DRK, Lesotho bly SAOG-kopseer

Deel op

‘n Buitengewone beraad van die sogenaamde dubbele troika van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), met sowel die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) as Tanzanië teenwoordig, is verlede week in Pretoria gehou om die voortslepende krisisse in die twee lande te bespreek.

Die beraad is deur Suid-Afrika se president Jacob Zuma, gelei wat ook die voorsitter van die SAOG-komitee vir politiek, verdediging en sekuriteit is.

Leiers van die koalisie-regering in Lesotho is gemaan om by hul verbintenisse tot die herstel van grondwetlike normaliteit in die konink­ryk te bly.

Daar is ook besluit om die algemene verkiesings in Lesotho wat vir 2017 beplan is, te vervroeg.

Die leiers van die koalisie-regering is aangemoedig om saam te werk ten einde die Windhoek- en Pretoria-verklarings as ’n saak van dringendheid te implementeer.

Dit sluit onder meer die terugroep en herstel van die parlement in, wat vroeër eensydig deur die eerste minister opgeskort is.

Die land se leiers is ook aangemoedig om so gou as moontlik op die datums vir ’n nuwe verkiesing ooreen te kom.

Suid-Afrika se adjunk-­president, Cyril Ramaphosa, met die steun van ’n span deskundiges uit troika-lidlande, is die opdrag gegee om as SAOG-fasiliteerder die kwessie in Lesotho te beredder, ten einde politieke stabiliteit en veiligheid in die kort en lang termyn te herstel.

Die noodsaaklikheid om die volle SAOG politieke, verdediging- en veiligheidwaarnemersendings vir ’n tydperk van drie maande in Lesotho te ontplooi, is ook benadruk.

Ná die drie maande sal die veiligheidsituasie in die land en die politieke stabiliteit deur die lidlande van die troika hersien word.

Wat betref die DRK, is die internasionale gemeenskap versoek om druk uit te oefen op maatskappye wat handel dryf in onwettige, gemynde minerale uit die DRK en onmiddellik ’n einde hieraan te maak. Lande wat as deurgang- roetes vir die onwettig gemynde minerale dien, is versoek om hul verbintenis tot die raamwerk vir vrede, veiligheid en samewerking in die DRK en Groot Mere-streek te eerbiedig en gestand te doen.

SAOG het sy posisie herbevestig ten opsigte van die rol van agent­skappe van die Verenigde Nasies om logistieke steun en veiligheid te bied aan gewapende magte wat vrywillig hul wapens neergelê het en in die Kisangani-deurgangskamp gehuisves word.

’n Senior afvaardiging, bestaande uit amptenare van die troika, sal ook eersdaags die DRK besoek om met die leierskap van die FDLR-rebellegroep in gesprek te tree.

Die rebelle sal gewys word op die onafwendbaarheid van militêre optrede teen hulle, indien hulle nie by vorige ooreenkomste hou en vrywillig ontwapen nie.

Die internasionale gemeenskap en die Verenigde Nasies en sy agentskappe is versoek om bystand te verleen met die hervestiging van FDLR-lede wat vrywillig hul wapens neergelê het, maar nie bereid is of toegelaat sal word om na Rwanda te repatrieer nie.

Die buitengewone vergadering is ook bygewoon deur pres. Robert Mugabe van Zimbabwe, lt.genl. Seretse Khama Ian Khama, die president van Botswana, premier Thomas Thabane van Lesotho, visepresident Saulos Chilima van Malawi, min. Raymond Tshibanda van die DRK en min. Bernard Membe van Tanzanië.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.