‘Profeet’ se gastehuis stort ineen

Deel op

Amptenare van die Suid-Afrikaanse ambassade in Lagos in Nigerië fynkam hospitale in die hoofstad op soek na Suid-Afrikaners.

Hulle kan moontlik slagoffers wees van ‘n gastehuis wat by ‘n kerk, die Synagogue Church of All Nations, SCOAN ineengestort het. Die dodetal staan op 41.

Die gastehuis was glo besig om aanbouings te doen om nog verdiepings by die gebou te voeg. Meer as 130 beseerdes is reeds lewend uit die puin gered.

Die gebou huisves meestal buitelanders wat vanoor reg die wêreld kom om die omstrede pastoor en politieke prediker, T.B. Joshua te sien. Dit is onduidelik wat tot die ongeluk gelei het.

Die “Profeet” soos Joshua homself noem, sê ‘n klein vliegtuig het vier keer bo die gebou gedraai wat dalk ‘n aanduiding mag wees dat iemand hom wou dood hê, want vyf minute later het die struktuur meegegee sê hy.

Hy het omstanders aangemoedig om te getuig.

Die Departement van Internasionale Betrekkinge het bevestig dat die Suid-Afrikaanse Hoëkommissariaat in Nigerië in samewerking met die owerheid in Abuja probeer vasstel of daar enige Suid-Afrikaners beseer is in die ineenstorting.

EFF-leier, Julius Malema het Joshua, Nigerië se voorste charismatiese geneser en vyfde rykste pastoor in die land, ook vroeër besoek.

Winnie Madikizela-Mandela het in ‘n onderhoud in 2011 op Josua se televisiekanaal, Emmanuel TV, ná haar besoek aan SCOAN sy kerk geprys.

Ander besoekers sluit Zimbabwe se voormalige eerste minister Morgan Tsvangirai, Malawi se president Joyce Banda, koning Goodwill Zwelithini, en rugbyspeler Jaco van der Westhuizen in.

Nigeriese owerhede het bewerings verwerp dat die noodlottige ineenstorting van ‘n gastehuis in Lagos verbind kan word met verdagte vliegtuie.

Joshua, het intussen beeldmateriaal van die oomblikke voor die ineenstorting op sy TV-netwerk vertoon. Die polisie en reddingswerkers in die land sê die vliegtuie op die beeldmateriaal is duidelik daar omdat die gastehuis naby die lughawe geleë is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.