Fotoverhaal: Op soek na Jacques Derrida

Deel op

1. Le programme
Dít wat hier volg, is nie gegrond op die werklikheid nie. Dit is geen ironiese, wysneusige stelling nie, maar bloot ’n apologie. Ook moet ek om verskoning vra vir die gebruik, vir die misbruik, van Monsieur Derrida se naam in die bogaande titel. Dit kom neer op ’n skending van kopiereg, om ’n prestige-volle Franse eienaam (onwettiglik) te verleen aan, nou ja, ’n plaaslik-gefabriseerde produk van twyfelagtige gehalte. Waarskynlik klink die titel presieus, selfs pretensieus, wat dalk ’n poging tot Afrikaanse letterkunde mag veronderstel — die prof se Hush Puppies sit nog lekker — maar die pretensie, indien enige, is nie dáárin geleë nie. Die pretensie, of dan die bedoeling, is iets geweldiger, so groot dat dit aan waansin grens. Dit is iets soos die bekende frase, “Ek is Napoleon”, wat die rasionele antwoord veronderstel, “Ha-ha, hy dink hy is Napoleon”. Die rasionele antwoord is goed en wel, na gelang van omstandighede. Want daar is een geval waar die Napoleon-spreker miskien verdien om ernstig opgeneem te word, al glo mens vir geen oomblik dat hy wel die kort Korsikaanse generaal is nie: as hy so pas jou stad aan die hoof van sy leërmag ingeneem het. Eer ek nou ’n grootse beskrywing verskaf oor die inval in Milaan, ’n voorgereg van Parmaham en dalk spanspek, my gunsteling, laat my liewer terstond met die hoofdis wegval.

EHESS_et_MSH_Paris,_05239’n Man, hy is nogal lank en skraal met gryswordende hare, ietwat bleek, stoot die glasdeure van die E.H.E.S.S. oop. Oomblikke lank is die rumoer hoorbaar van die boulevard Raspail wat hierdie tyd van die middag vol ongeduldige toeters en ronkende dieselbusse van die R.A.T.P.[1] is, voordat die toeswaaiende deur agter hom die geraas verdemp. ’n Oomblik lank kyk hy ondersoekend rond, dan gewaar hy verlig die ontvangsdame wat agter ’n korterige lae toonbank sit, en stap hy oor na haar toe.

“Bonjour.”

“Bonjour. Je peux vous aider?”

“Oui. Auriez-vous peut-être un programme des séminaires?”

“Je suis désolée, Monsieur. Je n’en ai aucun. Il faudra monter au sixième étage, au bureau des inscriptions. Ils en ont, normalement. Mais, il faut vous dépêcher, ils ferment à quatre heures. Vous trouverez l’ascenseur à votre gauche. Allez au sixième.”

“Merci, Madame.”

monoprix-parisHy is nog altyd verstom deur oorgange. Lank gelede was hy in Suid-Afrika, nou is hy in Frankryk. ’n Rukkie gelede het hy in die groen kafee in die rue de Rennes skuins oorkant Monoprix gesit en kyk na die alomteenwoordigende middagverkeer, sweterige meisies in somerse rokke wat oorbewus van hul sjarme op die sypaadjie verbystap, die gekletter van koppies en pierings, die stemme van kelners wat “un demi!” of “deux express!” uitbulder, die brandreuk van sigarette in sy neusgate, en nou is hy op pad na die sesde vloer in ’n afgeleefde grys hysbak, staatsdiensmodel. Van die cliché van die Paryse kafee na die kille realiteit van die hysbak, die gevoel om opwaarts teen swaartekrag na bo gekatrol te word, dit is ook ’n oorgang. Langs hom in die hysbak staan ’n jongman met ’n swartraambril, oënskynlik ’n student. Ook hy is op pad na die sesde vloer, blyk dit. Verrassing: die bureau des inscriptions is gesluit. Sy metgesel mor. Hy aanvaar hierdie Kafkaeske toertjie na bo met die gelatenheid wat langdurige blootstelling aan die onvoorspelbare weë van die Franse administrasie by ’n mens kweek. Dit help nie om jou te vervies nie, dit is maar so.

Terug by die ontvangsdame. Sy metgesel spring hom voor.

“C’est fermé en haut. Je cherche un programme. Vous en avez sûrement ici!” Dan volg ’n lang geredekawel, met hom as toeskouer. Eintlik behoort hy te loop, want sy is besig om die jongman fatalisties aan te maan om môre terug te kom vir die program, en gaan presies dieselfde aan hom sê, maar soos ’n masochis bly hy staan, wagtend op sy beurt om die afgemete stem aan te hoor. Uiteindelik loop die student, al brommende, die gewone toneelspel. Waarom wag hy nog? Wel, dit is ’n kwessie van ervaring. ’n Mens moet nooit te gou tou opgooi nie, het hy al geleer. Al lyk alles hopeloos, al dui alles daarop dat jy nou presies dieselfde teleurstellende boodskap as die persoon voor jou in die tou gaan hoor, handel jy soos ’n beroepstennisspeler wat steeds sy raket outomaties swaai, al lyk dit asof dit onmoontlik nog by die bal kan uitkom. Daarom lieg hy.

“Eh bien, moi aussi, je suis monté en haut, et je cherche toujours un programme. Je me permets de vous le dire: je suis venu dix mille kilometres, de Johannesbourg en Afrique du Sud, pour chercher ce programme. En effet, il me faut absolument le programme du séminaire de Monsieur Jacques Derrida qui enseigne ici.”

En die wonderwerk gebeur. Sy haal ’n wit boekie vanonder die toonbank uit. Op die voorblad staan daar in ligte pers letters:

Ministère de l’Enseignement Supérieur et de la Recherche
Ecole des Hautes Etudes en Sciences Sociales

54, boulevard Raspail 75006 PARIS
tél. 49.54.25.25 — télécopie 45.44.93.11

PROGRAMME
DES ENSEIGNEMENTS
ET SéMINAIRES

Enseignements principaux
Conférences complémentaires

1994-1995

Dit blyk dat persone vanuit die buiteland (étranger), die DOM (départements d’outre-mer) en TOM (territoires d’outre-mer) as ’n spesiale vergunning programme op die grondvloer by die ontvangstoonbank mag afhaal, op voorwaarde dat hulle nie inwoners van Frankryk is nie, sy dit dan tydelik. En so, dink hy verlig, verkry selfs my Suid-Afrikanerskap ’n waarde.
Die program veilig in sy hande, probeer hy nog vir oulaas vasstel,

corse“Et la Corse, Madame, est-ce un DOM ou un TOM?”

“La Corse est un département français, Monsieur.”

“Vraiment?”

“Mais oui.”

2. Le rendez-vous

renault_citybus_ratp_58Op pad huistoe op die 58-bus, lees hy op bladsy 131 van die program waaroor die seminaar van M. Jacques Derrida, Directeur d’Etudes aan die E.H.E.S.S., vanjaar sal handel. (Geheim.) Hy lees elders op dieselfde bladsy:

“Aucun rendez-vous ne sera accordé sans l’envoi préalable d’un projet de recherche d’une dizaine de pages.”
’n Tien-bladsymotivering vir ’n afspraak! Dis gewigtig. Hy probeer sy bes om in die bus te dink aan ’n onderwerp waaroor hy tien bladsye sou kon volskryf, maar verniet. Hy dink, nie noodwendig in dié volgorde nie, aan:
  1. Die verkeer op die périphérique [2].
  2. galeries_lafayette1000Die verskillende vorme wat borste kan aanneem van vroue wat bra’s aanpas in die lingerie-afdeling by Galeries Lafayette.
  3. ’n Kraan wat drup.
  4. Die kuslyn van Brettanje.
  5. Hoeveelhede 5-centîmes-munte wat inwoners van Lyon in hul sakke ronddra.
  6. Die prys van Banque Suez se aandele op die Bourse de Paris.
  7. Die effek wat Catherine Deneuve se glimlag op kopers van Banque Suez-aandele gehad het in die privatiseringsadvertensie wat tydens 1987 op televisie uitgesaai is.

Jacques-Derrida-01a428e2f07476d3d212b913f4c153a8Dit was alles interessante onderwerpe waaroor ’n mens heelwat sou kon navors, maar hy was onseker of dit Jacques Derrida genoegsaam sou beïndruk om aan hom ’n afspraak toe te staan. Maar iets moes hy doen om die afspraak te kry. Miskien kon hy iewers buite sy huis gaan kampeer, soos ’n joernalis of ’n betoger — hy woon iewers in ’n suidelike voorstad, ongewoon vir ’n intellectuel parisien wat per definisie in Parys self behoort te woon. Maar selfs indien hy dit sou regkry om met hom te praat, “Pardonnez-moi, Monsieur Derrida, mais je suis venu spécialement de l’Afrique du Sud pour vous parler, pourriez-vous m’accorder quelques briefs instants …” sou dit nog geen afspraak wees nie, geen rendez-vous nie. ’n Toevallige ontmoeting sou nie tel nie. Dit moes ’n afspraak wees, ’n gereëlde afspraak wat in ’n aantekeningboek opgeteken is, verkieslik deur ’n sekretaresse of ander helper of assistent, om dit nog ampteliker te maak. Miskien moes hy probeer om eers ’n brief te skryf, om die afspraak aan te vra. Maar natuurlik sou dit vergesel moes wees van die tienbladsye-projek. Ineens voel hy moedeloos. Toe dink hy aan die Sjinese spreuk, “ ’n duisendmylreis begin met die eerste tree”, en het hy nie reeds die eerste tree gegee, en só die program bekom nie, al moes hy dan lieg om te sê dat hy pas van Suid-Afrika af gekom het? Terwyl die ander reisigers op die moltrein hom uit die pad uit skouer, die geure van baie liggame vermeng met die asbes- en staalreuk van die moltreinremme — die parfuum van Parys — om hom hang, raak hy skielik baie vasbeslote, soos ’n bittereinder. ’n Afspraak sal hy kry.

Word vervolg (miskien)

(Oorspronklik gepubliseer op LitNet rondom 1998.)

____________________________

1. Régie autonome des transports parisiens.

2. Boulevard périphérique, die sirkelvormige snelweg rondom Parys.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.