Skotse referendum skud Britse Ryk, maar Naspers glo in koningin

Deel op

Ek haat Engeland. Ek hou van Skotland want op ‘n manier dink ek dat hulle beter as ons is – Vivienne Westwood, Engelse modeontwerpster

Deel op

Met slegs twee dae oor voordat inwoners van Skotland in ‘n referendum stem of hoe hulle van Brittanje wil afstig, poog die Britte angsvallig om die Skotte as deel van die unie te behou. In Suid-Afrika word die referendum, met sy ooglopende tersaaklikheid vir die posisie van die Afrikanerminderheid, egter grootliks geïgnoreer, veral deur die Naspersmedia.

Sondag het ‘n niksseggende artikel in Rapport verskyn waarin die skrywer darem Afrikaners by die Skotse referendum betrek, maar dan kategories verklaar:

Die relatief swak polit­ieke posisie van selfbeskikkingsbewegings in Suid-Afrika is egter ’n weerspieëling van die land se sukses in die skepping van ’n inklusiewe bedeling waaraan die meeste mense steeds voel dat hulle ’n aandeel het.

Daarvoor is ons Nelson Mandela en Kie. steeds dank verskuldig.

Terwyl Afrikaners glad nie gelyk teenoor Engelse of swartes in Suid-Afrika behandel word nie, word daar kwalik teen Skotte binne die Britse stelsel gediskrimineer. Nogtans wil ten minste die helfte van Skotte van Engeland en die res van Brittanje afstig.

Beeld, nog ‘n Naspersorgaan, gee geen van die stortvloed menings deur skrywers, joernaliste, popsangers en modeontwerpers (Vivienne Westwood het haar so pas by die “ja”-kamp gevoeg) weer nie, maar voel genoop om die koningin van Engeland se uitspraak weer te gee. Soos Naspers se tydskrif, Die Huisgenoot, speel die Britse koningsgesin ‘n vername rol in die Beeld-bewussyn.

Beeld skryf:

Koningin Elizabeth II (88) het luidens berigte Sondag ná ’n kerkdiens naby haar Balmoral-landgoed in Skotland aan ’n omstander gesê: “Ek hoop die mense dink mooi voordat hulle die besluit oor die toekoms neem.”

Intussen raak die Britse politici so desperaat om die Skotse kiesers te paai dat al drie die vernaamste politieke leiers, David Cameron van die Konserwatiewes, Nigel Farrage van UKIP en Ed Milliband van die Arbeiders ‘n grootskaalse devolusie van magte aan Skotland belowe het indien hul “nee” sou stem en nogtans in die Britse unie aanbly.

Die Financial Times, wat gewoonlik ‘n sogenaamde “betaalmuur” op sy webblad handhaaf, het alle artikels oor die Skotse referendum vir die publiek oopgestel. Hoewel die koerant, soos die oorgrootte meerderheid Britse media, die “nee”-stem teen onafhanklikheid ondersteun, berig hy nogtans vandag oor ‘n groep Noorse skrywers, waaronder Jostein Gaarder (skrywer van Sophie se wêreld), wat sê:

“Ons bied ons ondersteuning vir Skotse aspirasies na onafhanklikheid en wil graag uitwys dat Noorweë se onafhanklikheid van Swede in 1905 tot die voordeel en verryking van beide lande se politieke kultuur gestrek het.”

Vivienne Westwood, die Engelse ontwerpster het haar steun insgelyks onomwonde aan die “ja”-kamp toegesê deur te verklaar: “Ek haat Engeland. Ek hou van Skotland want op ‘n manier dink ek dat hulle beter as ons is. Hulle is meer demokraties.” Sy het ook gesê dat “die probleem van demokrasie is dat dit ‘n tirannie van die meerderheid is”. Sy het mense wat “nee” teen Skotse onafhanklikheid stem as “dom en bang” beskryf en haar uitgespreek teen die Britse regering “wat die geld van die mense wegneem en dit aan die banke gee”.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.