Suid-Afrika se semistaatsinstellings bereik maksimumskuldvlakke

Deel op

Net soos in die Oekraïne en vele ander lande, was een van die oogmerke van die revolusionêre beweging in Suid-Afrika nog altyd om staatsbates te stroop of, altenatiewelik, om hulle gratis tydens “privatisering” te bekom. Die sakekoerant Business Day berig dat die lenings van semistaatsinstellings nou min of meer die maksimum getref het op ‘n totaal van R466 miljard.

Die staat kan nie verder sulke lenings waarborg sonder om sy eie kredietgradering in die gedrang te bring nie. Die staat self skuld reeds R1,4 triljoen rand, wat dus die totale skuldlas op naby aan R2 triljoen te staan bring.

Volgens ‘n tesourie-amptenaar sluit die R466 miljard nie verdere waarborge in wat die regering aan Eskom sal moet verskaf as deel van sy nuwe “befondsingspakket” wat vroeër vandeesweek deur die Tesourie aangekondig is nie. Daardie besonderhede sal eers aanstaande maand bekendgemaak word as die mediumtermynbegrotingsbeleid in die parlement ter tafel gelê word.

Met die groot salarisse en vermorsing wat semistaatsinstellings kenmerk, is die verhouding tussen hul inkomste en skuldvlakke besig om te versleg. Hulle “vreet” aanmekaar kontant en sal daarom nog fondse of waarborge van die staat benodig. Daar word beraam dat die inkomstemarge van staatsbeheerde maatskappye vanaf 3,3% in 2013-14 tot 1% in 2015-16 gaan daal. Die verhouding van hul skuldlas tot inkomste sal na verwagting oor dieselfde periode styg vanaf 69,4% tot 73%.

Terwyl die Suid-Afrikaanse Lugdiens onder die Nasionale Party-bewind altyd ‘n wins gewys het en deur amptenare met middelklassalarisse bestuur is, het die salarisse van ANC-kaders wat sedertdien na dié maatskappy ontplooi is die hoogte ingeskiet en maak SAL of SAA soos dit deesdae eentalig op Engels bekendstaan, verliese van miljarde rande.

Min of meer die helfte van die semistaatsinstellings, waaronder die Suid-Afrikaanse Lugdiens, South African Express en die Suid-Afrikaanse Poskantoor is, soos ‘n Tesourie-amptenaar dit gestel het, “in die rooi”. Ook die Sentrale Energiefonds is blykbaar daarheen op pad.

Die meeste semistaatsinstellings het slegs 60% van hul prestasiedoelwitte oor die afgelope jaar behaal, terwyl die orgie van besteding deur hoë amptenare met vet salarisse en duur Duitse motors toeneem.

In Junie vanjaar het die verkope van Mercedes-Benz, die weeldemotorvervaardiger, in Suid-Afrika met 30% toegeneem, wat ‘n aanduiding is van waarheen sommige fondse gekanaliseer word.

Volgens die tesourie beskik staatsondernemings oor inkomste van R260 miljard per jaar, vergeleke met die staat se belastinginkomste van R810 miljard. Daarteenoor beskik hulle oor rentedraende skuld van R467 miljard teenoor die staat se totale skuld van R1,4 triljoen. Besteding aan infrastruktuur deur semistaatsinstellings beloop R110 miljard teenoor die staat se R104 miljard. Hul totale batewaarde is ongeveer R1 triljoen maar die netto batewaarde is slegs R374 miljard, wat beteken dat die sektor in sy geheel tegnies bankrot is.

Die opbrengs op kapitaal in dié maatskappye is naby aan nul of negatief, wat die druk op die staat om hulle te privatiseer, laat toeneem.

Tydens privatisering kan verwag word dat die oligarge wat reeds die groot maatskappye in Suid-Afrika se privaatsektor beheer, asook buitelanders, die staatsmaatskappye teen ‘n appel en ‘n eie sal bekom. Van die mynmaatskappye wat byvoorbeeld steenkool aan Eskom voorsien, of “konsultante” vanuit Brittanje wat dienste aan die staatsondernemings verskaf, is reeds besig om hulle te melk en sodoende miljarde te verdien waarvoor die belastingbetaler uiteindelik sal moet vergoed.

Gedurende die twintigste eeu het die grootste deel van Afrikaners hul afgesloof om dié staatsondernemings op te bou, wat in 1994 tydens die revolusie aan die ANC en SAKP oorhandig is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.