Skotte stem vandag vir beter toekoms

Deel op

James Bond, oftewel die akteur Sean Connery, gaan vandag stem vir ‘n onafhanklike Skotland.

Die geskiedkundige referendum se meningspeilings toon daar is effens meer steun vir onafhankliheid van die Verenigde Koninkryk.

Die Engelse is erg onthuts oor dié verwikkeling wat hulle onkant gevang het omdat hulle gemeen het dat die media die uitslag in hul guns kan swaai. Behalwe ‘n klein streekskoerantjie, het die vryheidsgesinde Skotte geen media nie.

Leiers en ondersteuners van die Britse eenheidstaat is Dinsdag vir oulaas strate toe in ’n laaste koorsige poging om stemme te werf in ’n land stewig in die greep van opwinding en hoop verkeer.

Kiesers moet vandag slegs ja of nee antwoord op die vraag: “Moet Skotland ’n onafhanklike land wees?”

’n Ja-stem sal die einde beteken van die 307 jaar oue unie met Engeland en die opbreek van die Verenigde Koninkryk, sowel as ekonomiese onsekerheid.

Sowat 8% tot 14% van Skotland se 4,3 miljoen kiesers het gister nog getwyfel.

Desperate Britse politieke leiers het groter outonomiteit vir Skotland beloof as mense sou kies om verenig te bly. Ondersteuners van onafhanklikheid sê egter dis tyd vir Skotland om sy eie leiers te kies en self besluite te neem, vry van onderdrukking uit Londen.

Premier Alex Salmond, leier van die ja-veldtog en die Skotse Nasionale Party, het die Skotte aangevuur: “Kom ons word môre (Vrydag) wakker op die eerste dag van ’n beter land.”

In ’n ope brief het Salmond gesê Skotland se toekoms is in sy hande. Hy het hom beroep op die 18de eeuse ekonoom Adam Smith en Skotland se bekendste digter, Robert Burns: “Moenie hierdie geleentheid deur ons vingers laat glip nie. Moenie dat hulle vir ons sê ons kan nie. Kom ons dóén dit.”

Die Britse premier, David Cameron, het gesê die land is ’n demokrasie en die wil van die mense by die stembus sal gerespekteer word, maar die Skotte kan ongetwyfeld bly reken op Engelse lis.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.