Blade Nzimande blaf dat die PUK moet verengels en verswart

Deel op

Blade Nzimande het gister aan die media in Johannesburg gesê dat daar “‘n kultuur van vrees” op die PUK-kampus heers, asook dat swart en Engelse studente nie daar welkom voel nie, want “as jy nie wit en Afrikaans is nie, gaan dit vir jou soos ’n vreemde plek voel”.

Die minister van hoër onderwys het die PUK insgelyks vanweë sy Afrikaanse aard as ‘n “apartheidsenklawe” uitgekryt en verder gesê: “Dít wat op die Potchefstroom-kampus gebeur het, is tragies en net soos om ons Grondwet te vertrap.”

Blade Nzimande
Blade Nzimande, wat oor die PUK gaan beskik

Gister se mediakonferensie volg op die veldtog wat daar sedert die begin van die jaar teen die PUK gevoer word, deur die Johannesburgse dagblad Beeld, maar ook deur dr. Leon Wessels, ‘n voormalige kommissaris van die Menseregtekommissie wat ANC-waardes beliggaam. Wessels is as voorsitter van ‘n sogenaamde “onafhanklike taakspan” aangestel wat die Potchefstroomkampus moes “ondersoek” ná die negatiewe beriggewing deur Beeld oor “Nazi-praktyke” op die kampus. Die universiteitsraad wou egter nie amptelik die verslag aanvaar nie.

In reaksie op die Wessels-verslag het Blade Nzimande gister gesê:

“Ek verwelkom die taakspan se waarnemings en voorstelle, maar moet sê dat ek ’n ongemaklike gevoel het omdat die taakspan met net ’n maand se ondersoekwerk net aan die puntjie van die ysberg geraak het. Ondanks die feit dat hulle verhinder is om alle relevante feite en verslae te ondersoek, het hulle wel daarin geslaag om baie waardevolle aanbevelings te doen.”

Nzimande het gekla dat daar oor vyf jaar vier verslae oor transformasie en ontgroening opgestel is, sonder dat daar met suiweringsveldtogte teen studente en dosente begin is.

Hy het voorts verklaar:

“Die feit dat daar in ’n sta­dium drie ondersoeke was en die voormalige visekanselier (dr. Theuns Eloff) dit probeer afmaak het as onskuldige studentepret, wys dat ek die regte ding gedoen het deur in te gryp.

“Daar is duidelik diep gewortelde praktyke by die universiteit wat met sy oriëntasieprogramme vir eerstejaars op die skending van hul menseregte neerkom.”

“Die bestuur kan nie onkunde aanvoer nie. Daar heers ’n kultuur van vrees op hierdie kampus. Mense is te bang om te praat uit vrees vir viktimisasie.

“Transformasie is ’n tweerigtingstraat. Dit help nie ons gebruik Madiba se naam, maar leef nie die beginsels van transformasie uit nie.”

Volgens Nzimande kan sy departement “nie toelaat dat ’n universiteit die Grondwet vertrap nie” en “het ons universiteite ’n plig om die leiding te neem in die ontwikkeling van ’n menseregtekultuur”.

Hoewel die Grondwet ook voorsiening maak vir akademiese vryheid en universitêre outonomie, lyk dit asof Blade Nzimande nou regstreeks beheer van die PUK geneem het, want hy het die universiteit beveel om driemaandeliks aan hom verslag te doen oor sy vordering met “transformasie” wat binne die huidige verband net “suiwering van blankes en Afrikaans” kan beteken.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.