Geweld het tussen twee taxiverenigings uitgebreek Donderdag in Marapong naby Ellisras (Lephalale), het die polisie in Limpopo gesê.
Vier mense wat in hegtenis geneem is nadat sewe voertuie, ‘n huis en drie spaza-winkels in Limpopo aan die brand gesteek is, sal vandag in die Lephalale landdroshof verskyn.
Die vier is glo deel van ‘n groep taxi-operateurs wat hulself tot geweld gewend het.
“Ons het vanoggend ’n oproep van ’n gemeenskapslid ontvang wat gesê het iemand word in Marapong aangerand,” het ao. Frans Mokoena, polisiewoordvoerder, Donderdag gesê.
“Die gevegte was tussen die plaaslike taxiverening en die nuut gevormde meter-taxigroep.”
Twee mense uit elk van die organisasies is in hegtenis geneem, het Mokoena gesê.
’n Beseerde taxibestuurder is in ’n hospitaal opgeneem nadat sy voertuig met klippe bestook is.
Die polisie het meter-taxi operateurs beveel om hul ritte tussen Lephalale en die Marapong township, sonder die nodige permitte, te staak.
Vroeër het ‘n woordvoerder van die departement van Vervoer, Veiligheid en Skakeling, Mafenya Lediga gesê hulle gaan met die betrokkenes praat om die kwessie van bedryfspermitte op te los.