Solidariteit weer na hof oor diskriminasie

Deel op

Die vakbond Solidariteit het Jeff Radebe, voormalige minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, gedagvaar om op 25 en 26 September 2014 in die gelykheidshof in Pretoria te verskyn. Solidariteit sal sy lid, landdros Martin Kroukamp, in die gelykheidshof verteenwoordig en aanvoer dat minister Radebe onbillik op grond van sy ras teen hom gediskrimineer het.

‘n Volbank regters van die Grondwethof het onlangs Solidariteit se nege jaar lange regstryd teen onregverdige diskriminasie teen Renate Barnard van die SAPD op grond van ras gesink.

Die hof het beslis daar is nie onregverdig teen Barnard gediskrimineer omdat sy wit is nie.

Die vakbond is tans in 33 sake teen regstelaksie in verskillende howe betrokke. Solidariteit het voorheen gesê die stryd van bruin tronkbewaarders in die Wes-Kaap is die heel belangrikste.

Volgens Johan Kruger, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, volg die hofsaak nadat Radebe die aanbeveling van die Landdrostekommissie om Kroukamp aan te stel, geïgnoreer het op grond van Kroukamp se ras.

“Vir Solidariteit is die hart van die saak nie net die reg van landdros Kroukamp nie, maar die reg van Suid-Afrikaners op ʼn effektiewe regstelsel. Die kernpilaar van die Suid-Afrikaanse demokrasie is die regstaat en ons moet dit beskerm,” het Kruger gesê.

Kroukamp het hierna ʼn aansoek, ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, gebring om vas te stel hoekom hy nie aangestel is nie. Volgens die inligting wat Solidariteit ontvang het, sê die Landdrostekommissie dat, in ag genome die prestasie van die onderhoudkandidate, die vereistes ten opsigte van geslag en ras vervat in artikel 174(2) van die Grondwet, die behoeftes van die kantoor en die behoeftes van die gemeenskap wat bedien word, Kroukamp as die enigste geskikte kandidaat aanbeveel word.

Volgens Kruger het minister Radebe die kommissie se aanbevelings geïgnoreer ten spyte daarvan dat Kroukamp deur die Landdrostekommissie as die beste en enigste kandidaat vir die pos van landdros in die Alberton-landdroshof aangewys is, en gesê dit sou nie transformasie bevorder nie. Hy het verder aangedui dat die vakante poste weer geadverteer moes word.

“Dit is die eerste keer dat Solidariteit ʼn Minister dagvaar om sy besluit in die hof te verduidelik. In ons dagvaardiging aan die minister versoek ons dat hy bewyse moet lewer om sy besluit ten opsigte van die nie-bevordering van landdros Kroukamp te staaf,” sê Kruger.

“Senior landdroste speel ’n belangrike rol in die funksionering van die laer howe en moet onder andere landdroste bystaan. Dit is dus noodsaaklik dat die posisies gevul word ten einde te verseker dat landdroshowe die nodige dienste aan die publiek kan lewer,” het Kruger gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.