankondiging gister op sy webblad gemaak.

Die R250 miljoen sal in ‘n trust geplaas word wat deur grondwetlike regslui bedryf sal word. Shuttleworth skryf:

“Ek sal die fondse wat vandag deur die Appèlhof aan my teruggee word, aan ‘n fonds toesê wat deur ervare en afgetrede grondwetlike akademici, regters en advokate bedryf sal word. Hulle sal sake selektief namens diegene wat dit nie self kan doen nie, befonds, waar die teenparty die staat is.”

Shuttleworth moes voorheen die R250m aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank betaal as ‘n 10%-“uitgangsheffing” toe hy probeer het om sy geld uit die land te verskuif.

Toe Shuttleworth aanvanklik die saak in die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria verloor, het hy die saak na die Appèlhof in Bloemfontein geneem. Die hof het gister die vorige bevel van die Hooggeregshof tersyde gestel en die Reserwebank beveel om die skade plus rente te betaal.

Shuttleworth is ‘n Suid-Afrikaans-gebore entrepreneur en IT-miljardêr wat bekend is vir sy welwillende optrede, asook as “ruimtetoeris” wat die Russiese ruimte-agentskap betaal het om hom in ‘n vuurpyl na die ruimte te neem. Hy het ‘n fortuin gemaak deur die maatskappy Thawte Consulting wat ‘n versleutelde metode vir internetbetalings ontwikkel het. Thawte is agterna deur sy vernaamste mededinger, die Amerikaanse reus Verizon, uitgekoop.

Volgens hofstukke wat deur die Hooggeregshof uitgereik is, het Shuttleworth sy maatskappy vir $575 miljoen verkoop en agterna na Man-eiland, ‘n belastingvrye eiland onder Britse beheer, geëmigreer. Met sy emigrasie het die Suid-Afrikaanse valutabeheerstelsel sy bates bevries kragtens die Valutbeheerwet nr. 9 van 1933 en tersaaklike regulasies. Die waarde van sy bevrore leningsrekenings was R4,2 miljard.

Ten einde sy geld los te kry, moes Shuttleworth meer as R250m aan heffings betaal. Hy het dit met beswaar gedoen om sy bevrore bates uit die land te kan neem, maar het aangevoer dat vele aspekte van die huidige valutabeheerstelsel ongrondwetlik is. Vandaar sy aansoek in die Gautengse Hooggeregshof waarin hy die terugbetaling van die heffings eis, asook ‘n breë verklaring dat Suid-Afrikaanse valutabeheermaatreëls ongrondwetlik en onwettig is.

Volgens die opsomming van die uitspraak, het “die Hooggeregshof die terugbetaling geweier maar het sekere bepalings van die Valuta en wisselwet en die Valutabeheermaatreëls gekanselleer. Shuttleworth appelleer teen die weiering van die Hooggeregshof om die terugbetaling te beveel en die Reserwebank, die minister en die president loods ‘n teenappèl teen die bevele wat die maatreëls ongrondwetlik verklaar.”

Die Hooggeregshof het bevind dat die oplê van die 10%-heffing nie met artikels 75 en 77 van die Grondwet strook nie en derhalwe onreëlmatig is, asook dat dit ultra vires is omdat die tesourie nie oor die magte beskik om sulke voorwaardes af te dwing sover dit die uitvoer van kapitaal uit Suid-Afrika betref nie. Daarom het dit die besluit van die Reserwebank om die 10%-heffing in te stel, tersyde gestel.

Maar die Reserwebank, die minister van finansies en die president het in ‘n teenappèl gewen aangesien die Appèlhof bevind het dat daar nie gronde was vir die Hooggeregshof om valutabeheer onreëlmatig te bevind nie.

Hoewel hy dankbaar oor die bevinding is, meen Shuttleworth dat die saak mag voortgaan: “Ons oorweeg dit nou om die saak in die Grondwethof voort te sit, om valutabeheer op grondwetlike gronde te betwis en sodoende te verseker dat die voordeel van vandag se uitspraak na alle Suid-Afrikaners toe deursyfer.”

Volgens Shuttleworth trek die banke voordeel uit valutabeheer, terwyl die ekonomie daardeur geskaad word aangesien produkte duurder is en die armstes daaronder ly. “Dis duurder om oor die Suid-Afrikaanse grense te werk as feitlik op enige ander plek ter wêreld, suiwer vanweë die stelsel van valutabeheer wat ‘n bankkartel skep omdat banke deur die Reserwebank gemagtig word om as sy agente op te tree,” sê hy. “Ons betaal almal ‘n hoë prys vir daardie kartel en verkry geen werklike voordeel deur valutastabiliteit of -veiligheid in ruil vir daardie koste nie.”

Die ondernemer meen dat die saak vir hom ‘n sterk persoonlike element ook inhou, aangesien dit valutabeheer was wat dit vir hom onmoontlik gemaak het om vanuit Suid-Afrika die werk te doen waarin hy die meeste belangstel en wat hom daarom gedwing het om te emigreer.

“Ek gaan voort met dié saak omdat ek hoop dat die volgende geslag Suid-Afrikaners wat klein maar globale maatskappye wil bou, daarby kan baat sonder om die land verlaat. In ons moderne, verbinde wêreld is dit die regte uitkoms vir alle Suid-Afrikaners.”

“Die mandaat van die trust sal tot buite Suid-Afrika se grense strek, ook om die grondwetlike regte van alle Afrika-burgers te verdedig, op grond daarvan dat ons toekoms in Suid-Afrika op elke moontlike manier déél is van daardie groot vasteland.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.