Uitspraak in die Oscar Pistorius-moordverhoor sal Donderdag gelewer word. Pistorius staan tereg op vier aanklagte waaronder moord met voorbedagte rade op sy vriendin, Reeva Steenkamp.
‘n Groot mediateenwoordigheid word vanoggend verwag by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria vir die uitspraak in die moordverhoor verwag.
Meer as 150 plaaslike en internasionale joernaliste sal na verwagting die hofsale GC en GD volpak om na die regter se beslissing te luister. Regter Thokozile Masipa sal om halftien met haar uitspraak begin.
‘n Woordvoerder van die mediamonitormaatskappy, Roi, Tonya Khoury, sê die uitspraak sal wêreldnuus wees vir die volgende twee dae.
Regskenners sê ‘n skuldigbevinding aan moord, sal beteken dat daar bevind word dat die gestremde atleet onwettig opgetree het en sy vriendin doelbewus doodgeskiet het.
Om hom skuldig te vind aan strafbare manslag, moet die hof bevind dat Steenkamp se dood aan nalatigheid aan die kant van die beskuldigde te wyte was.
Die regter sal albei weergawes van die verdediging sowel as die aanklaer moet oorweeg om te bepaal of die Staat sy weergawe bo redelike twyfel bewys het, naamlik dat Pistorius Steenkamp doelbewus doodgeskiet het.
Die verdediging hoef slegs te bewys dat Pistorius se weergawe van die gebeure redelik is en waar kan wees.