Oor onafhanklikheid vir Skotland, met toepassing op Suid-Afrika

In die plaaslike koerante is aanvanklik min aandag aan die moontlikheid van Skotse onafhanklikheid geskenk. Nader aan die referendumdatum (18 deser) en veral toe dit blyk dat die meerderheid kiesers ten gunste van outonomie kon stem, het meer berigte verskyn. Hierdie berigte het geneig om voorkeur aan die nee-stem te gee. Dit wek die indruk dat selfs die nuwe Suid-Afrika hom nog nie van die Britse koloniale naelstring losgemaak het nie. Wat ook opval in hierdie beriggewing is dat die joernaliste met kenmerkende vlakheid uit ander, bv Britse, koerante oorgeskryf het pleks van self substansiële inligtingsbronne te raadpleeg. Die afgelope maande het daar talle uitstekende boeke oor hierdie onderwerp verskyn. Anders as tydens verkiesings in die nuwe Suid-Afrika is dit moontlik, selfs waarskynlik, dat die meerderheid Skotse kiesers goed ingelig is oor waaroor dit in die referendum gaan. Tog bly dit skynbaar ‘n dobbelspel.

Ek maak veral gebruik van George Kerevan en Alan Cochrane se boek, The great debate: Scottish independence: yes no (Brimscombe Port Stroud: The History Press, 2014, 144p; Amazon Kindle $4.79). Die Skotse kiesers, dus inwoners 16 jaar en ouer, 4,3 miljoen uit ‘n bevolking van 5,3 miljoen, moet die volgende vraag met ‘n ja- of nee-stem beantwoord: “Should Scotland be an independent country?” (Anders as in Suid-Afrika, sal gevangenes heeltemal tereg nie kan stem nie.) Die 800 000 Skotte wat in Engeland woon, sal ook nie kan stem nie.

Kerevan skryf in die ja-modus: “Yes Scotland”. Hy is ‘n Skotse akademikus en joernalis en lid van die Skotse Nasionale Party (SNP), wat hom vir Skotse onafhanklikheid beywer. Cochrane stel die nee-saak: “Better Together”. Hy is ook ‘n gebore Skot, maar het veral in Engeland as joernalis gewerk. Sy kinders is woonagtig in sowel Engeland as Skotland, wat toon in hoe ‘n mate die Engelse en Skotse bevolking na die verloop van eeue verstengel geraak het. Verder: “Fully one-third of contemporary Scots are of recent Irish decent” (Kindle 935). Tog strewe die SNP na ‘n nasiestaat. In hierdie boek word al die vernaamste argumente vir en teen onafhanklikheid duidelik deur twee outeurs gestel wat eerstehandse kennis van die saak het.

Soos verskeie kere op Praag berig is, het die Britse premier, David Cameron, die Skotse kiesers probeer oorreed (of intimideer) om nee te stem. Hy is uiteraard bevrees dat onafhanklikheid vir Skotland ook tot outonomie vir Noord-Ierland en Wallis kan lei en die Verenigde Koninkryk (VK) dus kan verkrummel. Noord-Ierse onafhanklikheid sal na verwagting uiteindelik vereniging met die Ierse republiek meebring. In hierdie sin gooi Cameron wal teen die na-imperiale era.

Die president van die Europese Kommissie, Jose Manuel Barroso, ‘n Portugees, het ook probeer om die nee-stem te bevorder (Die Burger, 9 deser, p 9). ‘n Onafhanklike Skotland sal nie outomaties lidmaatskap van die Europese Unie (EU) hê nie. Hy sal aansoek moet doen, maar dit is onwaarskynlik dat dit goedkeur sal word omdat al die EU-lande ten gunste daarvan moet wees. Spanje sal waarskynlik ‘n teenstem uitbring omdat hy nie die afskeidingsbewegings in Katalonië (in die Noord-Ooste van Spanje) en Baskeland (in die midde-Noorde van Spanje – Praag 25.05) wil aanwakker nie. Die SNP redeneer egter dat ‘n onafhanklike Skotland maklik by die European Free Trade Area (Efta) sal kan aansluit omdat nie-EU-lande soos Noorweë, Switserland, Liechtenstein en Ysland reeds lidmaatskap het (902).

In die aanloop tot die Skotse referendum was daar ‘n groot betoging in Barcelona, die hoofstad van Katalonië, ten gunste van onafhanklikheid, of dan ten minste groter outonomie van die sentrale regering in Madrid. Leopold Scholtz noem dat Katalonië (soos Baskeland) reeds in 1978 onder die nuwe Spaanse grondwet beperkte selfregering verwerf het. Ook dat die streek (soos Baskeland en Skotland) ‘n eie vlag en volkslied het en dat Kataloniese Spaans van Kastiliaanse Spaans verskil. “Nietemin kyk minderheidsgroepe van reg oor Europa met groot belangstelling na die Skotse referendum en die ontwikkelinge in Katalonië. Selfs streke soos Friesland in Nederland, Vlaandere (België), Bretagne (Frankryk) en Suid-Tirool (Italië) stuur waarnemers na Skotland” (Die Burger, 13 deser, p 11).

Pieter-Louis Myburgh verwys na Skotland se “307 jaar oue politieke verbondenheid aan die Verenigde Koninkryk” (Rapport 14 deser). Die veldtog vir Skotse onafhanklikheid word gelei deur Alex Salmond, die Skotse eerste minister en leier van die SNP, wat in 1934 gestig is. Die onafhanklikheidstrewe het momentum gekry nadat olie en gas in die 1960’s in die Noordsee (veral Noord-Oos van Skotland) ontdek en daar in die 1970s met die grootskaalse ontginning daarvan begin is. Die persepsie bestaan dat Skotland nie sy regmatige deel uit die opbrengs hiervan ontvang nie; dat in Londen besluit word hoeveel van die inkomste aan Skotland afgestaan word. “In 2010-11, Scotland generated 9.9 per cent of the UK tax revenue but received only 9.3 per cent of public spending” (655).

Leon Schreiber (Rapport 14 deser) verskaf verdere inligting in dieselfde koerant, bv dat die SNP die verkiesings in 2007 en 2011 gewen het omdat hy belowe het om ‘n referendum oor onafhanklikheid te hou. Die deurslaggewende motivering vir onafhanklikheid is omdat “‘n beduidende deel van die Skotse bevolking uitgesluit voel deur die huidige stelsel.” Brittanje het “‘n hoogs gesentraliseerde institusionele” stelsel, waarin die Skotte se mening, wat geneig is om polities meer links as dié van die regering in Londen te wees, dikwels nie tot sy reg kom nie. Tradisioneel lewer die Skotte Arbeidersparty-lede aan die Britse parlement; nie Konserwatiewe Party-lede nie.

Die ANC-bewind word sterk deur kommuniste beïnvloed. Die sentralisering van politieke mag is kenmerkend van sodanige regerings. ‘n Ander ooreenkoms met die Skotse situasie is dat etniese groepe, soos die blankes (veral Afrikaners) en Asiate, van die politieke besluitneming uitgesluit voel. “In ‘n land so divers soos Suid-Afrika is dit soms verbasend dat daar nie ‘n groter strewe na selfbeskikking in verskillende groepe in die samelewing bestaan nie.” Namate die FW de Klerk-verraad insink en nie-swartes, veral blankes, deur die rassistiese inslag van swart mag benadeel word, sal daar myns insiens ‘n groeiende selfbeskikkingstrewe na vore tree. Schreiber het egter ‘n ander en daarby ‘n polities korrekte siening: “Die relatief swak politiese posisie van selfbeskikkingsbewegings in Suid-Afrika is egter ‘n weerspieëling van die land se sukses in die skepping van ‘n inklusiewe bedeling waaraan die meeste mense steeds voel dat hulle ‘n aandeel het.” Daardie “meeste mense” verwys uiteraard na die blatant bevoordeelde 80%+ swartes in die bevolking.

Hoe polities korrek Schreiber is (en waaraan hy seker die publikasie van sy artikel in Rapport te danke het), blyk uit die volgende: “In Suid-Afrika flits daar bloedrooi gevaarligte wat dreig om die visie van ‘n inklusiewe toekoms ongedaan te maak. Hierdie gevaartekens sluit in … die groepie Afrikaners wat steeds daarop aandring om inklusiwiteit te verwerp ten gunste van ‘n verdelende verlede.” Vir daardie “groepie” gaan dit myns insiens juis nie om ‘n teruggryp na ‘n “verdelende verlede” nie. Dit gaan om die uitreik na ‘n toekoms waarin diegene wat kultureel by mekaar hoort, verenig word. Dit sluit nie die moontlikheid uit dat Die Stem as volkslied teruggebring word nie, asook die oranje, wit en blou as landsvlag; sonder die kniebuiging na die Britse vlag, die “Butcher’s Apron” (1232), en sekerlik sonder enige erkenning van ons inheemse kopdoek. Net soos daar Skotte is wat in die eerste plek Skotte en tweedens Britte wil wees, is daar Afrikaners wat in die eerste plek Afrikaners en in die tweede plek Suid-Afrikaners, of dalk veel eerder Europeërs, wil wees. Dit gaan, soos Schreiber dit stel, om mense se “primêre politieke [maar myns insiens veral kulturele] identiteit.”

Noodsaaklike geografiese agtergrond is dat Skotland die noordelike derde van die Britse hoofeiland beslaan. Verder sluit die Skotse geografiese gebied die Westelike eilande (bv die binne- en buite-Hebridiese eilande) en talle ander eilande langs sy kus in, asook die Orkney-eilande in die noorde en die Shetland-eilande selfs verder noord. Daar is bykans 800 Skotse eilande altesaam. Die Westelike, Orkney- en Shetland-eilande hou op 25 deser, ‘n week na die Skotse referendum, ‘n referendum waarin die kiesers ‘n drieledige opsie het. Hierdie drie gebiede kan (1) saam ‘n eie, onafhanklike staat vorm, (2) deel van Skotland bly, of (3) deel van die VK bly (as Skotland onafhanklik sou word).

Noodsaaklike historiese inligting is dat uniewording (die samesmelting van die Engelse en Skotse parlemente as die Britse parlement) in 1707 plaasgevind het, maar dat die Engelse en Skotte reeds sedert 1603 dieselfde monarg as staatshoof het. In 1979 het die meerderheid kiesers in ‘n Skotse referendum ten gunste van beperke selfregering met ‘n eie parlement gestem. Die meerderheid ja-stemmers was egter nie die vereiste 40% van die totale getal kiesers nie, gevolglik het daar toe niks hiervan gekom nie. In 1997 is sodanige meerderheid wel behaal. Sedert 1999 het die Skotte ‘n eie parlement in Holyrood, Edinburgh. Hulle behou ook sitting in die Britse parlement.

Die idee is dat Skotland na onafhanklikheid steeds die Britse koning of koningin as staatshoof sal hê, hoewel Cochrane dit as skynheiligheid beskou, want “the majority of SNP members and activists are out-and-out republicans” (1242); ‘n verskynsel wat ook sterk in Australië na vore tree. Cochrane haal die volgende Skotse”folk-song” aan: “Nae Liz the One, nae Lizabeth the Twa, nae Liz will ever dae. We will mak oor land republican in the Scottish breakaway” (1256). Dieselfde sterling-geldstelsel sal behou word, asook vrye handel en lidmaatskap van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO). Die Kanaaleilande aan die Franse kus (bv Jersey en Guernsey) en die Isle of Man in die Ierse See is nie formeel deel van die VK en EU nie maar gebruik die Britse geldstelsel (458), gevolglik word geredeneer dat ‘n onafhanklike Skotland toegelaat sal word om dieselfde te doen. ‘n Nuwe Britse konfederasie sal tot stand kom tussen Skotland en die res van die VK, albei met sy eie parlement en eie belastingstelsel. Politieke mag sal nie meer (oorheersend) in Londen gesetel wees nie. Great Britain sal dus al hoe meer Little Britain word. Ian Smith (1919-2007), die destydse Rhodesiese eerste minister (1964-1979), was sy tyd vooruit. Tydens sy ampstermyn het hy deurgaans na Britain verwys en volstrek geweier om van Great Britain te praat.

“The percentage of people not born in Britain living in Scotland is significantly lower than for the UK as a whole: 6.6 per cent compared to some 12 per cent” (401). Afgesien van beperkte werksgeleenthede kan dit toegeskryf word aan die kouer klimaat in Skotland. Mense wat gewoond is aan die warmer klimaat van Afrika, die Indiese subkontinent en die Wes-Indiese Eilande vestig hulle eerder in bv Londen as Edinburg. Dit beteken nie dat Skotland tot dusver krotbuurte vrygespring het nie. Byvoorbeeld, Richard Holloway beskryf in sy boek, Leaving Alexandria (Edinburg: Canongate, 2012, 369p; Amazon Kindle $8.69), die haglike lewensomstandighede in die suidelike dele van Glasgow, “the slum capital of Europe” (1539), waar veral Pakistani’s hulle gevestig het. Terwyl die Britse regering die afgelope jare probeer het om immigrasie te beperk, is die redenasie van die SNP dat immigrasie aangemoedig moet word om te vergoed vir die bevolkingsverlies omdat baie Skotte emigreer, bv na Engeland, maar veral na die VSA en Kanada.

Dit lyk nie asof die SNP se planne die beste manier is om ‘n nasiestaat te bou nie. Daar word geredeneer: “Twenty-first-century globalisation needs cultural diversity” (916), oftewel kulturele pluralisme. Naas Engelse en Iere is daar bv Italianers, Jode, Pole, Oekraïners, Asiate, Ugandese en Chilene in die Skotse “melting pot” (940). “Scots have already forged a new, non-British sense of identity as a way of integrating these diverse peoples” (945). Dit gaan glo om “a modern, civic identity, not a pseudo-ethnic one” (950); oftewel “an open internationalist outlook – not an introverted, pseudo-ethnic one” (973). ‘n Mens kan maar net hoop dat die Skotse regering gou tot besinning kom. Hou egter in gedagte dat die Skotse bevolking steeds uit 96% blankes bestaan. Daarteenoor is die (res van die) VK “a mongrel nation” (1626). Engeland se bevolking was 85.4% wit in 2011.

Die nasionalistiese Skotte, of “separatists” (1296) soos Cochrane hulle noem, is geneig om die Skotte as ‘n heeltemal ander nasie as die Engelse voor te stel. “I have absolutely no doubt that many people who support breaking up Britain are indeed racist, in that they actively dislike, if not hate, the English”(2316). Hulle beskou Brittanje as ‘n mislukte staat. Daar is by hierdie Skotte kenmerkende maar onregverdigbare (of valse) Presbiteriaanse skuldgevoelens (wat ongelukkig ook plaaslik te oorvloediglik by sommige lede van die drie Afrikaanse, Protestantse “susterkerke” aangetref word). Die SNP beywer hom dus vir ‘n welsynstaat, die gelykmaking van sosiale klasse en die bevordering van die belange van die sogenaamde benadeeldes, om daarmee Margaret Thatcher (1925-2013; Britse premier 1975-1990) se nalatenskap tot niet te maak (1296).

‘n Belangrike praktiese aspek wat deur Cochrane beklemtoon word, is: “With distinct policies on immigration, asylum-seeking, on rates of duty for alcohol and tobacco, and a different approach to Shengen*, there would have [to] be a multiplicity of border checkpoints. In as small an island as this, and a Union as old as this, it would be bonkers” (1360). [*Shengen: “the free travel across Europe agreement – of which the UK currently has an opt out” (1354).]

Opsommend: “The separatists insisting that Scotland would be a hugely successful country, economically, if it was independent, whilst the Unionists say that while of course Scotland could go it alone, the figures simply do not add up to creating success, in the terms suggested by the Nats” (1528). In die referendum weeg die eeue oue tradisie van saamwees met die Engelse swaar. Daarteenoor is daar die aantreklikheid wat in die woorde “onafhanklikheid” en veral “vryheid” opgesluit lê. Groter Skotse selfvertroue en selfrespek kan hieruit volg. Cochrane het geskryf: “I am sure that as many people will be swayed by emotion as by practical considerations” (1616). Wat Leopold Scholtz skryf, kom op dieselfde neer: “Die ja’s het hoofsaaklik op emosie – Skotse nasionalisme – gekonsentreer, terwyl die nee’s op die ekonomiese risiko’s klem gelê het” (Die Burger, 19 deser, p 14).

Die meeste van bostaande teks is geskryf voor die uitslag van die Skotse referendum bekend gemaak is. Wat ook al die uitslag van die twee referendums sou wees, sal dit nie nuttelose oefeninge wees nie. As Skotse onafhanklikheid nie nou verkry word nie, kom dit (soos wat met die instelling van ‘n eie parlement gebeur het) moontlik later. Wat seker is, is dat die Britse regering sy beloftes van groter selfbeskikking vir die Skotte sal moet nakom. Dit is onwaarskynlik dat die kiesers van die Westelike, Orkney- en Shetland-eilande ten gunste van hulle aparte onafhanklikheid sal stem. Heel moontlik sal hulle eerder voortgaan om hulle administratief/polities by die Skotte te skaar,”veral noudat Skotland nie onafhanklik word nie. Maar ook in hulle geval sal ‘n groter mate van selfbeskikking volg, soos deur sowel die Skotse as die Britse regering aan hulle belowe.

Soos aanvanklik algemeen aanvaar is, het Skotse onafhanklikheid nie hierdie rondte gekom nie; selfs al sou ‘n meerderheid van ‘n enkele stem hierdie keer wetlik voldoende gewees het. Die Skotte het eeue oue eie regs-, onderwys- en religieuse instellings en geniet progressief meer selfbestuur. Die Skotte het ook nie ‘n eie taal wat baie van Engels verskil nie, al val die Skotse uitspraak vreemd op Engelse ore. Andersins is daar kultureel, dus in daaglikse handel en wandel, tussen die Skotte en Engelse groter maar nie-fundamentele verskille; dus eerder verskille in graad of klem.

Kultureel is die verhouding tussen die Skotte en Engelse dus baie anders as die kolossale gaping wat daar tussen wittes en swartes in Suid-Afrika bestaan. In sommige opsigte dink en doen swartes heeltemal anders as blankes; ook anders as Oosterlinge. Oosterlinge (bv die Japanese) geniet voorspoed en ‘n geordende, leefbare samelewing omdat hulle hulle kultuur (bv godsdiens) met Westerse (bv ekonomiese) denke kan versoen. Swartes is geneig om dinge impulsief op die tradisionele Afrika-manier te doen pleks van rasioneel en erkentlik by Westerse kultuur aansluiting te soek. Die bevolking van Afrika het in groot mate (nog) nie by die werklikhede van die 21ste eeu aangepas nie. Dit is ‘n geval van laat opgedaag vir vandag en môre is nog so ‘n dag. Wat in Afrika nodig is, is nie ‘n herlewing nie (soos Thabo Mbeki se Afrika-renaissance – waaroor deesdae geswyg word), maar ‘n eerste ontwaking. Dit verduidelik waarom teenspoed en ellende so kenmerkend van swart Afrika is.

Weens Duitse nasionalisme in die vorige eeu en twee wêreldoorloë het nasionalisme daarna veral in Europa in onguns verval. Genoeg tyd het egter intussen verloop om hernude en groeiende entoesiasme vir nasionalisme in talle Europese lande wakker te maak. Ek het aangetoon dat Skotse nasionalisme linksgesind is. In Vlaandere en Beiere neig dit egter regs. Leopold Scholtz (Die Burger, 19 deser, p 14) noem “dat nasionalisme nie verkramp, regs of ekstremisties hóéf te wees nie”. Verder: “In Suid-Afrika word nasionalisme en die beklemtoning van etniese identiteit as regs beskou. Maar in Europa is dit oorwegend (ofskoon nie altyd nie) juis links.” Dus, nasionalisme kan “bloot beteken dat jy ‘n billike kulturele ruimte eis om jouself te wees”.

Jan van Wyk skryf: “Die Skotte se strewe na onafhanklikheid verbaas my nie. Soos Afrikaners in die onafhanklike Boererepublieke was hulle nog nooit lief vir die Engelse nie. Toe sy ou gevegskamerade genls Louis Botha en Jan Smuts ná die Anglo-Boereoorlog in Londen begin kuier, het die patriotiese genl Krisjan de Wet smalend gesê: ‘Ek staan liewer op ‘n mishoop onder my eie mense as in paleise tussen vreemdes'” (Die Burger, 18 deser, p 14).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.