Hoëveldse NG Kerk omhels ‘veelkleurige gemeenskappe’ en ‘diversiteit’

Die Hoëveld-sinode van die NG Kerk het vroeër vandeesmaand tydens sy sitting besluit om die Amerikaanse ideaal van “diversiteit” te omhels.

Die tema van die sinode was “Veelkleurige gemeentes na ’n veelkleurige gemeenskap”.

“Ons het dié tema gekies, want ons erken en omarm diversiteit. Diversiteit is ons sterk punt,” meen dr. Hugo van der Linde van die NG kerk Bonaero Park in Kempton Park. Hy is die nuwe moderator van die sinode.

Uit uitsprake tydens die sinode klink dit asof die NGK se Hoëveldse sinode die Afrikanerlidmaat wil versaak ter wille van wat die kerk se “missionale roeping” genoem is. Daarom wil die kerk ‘n “verskil in verskillende gemeenskappe maak”.

Die moderator, dr. Hugo van der Linde, het voorts gesê: “Ons wil minder praat en meer doen. Ons wil meer doen om grense oor te steek en mense te bereik wat ons nie anders sou bereik het nie.”

Die Hoëveldse sinode is ook die eerste wat tydens sy sitting gesprekke met mense van buite die sinode gereël het.

“Ons het onder andere straatmense, boere, dokters, Zimbabwiërs en selfs ateïste genooi om deel te neem aan ’n gesprek,” sê Van der Linde. “Een persoon is aan elke tafel geplaas. Daar is vrae aan elke tafel bespreek. Ons wou hoor hoe dink hulle, ons wou hulle verstaan.”

Hierdie gesprekke het die “oogklappe” van leraars se oë laat afval.

“Dit was ’n luister-oefening. Dit het aangesluit by ons roeping om meer na gemeenskappe en mense uit te reik.”

Ten slotte sê Van der Linde: “Ons het begin met veelkleurige gemeentes en geëindig met veelkleurige gemeenskappe. Die verskeidenheid maak ons nie bang nie, want in verskeidenheid het God ons lief. Ons as gemeentes moet die Here vra waar ons nou moet uitreik.”

‘n Bekende neomarxistiese teoloog, dr. André Bartlett, tans hoof van die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria, is tot assessor van die sinode verkies.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.