Suid-Afrika se tekort op sy lopende rekening maak beleggers bekommerd oor die invloei van buitelandse kapitaal.
China, Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, se ekonomiese verlangsaming sal Suid-Afrika negatief beïnvloed, sê ekonomiese ontleders.
Die rand het sy laagste vlak in sewe maande teen die Amerikaanse dollar bereik as gevolg van die swak ekonomiese groei in een van die wêreld se grootste ekonomieë.
Die swak groei in China plaas druk op die geldeenhede van ontwikkelende lande. Die rand het Maandag teruggesak tot R11.18 teenoor die dollar.
Die rand sukkel reeds geruime tyd as gevolg van Suid-Afrika se swak ekonomiese grondbeginsels waar miljarde verkwis word om ‘n bevolkingsontploffing te skep van onderpresteerders.
Die Minister van Energie, Tina Joemat-Petterson, het intussen gesê kernkrag sal ‘n belangrike faktor vir die land se ekonomiese groei wees.
Sy het op die aankondiging van die Russiese atoom-energie-agentskap Rosatom gereageer wat agt kernreaktors aan Suid-Afrika gaan voorsien.
Die direkteur-generaal van Rosatom, Sergei Kirienko, sê die strategiese ooreenkoms van meer as R500 miljard tussen Suid-Afrika en Rusland sal duisende plaaslike werksgeleenthede skep.
Die ooreenkoms wat in die Oostenrykse hoofstad, Wene onderteken is, maak ook voorsiening vir Rusland om te help met die opbou van infrastruktuur in Suid-Afrika.
Kirienko sê dit sal ‘n inspuiting van bykans `n R100 miljard vir die plaaslike ekonomie beteken.