Wat van ‘n volkstaat in Noordoos-Duitsland?

Deel op

In 2009 het ek die onderstaande stuk op LitNet geskryf om, soos ek dit gestel het, “mense aan die dink te sit”. Toevallig doen ek tans weer navorsing oor die herkoms van Afrikaans en dit blyk al hoe meer dat ons taal nie net uit Nederlandse en Vlaamse dialekte ontwikkel het nie, maar ook uit Platduits, ‘n taal wat tussen 1300 en 1600 die grootste taal en lingua franca van die hele Noord-Europa was. Trouens, in  die 1300s is Platduits of oud-Afrikaans, om dit so te noem, deur die Deense konings as regstaal gebruik. Dis vir my toenemend duidelik dat Afrikaans nooit ‘n sogenaamde “kombuistaal” was nie; dit was nog altyd ‘n alternatief vir Nederlands en Hoogduits of Standaardduits, maar wat eers in Suid-Afrika deur ons Afrikaners gestandaardiseer is!

roodt_fbfotoEk luister tans radioprogramme in Platduits (waarbinne daar ook verskeie variante bestaan), maar hoe verder oos ‘n mens beweeg, hoe beter kan mens dit verstaan en hoe meer klink dit soos Afrikaans, met dié verskil dat hulle woordeskat en ons s’n taamlik verskil omdat hulle soveel woorde uit Standaard- of Hoogduits gebruik terwyl Afrikaans weer nader aan Nederlands gebly het. Maar die klanke van Platduits en Afrikaans is baie nader aan mekaar as aan Nederlands of Hoogduits. In vorige eeue het ons dus almal dieselfde taal gepraat!

Hier volg nou die stuk wat ek in 2009 geskryf het:

Ek wil nog vir Dirk D en ander antwoord op hul punte van kritiek teen ‘n volkstaat. Maar noudat ek mense aan die dink gesit het, hier is nog ‘n idee: Wat van ‘n volkstaat in Oos-Duitsland, meer presies die deelstaat van Mecklenburg-Voorpommere?

Toevallig het ek vandag besoek gehad van ‘n Duitse skrywer wat ‘n boek wil skryf oor diskriminasie teen blankes in Suid-Afrika, betyds vir die sokker-wêreldbeker in 2010. Hy het reeds verlede jaar ‘n boek oor Zimbabwe gepubliseer.

Volgens hom is die voormalige Oos-Duitsland besig om te ontvolk en sou ons geredelik ‘n volkstaat daar kon vestig. In die deelstaat Mecklenburg-Voorpommere waarvan die skilderagtige hoofstad Schwerin slegs 95 855 inwoners het, is daar allerlei finansiële aansporings van sowel Duitsland as die Europese Unie om nuwe ondernemings te begin.

Die ligging van Mecklenburg-Voorpommere in Duitsland
Die ligging van Mecklenburg-Voorpommere in Duitsland

Nie net is daar geen diskriminasie teen witmense nie, hulle gaan ons honderde duisende euro’s betaal om werk vir voormalige Oos-Duitsers te skep wat deur veertig jaar van kommunisme tot psigiese en ekonomiese invalides gereduseer is. Iets soos dít waarmee die ANC hier besig is.

Afrikanerverteenwoordigers kan ‘n spesiale pakket van immigrasiemaatreëls met Duitsland beding en ons kan ‘n soort vlugtelingstatus daar bekom, gegewe die feit dat ons die slagoffers van etniese suiwering in ons geboorteland is. Terselfdertyd sal ons onderneem om geen las op die Duitse welvaartstaat te wees nie.

Binne ‘n baie kort tyd kan twee tot drie miljoen Afrikaners in ‘n eksodus vanuit Mzansi in Mecklenburg-Voorpommere aankom. Elke persoon kan ‘n houervrag of twee van persoonlike besittings op ‘n skip laat laai. Om ‘n houer Europa toe te stuur, kos seker so R10-15 000, baie minder as wat die gemiddelde persoon jaarliks aan veiligheidsdienste, hospitaalkostes en begrafnisdienste bestee, gegewe die lae-intensiteit-oorlog wat ons sogenaamde medeburgers teen ons voer en wat ten doel het om ons uit die land te verdryf, net soos wat hul broers in Zimbabwe met daardie land se Westerse bevolking gedoen het.

Ons sal al ons boeke, klere en persoonlike items saamneem, eiendomme en motors verkoop teen die prys wat ons kan kry en die res agterlaat. Immers het ons ‘n oorlog verloor soos wat die ANC-leierskap ons al oor en oor verseker het (selfs Sam Nujoma het gesê: “We conquered the Boers.”) en sal die oorwinnaars die buit tussen hulle verdeel. Natuurlik is die oorwinnaars reeds besig om die buit te verdeel, maar sodoende kan die proses verhaas word.

Die oustad van Rostock, die grootste stad in Mecklenburg-Voorpommere. Let op die ooreenkoms tussen die argitektuur en Nederland s'n of selfs ons Kaaps-Hollandse gewelstyl...
Die oustad van Rostock, die grootste stad in Mecklenburg-Voorpommere. Let op die ooreenkoms tussen die argitektuur en Nederland s’n of selfs ons Kaaps-Hollandse gewelstyl…

Die gevolge vir Mzansi sal onmiddellik voelbaar wees: landbou wat in duie stort soos wat ons boere hul plase oplaas sonder om te kibbel aan die GEKKE (Grondeisekommissarisse) verkoop, die eiendoms- en motormark wat oorlaai word, die rand wat onder die uitvloei van buitelandse valuta tot R20 per dollar en swakker verhandel, universiteite wat nie meer dosente het nie en ‘n groot deel van die land se rekenmeesters, dokters, tandartse en aptekers wat nie meer daar gaan wees nie. Gelukkig staan minister Barbara Hogan reg om gesondheidspersoneel vanuit Indië, Kuba en elders in te voer en sal ons nie gemis word nie.

Die Schwerin-kasteel, waarin die Landtag (provinsiale parlement) van Mecklenburg-Voorpommere geleë is
Die Schwerin-kasteel, waarin die Landtag (deelstaatparlement) van Mecklenburg-Voorpommere geleë is

Ons sal en masse in Mecklenburg-Voorpommere aankom en binnekort die meerderheid van die deelstaat se bevolking wees. Mettertyd kan ons met Duitsland oor selfbeskikking onderhandel en binne die land se federale stelsel dieselfde soort status as Vlaandere in België bekom. Afrikaans kan dalk as amptelike taal van die Europese Unie erken word. Schwerin, pleks van Pretoria, sal voortaan ons hoofstad wees. Ons kinders sal Hoog-Duits aanleer, maar terselfdertyd sal daar steeds Afrikaanse skole en universiteite wees. Die misdaad in Duitsland is van die laagste ter wêreld en ons sal feitlik nooit weer ons deure hoef te sluit nie.

Ons sal boer, hospitale en klinieke bedryf, vir ons kinders skoolhou, hotelle en gastehuise bedryf en hoëtegnologiebedrywe vestig. Vanweë ons kennis van Engels en die nabyheid van Pole en Rusland, sal ons ‘n belangrike skakel tussen die VSA, Groot-Brittanje en Oos-Europa word. Ons kan allerlei invoer-uitvoerbedrywe ook oprig. Die boubedryf sal ‘n geweldige opbloei beleef soos wat ons tydens die aanvanklike fase vir ons huise, kantore, skole, klinieke, ens bou. Die 1,7 miljoen Duitsers in die deelstaat sal vir ons Duits leer en ons kan aan hulle ons Nederfrankiese dialek, wat ná 350 jaar in Afrika bietjie anders klink, oordra.

Trouens, die dialek in Mecklenburg-Voorpommere is Nederduits, wat taamlik naby aan Afrikaans is. Bismarck en Paul Kruger kon mekaar destyds verstaan as Kruger sy Afrikaanse Hollands en Bismarck Nederduits gepraat het.

Ons sal gelukkig en vry wees en die enigste ding waaroor ons sal kla, sal die Duitse burokrasie wees.

Náskrif 2014: Hoewel ek glo dat ons met die regte leierskap weer grondgebied en ‘n byna oorheersende posisie in Suider-Afrika soos onder Verwoerd in die sestigjare kan bekom, is Afrika steeds besig om ‘n bevolkingsontploffing te beleef, met die vasteland se bevolking wat oor dertig jaar op 2 500 000 000 mense te staan gaan kom. Suid-Afrika se bevolking gaan beslis tot 100 miljoen styg en kan met immigrasie selfs 200 miljoen haal. Die bevolkingsdruk, ellende, misdaad en geweld wat met so ‘n groot bevolking gepaard sal gaan, sal die huidige toestand seker na ‘n piekniek laat lyk. Mettertyd sal ons óf vermoor óf uit die land verdryf word. Dus moet ons nie die strategiese opsie van ‘n ordelike massa-emigrasie buite rekening laat nie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.