Akteur Hennie Smit na hoësorgeenheid

Deel op

Die akteur Hennie Smit is na die hoësorgeenheid van die Wilgers Hospitaal geskuif nadat ‘n gebreekte rib deur sy long gesteek het.

Charl Senekal, bemarkingsbestuurder van Lefra Produksies, het Donderdag gesê die skade aan Smit long het ernstige komplikasies tot gevolg gehad.

Senekal sê die hospitaal het Smit se toestand as ernstig, maar stabiel beskryf.

Smit was twee weke gelede in die Faerie Glen Hospitaal opgeneem vir dubbele longontsteking, asma en ‘n fraktuur aan sy ribbes wat hy weens die hoesery opgedoen het.

Hy moes gevolglik van sy optredes as Dêda in Lefra Produksies se My Boetie se Sussie se Ou in die Staatsteater misloop en regisseur Frans Swart moes inderhaas inspring om die self dié rol te vertolk.

Swart, wat ook die hoof uitvoerende beampte van Lefra Produksies is, vermoed hy sal dalk nog die rol van Dêda vir die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees van 7-11 Oktober moet speel.

“Maar ons het nog ‘n hele paar speelvakke en Dêda wag vir Hennie – sodra hy uit die hospitaal is.”Hy sê dié rol is net wat Hennie nodig gehad het nadat Egoli geëindig het en ‘n paar “moeilike jare” daarna gevolg het.

Smit het ‘Bertie’ in dié gewilde sepiereeks gespeel.

“Hy het werklik geblom tydens die produksie die afgelope sewe maande,” sê Swart.

“Smit is ‘n ongelooflike akteur en die rol van Dêda pas hom soos ‘n handskoen. Hy het menige aande staande toejuigings van die gehore ontvang.”

Smit se jarelange vriendin en sangeres, Arina de Witt, staan Hennie by in die hospitaal.

“Ons het onlangs ‘n nuwe toneelstuk, As Drome Vlerke Kry, saam geskryf en beplan ook om dit saam op te voer,” sê De Witt.
“Hennie was so opgewonde oor die produksie en ons glo hy sal volkome herstel.”

Senekal sê Hennie is volksbesit en aanhangers wil hom graag besoek. “Dit is egter nie nou moontlik nie aangesien hy in die hoësorgeenheid behandel word,” sê hy.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.