Turkse gyselaars van ISIS bevry

Deel op

Die Turkse owerheid het bekend gemaak 49 gyselaars is uit die kloue van een van die wêreld se mees gevreesde militante groepe bevry sonder dat ’n enkele skoot gevuur, losprys betaal of ruilooreenkoms aangegaan is.

Pres. Tayyip Erdogan van Turkye het die vrylating van die gyselaars as ’n geheime reddingsoperasie beskryf, berig AP.

Die gyselaars, insluitende diplomatieke personeel, soldate van die spesiale magte en kinders, is op 11 Junie by die Turkse konsulaat in Mosoel in Irak deur militante van die Islamitiese Staat as gyselaars geneem.

Ahmet Davutoglu, die eerste minister van Turkye, sê hulle is vrygelaat ná ’n “beplande operasie” deur die land se intelligensiediens.

“Ek bedank die eerste minister en sy kollegas vir die vooraf beplanning en goed berekende en geheime operasie wat deur die nag uitgevoer is,” het Erodgan gesê.

Kenners het egter die weergawe van die Turkse regering in twyfel getrek toe die goedgeklede mans en vroue, wat meer as drie maande gelede deur lede van die gevreesde Islamitiese Staat (ISIS) as gyselaars geneem is, Saterdag hul families by die lughawe in die Turkse hoofstad omhels het.

“Die amptelike verduideliking klink te goed om waar te wees,” het Sinan Ulgen, ’n voormalige Turkse diplomaat wat aan die hoof staan van die Sentrum vir Ekonomiese en Buitelandse Beleidstudies in Istanboel, gesê. “Daar is ’n paar baie geldige vrae oor hoe dit gebeur het, wat nog onbeantwoord is.”

Die gyselaars, onder wie twee jong kinders, is uit die Turkse konsulaat in die noord-Irakese stad Mosoel ontvoer toe die stad op 11 Junie oorgeneem is. Hoe hulle van Mosoel na Turkye gereis het en hoekom die IS so ’n waardevolle bedingingsvoordeel sonder meer prysgegee het, bly onduidelik.

“Ek dink dit is redelik om te sê die volle storie is ons nie vertel nie,” het Aaron Stein van die Instituut vir Verenigde Koninklike Dienste in Londen gesê.

Hy is ’n kenner van die Turkse veiligheidsbeleid.

Een van die bevryde gyselaars het aan die staatsbeheerde Anadolou-nuusagentskap gesê een van die militante het ’n vuurwapen teen die konsul-­generaal, Ozturk Yilmaz, se kop gehou en hom gedwing om ’n verklaring te maak.

Yilmaz het op sy beurt laat Saterdag aan NTV-televisie gesê hy en die ander gyselaars is gedwing om na video’s te kyk wat wys hoe ander ontvoerdes onthoof word.

“Hulle hou daarvan om hul gyselaars te demoraliseer,” het Yilmaz gesê en bygevoeg hoewel die groep met geweld gedreig is, die ISIS hulle nie fisieke skade aangedoen het nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.