IMF dreig Zim oor skuld

Deel op

Die Internasionale Monetêre Fonds het Zimbabwe dringend versoek om samesprekings met sy krediteure te voer om sy voorslepende skuldagterstand te probeer uitwis.

Die IMF is in die land om toe te sien dat die land sy ooreengekome ekonomiese hervormings uitgevoer het wat kan lei tot konsessies vir die terugbetaling van skuld.

In 2012 het die IMF egter Guinee se skuld afgeskryf. Harry Snoek, die IMF-verteenwoordiger het dié stap toe verwelkom vir die land wat besonder ryk is aan bauxite, goud, diamante en ystererts.

Die salarisrekening vir Zimbabwe se staatsamptenare is ‘n verleentheid en onvolhoubaar, het die Zimbabwiese minister van finansies Patrick Chinamasa toegegee na kritiek van die IMF.

Meer as ‘n driekwart van Zimbabwe se inkomste gaan aan die betaling van die salarisse van die meer as 250.000 staatsamptenare.

Die land se skuld het tot sowat R70 miljard toegeneem, wat dit moeilik maak om nuwe krediet te bekom.

Die yslike salarisrekening beteken dat Zimbabwe nie skuld kan afbetaal of die openbare infrastruktuur soos paaie, skole en hospitale kan onderhou nie.

“Ek is skaam dat ons salarisrekening ongeveer 76% is van die inkomste wat ons ontvang. Dit is nie goed nie, dit is nie volhoubaar nie,” het Patrick Chinamasa gesê aan sakeleiers.

President Robert Mugabe het salarisse vir staatsamptenare met 14% verhoog na beloftes wat hy gemaak het in die aanloop tot verlede jaar se verkiesing.

Die minister het egter daarop gewys dat die IFC (International Finance Corporation) se lenings aan die privaatsektor wel terugbetaal word.

“Die privaatsektor is nie onder sanksies geplaas nie, so ek verstaan ​​nie hoekom die IFC (deel van die Wêreldbank) nie kan help nie. Is dit ‘n strafmaatreël?

“Die IMF se verhouding met Zimbabwe moet een van geregtelike bestuurder en skuldeiser wees, nie dié van ‘n likwidateur nie. Die IMF moet nie toekyk hoe Zimbabwe ineenstort nie.”

Dominique Fanezzi het gesê die IMF is nie begaan oor die privaatsektor nie.

“Die IMF kan nie ondersteuning bied aan die privaatsektor nie. Ons leen aan regerings en sentrale banke. Ons is nie ‘n bank nie,” het hy gesê.

Fanezzi het dit duidelik gestel dat Zimbabwe se skuld aan lande in Europa, Amerika en China, nie afgeskryf sal word nie.

Industriële lande het egter in 2005 ‘n groot deel van Irak se skuld aan hulle verskuldig gekanselleer op aandrang van die VSA.

Irak het $40 miljard aan die Parys-klub, ‘n informele groepering van hoofsaaklik Westerse lande, geskuld. Die som het sowat ‘n derde van Irak se buitelandse skuld verteenwoordig. Die Parys-klub het uiteindelik 80 persent van die skuld aan al sy lede afgeskyf.

Volgens die Amerikaners moes Irak “gehelp” word want die skuld is “onder ‘n wrede diktatuur” aangegaan en “Irak verdien ‘n nuwe begin”.

In reaksie hierop het die Wêreldbank se President Wolfensohn toegegee dat skuldverligting vir Irak kan lei tot skuldverligting vir talle ander arm lande.

Prof Jeffrey Sachs van Columbia Universiteit, het vroeër gesê dit is “gewetenloos” vir die Parys-klub om groot bedrae skuld vir Irak af te skryf sonder die uitbreiding van die dieselfde verligting aan lande soos Nigerië, ‘n “ontluikende demokrasie” met baie skuld.

Baie van Nigerië se skuld is ook “onder diktatorskappe” aangegaan, terwyl ‘n groot deel van die bevolking in armoede leef.

Sachs het Afrika-lande aangemoedig om te weier om hul skuld af te betaal, as skuldeiserlande nie die skuld wil kanselleer nie. Sachs, is ‘n spesiale raadgewer van die VN se sekretaris-generaal oor Milleniumdoelwitte.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.