Poskantoorstaking lê die land lam

Deel op

Die SA Poskantoor het op 17 September aangekondig dat pos in Gauteng en die Wes-Kaap geraak word deur ‘n “onbeskermde staking” by sorteersentra in Kaapstad, Pretoria en die groter Johannesburggebied. Terwyl pos in die Wes-Kaap met slegs enkele dae vertraag word, word dit in Gauteng met “etlike weke” vertraag.

By verskeie poskantore in Johannesburg was posbusse gister leeg, wat aandui dat geen pos afgelewer word nie.

Volgens die Poskantoor is “die vertraging in Gauteng die gevolg van ‘n vorige staking waarvan die produksieomgewing nog nie herstel het nie”.

Redes wat vir die staking aangevoer word, het te make met die aanstelling van tydelike poswerkers in permanente poste. Die SA Poskantoor is besig om tydelike poste wat net op sekere tye van die jaar benodig word in permanente poste te omskep. Dit word egter nie vinnig genoeg na die smaak van die poskantoorwerkers gedoen nie.

Intussen daag werknemers by poskantore in winkelsentra en elders steeds vir werk op, hoewel die pos nie meer gesorteer word nie. Sommige poskantore in Kaapstad en in Johannesburg is egter gesluit ná voorvalle van intimidasie en dreigemente van geweld. Die Poskantoor se oproepsentrum is gesluit en klante word versoek om ‘n epos aan socialmedia@postoffice.co.za te stuur as hulle navraag oor positems wil doen. Daarvoor word ‘n opspoornommer benodig.

Die posdiens in ander provinsies, behalwe Gauteng en die Wes-Kaap, funksioneer normaalweg.E-handelaars is egter woedend aangesien hulle sakebedrywighede heeltemal lam gelê word.Volgens Mlu Mathonsi, groepbedryfshoof van die Poskantoor, “hanteer die Poskantoor landwyd vyf miljoen posstukke op ‘n gewone dag. Met ‘n vertraging van net een dag word ‘n enorme agterstand opgebou.”

Maar die staking duur nou al op sommige plekke ‘n maand lank, wat kan beteken dat tot 150 miljoen posstukke iewers in die stelsel vashaak.

Mathonsi sê: “Met e-handel word al hoe meer pakkies deur die poskantoor gehanteer.”

In ander lande het poskantore hul sakemodel verander om meer pakkies as ander posstukke soos briewe te hanteer, ten einde e-handelaars tegemoet te kom. Sowel Canada Post in Kanada as Royal Post in Brittanje het tot dié stap oorgegaan.

E-handelkliënte is gesteld op vinnige en betroubare aflewerings.

Die Poskantoorstaking kan dus op die duur veroorsaak dat die publiek vertroue in e-handel in Suid-Afrika verloor.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.