Totale aanslag op Afrikaans

Deel op

Terwyl die frase “totale aanslag” deesdae weer veld wen onder kenners om die allesomvattende konflik te beskryf waarin Afrikaners hulself bevind, is PRAAG oor die afgelope weke deur verskeie individue genader wat hul misnoeë uitgespreek het oor die ongekende ondermyning van die Afrikaanse taal wat tans plaasvind.

Provinsiale onderwysdepartemente wil Afrikaanse skole beëindig deur model-C-skole met lokasieskole saam te smelt. In Gauteng word Afrikaanse skole reeds die afgelope paar jaar gedreig dat hulle na Engels toe moet oorskakel om swart leerlinge aan te trek.

Akademiese publikasies in Afrikaans sal nie meer vir staatsubsidie kwalifiseer nie omdat hulle nie “internasionaal toeganklik” is soos Engelse publikasies nie. Die meerderheid Afrikaanse akademici publiseer reeds in Engels uit vrees dat hul Afrikaanse publikasies nie deur die owerheid en die NRF (National Research Foundation, ou RGN) erken sal word nie. Tot dusver word ‘n klein aantal Afrikaanse tydskrifte egter steeds vir publikasie erken, maar indien al die akademici na Engels oorskakel, sal dié tydskrifte in elk geval wegkwyn en tot niet gaan.

Dit is algemeen bekend dat neurolinguïstiese programmering internasionaal deur die VSA, Brittanje en Israel se geheimedienste gebruik word om hele bevolkings te beïnvloed. ‘n Kundige met wie PRAAG gesels het, meen dat dit ook in Suid-Afrika aangewend word om “Afrikaners mak en gedienstig te hou”. Hy sê: “Daar was nog nooit soveel plaasmoorde en geweld soos tans nie. Ook word daar op alle gebiede teen Afrikaners gediskrimineer. Maar daar is beswaarlik enige verbale kritiek wat deur Afrikaners uitgespreek word. Hoe verklaar ‘n mens dit? Die Afrikaanse taal self word egter deur geheimedienste as ‘n probleem gesien omdat hulle nie volkome beheer het oor wat in Afrikaans gesê en geskryf word nie, anders as in Engels waar hulle oor wêreldwye netwerke beskik en na willekeur bevolkings kan opsweep of manipuleer. Dis daarom nie verbasend dat hulle poog om Afrikaans nou die doodskoot te gee nie.”

Volgens inligting tot PRAAG se beskikking, is die Nederlandse regering ook besig om ‘n akademiese aanslag op die Afrikaanse standaardtaal te befonds. Engelse taalkundiges aan die Universiteit van Kaapstad word deur Nederland betaal om in akademiese tydksrifte ‘n argument daarvoor uit te maak dat Standaardafrikaans eintlik die “taal van negentiende-eeuse rassiste” is wat van Afrikaans ‘n “witmanstaal” wou maak. Daarom moet Afrikaans soos ons dit ken afgetakel of uitgefasseer word ten gunste van Kleurlingafrikaans of ‘n stedelike soort Engels-kreools wat ‘n paar Afrikaanse woorde sal bevat en as die “nuwe Afrikaans” bekendgestel sal word. Taalkundiges aan die Universiteit van Stellenbosch, waaronder dr. Gerda Odendaal, is reeds met ‘n projek besig om Afrikaans te “herstandaardiseer”. Steun vir dié projek is ook deur die hoof van RSG, Magdaleen Kruger, uitgespreek.

Aan die Universiteit van Potchefstroom, waar prof. Hans du Plessis in 2006 Afrikaans as ‘n “gemorstaal” beskryf het, word daar ook gewerk aan ‘n politieke projek om beheer oor Afrikaanse instellings soos die Akademie en die Taalkommissie aan meer Engels-georiënteerde kleurlinge oor te dra. So iets sou die invoer van ‘n nuwe standaardtaal of Engels-kreools vergemaklik. Prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, het verlede jaar op LitNet in ‘n lang artikel die Naspersideoloog Leopold Scholtz aangehaal wat gesê het:

“Afrikaans moet die instrument van aanvaarding en transformasie wees […].”

Onder “transformasie” word ‘n revolusionêre verandering in Suid-Afrika, maar ook ‘n revolusionêre wysiging van Afrikaans in die rigting van Engels-kreools verstaan, wat die taal as ‘n minder belangrike onderdeel van Britse en Suid-Afrikaanse Engels sal vestig.

Afrikaans moet dus nie net van buite deur middel van diskriminerende maatreëls en die marginalisering van die taal onderdruk word nie, maar ook van binne gerysmier en “getransformeer” word om meer soos Engels en die gemengde taal van die Kaapse vlakte te klink.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.