Pelsverkope herstel

Deel op

Die resultate­ van die swakara-veiling op 9 September by Kopenhagen­ Fur in die Deense hoofstad Kopenhagen, is uitstekend, het Namibiese pelshandelaars gesê.

Die veiling het die hoogste prys ooit vir ’n lot swart swakara-pelse­ opgelewer, met die prys van N$2 964 wat ’n verhoging­ van N$558,40 teenoor die April 2014 veiling getoon het.

Agra sê in ’n verklaring die hoogste prys vir ’n lot wit pelse was N$2 546. Die grys pelse wat laas in September 2013 verkoop is, het ’n gemiddelde prys van N$710,60 per pels behaal en die bruin pelse wat laas in 2012 verkoop is, ’n gemiddelde­ prys van N$640,30 per pels.

Me. Dagmar Honsbein, hoofbestuurder van Agra ProVision, sê voor die veiling was bedrywighede by die pelshuis in die algemeen minder as tydens vorige veilings.

“Ons het ’n herhaling van die April 2014-veilingsverrigtinge­ gevrees, veral aangesien die gereelde swakara-kopers­ betreklik laat opgedaag­ het om die pelse te besigtig. Hulle het ons boonop ingelig dat hulle nog baie pelse oor het van die vorige veiling. Daarom is ons geweldig­ verheug om produsente­ mee te deel dat die verkope inderdaad­ herstel het,” sê Honsbein.­

Pelspryse was vroeër die jaar onder geweldige­ druk, wat ’n demper op verwagtinge vir die September-­veiling geplaas het. ­

Die pryse het nie net in April aansienlik teruggesak­ nie, maar het boonop meegebring dat nie alles verkoop is nie.

Die aanbod nou het bestaan uit 35 872 swart pelse, 8 794 wit pelse, 3 835 grys pelse, 725 bruin pelse en 2 787 gespikkelde pelse.

Die veilingsbelangstelling verlede week was aanvanklik traag, met die gemiddelde prys vir swart pelse wat op N$495,90 in April gemiddeld­ 12% laer was. Daarna is die bordjies verhang, met die gemiddelde prys van wit pelse wat met 10,9% gestyg het tot N$818,90 en gespikkelde pryse wat met 95,7% tot N$359,10 gestyg het.

Die duurste lot wit pelse is teen N$2 546 opgeraap­ deur mnr. Tony Jessop, ’n pelsmakelaar­ by Avanti Furs van Kastoria­ in Griekeland.­

Die duuste lot swart pelse se bod is toegeslaan­ op mnr. Thomas Rebild, ’n Deense makelaar wat dit namens Elena Furs van Moskou in Rusland gekoop het.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.