Media24 het besluit om van vandag af nie meer sy drie dagblaaie Beeld, Die Burger en Die Volksblad aanlyn beskikbaar te stel nie. Slegs ‘n gekonsolideerde webwerf, Netwerk24, sal voortaan aanlyn gelees kan word. Ook die Sondagkoerant Rapport word daardeur geraak, want as ‘n leser Rapport se URL intik, word ‘n mens insgelyks na Netwerk24 herlei.

Dit lyk asof Suid-Afrika se grootste mediagroep, wat bykans oor ‘n monopolie op Afrikaanse media beskik, hiermee sy aanlynstrategie in trurat gooi, aangesien hy nie te lank gelede nie die Nuus24-blad gesluit het om op sy dagbladhandelsmerke in Afrikaans te konsentreer. Netwerk24 lyk baie na die heropstanding van Nuus24.
Op Twitter het die uitvoerende hoof van Media24, Esmaré Weideman, gesê dat “al die nuus (nou) op een plek” is.
Baie trots op @Netwerk24, nuwe tuiste van @Beeld_Nuus, @Die_Burger , @volksbladnuus en @RapportSA. Al die nuus op een plek! @media24
— Esmaré Weideman (@eweideman) August 20, 2014
Dit kos R99 per maand om op Netwerk24 in te teken, met ‘n gratis opsie wat tot 10 artikels per maand beperk is.
Terwyl die magtige Media24 en Naspersgroep steeds op papier koning kraai, bestaan daar vandag op die internet ‘n aktiewe alternatiewe mediabedryf in Afrikaans, waarvan praag ‘n vername verteenwoordiger is. As aanlyngemeenskapskoerant is praag se inhoud gratis, terwyl lesers wat ons redaksionele beleid ondersteun gevra word om lid van praag te word.