Die minister van grondhervorming, Gugile Nkwinti, se voorstelle by die grondberaad dat daar ‘n beletsel geplaas moet word op die hoeveelheid grond wat landbouers mag besit, is sy eie idee, het City Press berig.
Daar is dus nog geen duidelikheid oor die minister se voorstel dat landbouers 50% van hul grond aan hul swart plaaswerkers moet afstaan nie. Boonop is die riglyne wat Nkwinti stel onuitvoerbaar.
City Press het berig dat die oordrag van wit eienaarskap na swart arbeiders die minister se eie voorstel is en dat hy nie goedkeuring van enige van die ANC-strukture of regeringstrukture gehad het om met so ʼn voorstel vorendag te kom nie.
Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se hoofstuk ses bevat daarbenewens heeltemal ander voorstelle vir grondhervorming op distriksvlak.
Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het die NOP-voorstelle vroeër aan kommersiële landbouers voorgehou, wat verskil van die Nkwinti-planne.
Daar is voorts nog geen duidelikheid oor wat presies die nuwe onteieningswet behels wat deur die kabinet goedgekeur is nie.
Intussen het adjunk-president Cyril Ramaphosa verlede week kommersiële landbouers in Limpopo aangemoedig om opnuut in landbou te belê en as wildboere hul belange uit te brei.
Oor Nkwinti se ondeurdagte grondgrypvoorstelle was daar byna nog geen konsultasie met die landboubedryf nie, wat tot onherstelbare skade vir boerdery gelei het. Boere neem tans ingrypende besluite om hul kennis, vaardighede en beleggings buite Suid-Afrika aan te wend.
Uitbreidings word dus gestaak en werkersgetalle neem af deur weens die onophoudelike en wêreldvreemde ideologiese opswepery. Die onherstelbare skade aan die Suid-Afrikaanse landbou is tot groot nadeel van voedselsekerheid in Suid-Afrika.