Namibië binnekort stembus toe

Deel op

Namibiërs gaan op 28 November vanjaar stembus toe om vir lede van die Nasionale Vergadering en ’n nuwe president te stem.

Anders as in vorige jare, sal die verkiesings vanjaar net op een dag plaasvind en nie soos in die verlede oor twee dae nie. Die kwessie van twee stemdae was in die verlede ’n steen des aanstoots vir opposisiepartye wat aan­gevoer het dat dit ’n skuiwergat vir verkiesings­kullery geskep het.

Die proklamasie van die verkiesingsdatum sal op 13 Oktober plaasvind wanneer dit deur pres. Hifikepunye Pohamba in die Staatskoerant gepubliseer­ sal word.

Namibiërs wat hulle in die buiteland bevind, kan op 14 November by Namibië se ambassades en hoë kommissariate stem. Dieselfde datum is geoormerk vir seevarende personeel wat dan op Lüderitz en Walvisbaai hul stemme kan uitbring.

Aanvanklik is voorstelle deur hoofsaaklik die Rally for Democracy and Progress (RDP) gemaak dat die verkiesings eerder in Februarie aanstaande jaar moes plaasvind.

Die RDP voer aan die eerste demokratiese verkiesing wat in Namibië gehou is, het in November 1989 plaasgevind. Dit was voor ’n datum vir onafhanklikwording vasgestel is. Destyds moes ’n grondwet geskryf word, nasionale simbole soos die landsvlag en volkslied aanvaar word en voorbereidings vir onafhanklikwording getref word.

Sedertdien is verkiesings tradisioneel altyd in November gehou, met die nuwe Nasionale Vergadering wat eers op 21 Maart die daaropvolgende jaar diens aanvaar en ingesweer word.

Dit bring volgens die RDP mee dat die land vir byna vier maande lamgelê word omdat ampstermyne voortsleep, maar almal weet nuwe NV-lede en ’n nuwe president is reeds verkies.

Die nominasieproses vir presidentskandidate en die indien van party­lyste begin op 13 Oktober en duur tot 29 Oktober.

Op Woensdag 29 Oktober sal die voorsitter van die verkiesingskommissie ’n openbare sitting by die ECN se hoofkantoor in Van Rhijnstraat, Windhoek-Noord, hou waar die nominasies ontvang sal word. Die sitting sal van 09:00 tot 11:00 duur.

Nóg nuus van die verkiesingskommissie is dat tussenverkiesings vir die Endola-kiesafdeling op 7 November sal plaasvind en dié in Windhoek-Wes op 14 November.

Die verkiesingskommissie is ook besig met reëlings vir die akkreditasie van buitelandse en plaaslike verkiesingswaarnemers.

Ná afloop van die bykomende registrasieproses is die voorlopige kiesersregister na al 121 kiesafdelings gestuur waar dit van 1 tot 3 Oktober vir inspeksie en besigtiging beskikbaar sal wees. Die finale kiesersregister sal op 7 November in die Staatskoerant gepubliseer word.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.