Polisie se vuurwapenregister in chaotiese toestand

Deel op

Terwyl die jongste misdaadstatistieke toon dat veral geweldmisdade “onaanvaarbaar” hoog is, veroorsaak algehele chaos by die sentrale vuurwapenregister (SVR) dat die polisie bykans geen beheer oor vuurwapens het nie.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisiesake was gister geskok toe hul besoek aan die sentrale vuurwapenregister (SVR) in Pretoria aflê. Stapels onverwerkte lêers in die gange, op tafels en kantoorvloere het hulle begroet, ‘n toneel wat deur sommige LP’s as ‘n “brandgevaar” beskryf is.

Dít terwyl lede van die publiek desperaat is om vuurwapenlisensies te bekom en die polisie se eie onlangse misdaadstatistieke ‘n onrusbarende styging in moord, gewapende roof en motorkapings toon. Oor die afgelope jaar is daar 17 068 mense in die land vermoor, een van die hoogste syfers ter wêreld en selfs hoër as ander lande met veel groter bevolkings as Suid-Afrika.

‘Geen rekord van 100 000’e wapens uit tuislande’

‘n Verdere onthulling is deur generaalmajoor Bransby Luke, die waarnemende bevelvoerder van die sentrale vuurwapenregister (SVR), gemaak toe hy bevestig het dat honderdduisende wapens wat in die voormalige tuislande gelisensieer is, nooit na die sentrale register oorgedra is nie. Luke het gesê: “Ons weet nie wat van daardie wapens geword het nie.”

Die rede waarom die SVR tans oor ‘n “waarnemende hoof” beskik, is omdat die vorige hoof van dié eenheid “weens korrupsie in die pad gesteek is”.

‘Stank van urine en ontlasting’

Van die werknemers by die eenheid het by lede van die portefeuljekomitee gekla oor die stank van urine en ontlasting as gevolg van plakkers buite die gebou. Hulle word insgelyks deur rotte en voëlluise lastig geval.

Nog ‘n feit wat onder die portefeuljekomitee se aandag gekom het, is die 39 000 polisiemanne wat self oor geen bevoegdheidsertifikate beskik om ‘n vuurwapen te hanteer nie, maar tog met vuurwapens uitgereik word.

Die voorsitter van die portefeuljekomitee vir polisie, Francois Beukman van die ANC, meen daar bestaan ‘n sterk verband tussen geweldsmisdade en vuurwapens, daarom moet die toestand reggeruk word.

“Ons kan nie ’n situasie toelaat waar misdaad met wettige en onwettige vuurwapens buite beheer raak nie,” het Beukman aan die media gesê. “Daar moet ná 20 jaar van demokrasie van vuurwapens uit die voormalige tuislande verantwoording gedoen kan word. Ons moet weet wie almal vuurwapens in die land besit.”

Terwyl die polisie steeds oor ‘n rekordaantal personneellede beskik, is daar glo ‘n “personeeltekort” wat die verwerking van vuurwapenaansoeke betref. Blykbaar is polisiebeamptes by polisiekantore wat die aansoeke moet bestuur ook nie “behoorlik opgelei” nie.

Baie duisende lisensie-aansoeke raak sommer net verlore omdat daar nie behoorlike rekord gehou word nie. Met die huidige stelsel kan dieselfde vuurwapen ook in in al nege provinsies gelisensieer word en een persoon kan tot 120 vuurwapens besit.

Die portefeuljekomitee het van die polisiekommissaris, genl. Riah Phiyega, vereis dat daar teen 7 Oktober ‘n herstelplan aan die parlement voorgelê word. So ‘n herstelplan kan egter nog jare duur aangesien korrupsie en ‘n gebrek aan rekenaarvaardighede die polisie kortwiek.

Die DA-lid van die komitee, Dianne Kohler Barnard, het die gebou wat die eenheid huisves, as “absoluut walglik” getipeer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.