Britte gereed vir lugaanvalle in Irak

Deel op

Die Britse parlementslede stem Vrydag oor hul land se deelname aan lugaanvalle teen die Islamitiese Staat in Irak.

Die debat sal met ‘n toespraak deur premier David Cameron afskop.

Weens die talle video-opnames van sogenaamde “onthoofdings” is dit waarskynlik dat Britse deelname gestem sal word aangesien hoofopposisiepartye sowel as die regering die lugaanvalle steun.

Cameron het gesê dat IS ‘n “boosheid is waarteen die hele wêreld moet saamstaan. En as die doel vryheid, demokrasie en geregtigheid is, moet Brittanje sy rol speel.”

Blykbaar is die Britse vegvliegtuie reeds gereed om te begin met aanvalle op IS, ‘n militêre veldtog wat “jare kan duur”.

Militantes van die Islamitiese Staat (IS) het in die openbaar ’n menseregte-prokureur in die Irakse stad Mosoel tereggestel om saam te val met die Britse stemmery.

Samira Salih al-Nuaimi is op 17 September by haar huis in hegtenis geneem nadat sy na bewering inskrywings op haar Facebook-blad gemaak het waarin sy krities was teenoor die militantes se verwoesting van religieuse geboue in Mosoel.

Haar Facebook-blad is blykbaar sedert haar dood verwyder.

Volgens die VN se bystandsending in Irak is al-Nuaimi in sjaria-hof verhoor. Sy is glo vyf dae lank gemartel voor sy tot ’n openbare teregstelling gevonnis is.

IS het Mosoel, die tweede grootste stad in Irak, in Junie oorgeneem tydens die groep se oorname van groot dele van die noorde en weste van die land.

Intussen het die Amerikaanse Federale Speurdiens – die FBI – gesê hulle het die gemaskerde man geïdentifiseer wat in ‘n video verskyn waarin drie Amerikaanse gyselaars die afgelope weke in Sirië “onthoof” is, maar hulle gaan nie sê wie dit is nie.

Die geloofwaardigheid van die videomateriaal van die “onthoofdings” is steeds onder verdenking.

Die direkteur van die FBI, James Comey, het in Washington gesê hy gaan nie die man met die mes se identiteit bekend maak nie, maar hy weet wat sy nasionaliteit is.

Hy wou nie verdere besonderhede verskaf nie. Comey wou ook nie sê of hulle glo dat die man, wat lid is van die Islamitiese Staat, self die onthoofdings uitgevoer het nie.

Die aanvanklike ondersoekwerk om die man te identifiseer is glo deur die Britte gedoen.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.