Quo vadis Afrikaner?

Deel op

…die modieuse skrywers van sestig, André Brink aan die spits, met hulle patologiese brousel van Afrikanerhaat en seks.

Deel op

‘n Opmerking wat ons dikwels hoor, is dat Afrikaners onmobiliseerbaar is. Ons is natuurlik almal bitterlik gefrustreerd met die oënskynlike belangeloosheid en traagheid van Afrikaners, maar is die Afrikaner nou eenmaal onmobiliseerbaar en indien so, van wanneer af en waarom ? Dit kan tog nie wees dat dit vir die Afrikaner net gaan om rugby en geldmaak nie (vir diegene wat wel geldmaak). En as hy in die verlede wel mobiliseerbaar was, waarom toe en nou nie meer nie? Is dit nie sake waaroor ons duidelikheid moet kry nie as ons die probleem enigsins wil aanspreek?

Oor Afrikanermobilisering haal ek aan uit Wikipedia en wel rakende die skepping van die Reddingsdaadbond :

« Die Reddingsdaadbond met die leuse : « ‘n Volk red homself ! » was ‘n beweging wat ds J.D. Kestell op 8 Desember 1939 begin het vir die ekonomiese rehabilitasie van verarmde Afrikaners. Die bond het in 1957 ontbind.

Die stigting het sowat ‘n jaar na die reuse-saamtrek van Afrikaners tydens die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in Pretoria op 16 Desember 1938 gevolg, op ‘n tydstip toe daar besondere samehorigheid onder Afrikaners geheers het. Leiers van die volk het hulle destyds daaroor bekommer dat sowat 300 000 Afrikaners (byna ‘n derde ) verarm was.

Baie Afrikaners wat weer hulle voete begin vind het na die verwoesting wat die Anglo-Boereoorlog gesaai het, het tydens die Groot Depressie van die vroeë jare dertig weer alles verloor.

Terselfdertyd is Afrikaners se volksbesef aangewakker deur die simboliese Ossewatrek na Pretoria in 1938. Daarom belê die FAK, onder aansporing van ds. Kestell, ‘n volkskongres in Bloemfontiein vir Oktober 1939. Op die kongres besluit afgevaardigdes om ‘n volksorganisasie op te rig met ‘n Christelik-Nasionale grondslag om die spaarkrag, koopkrag en mensevermoëns van Afrikaners te mobiliseer tot voordeel van die volk en so ontstaan die Reddingsdaadbond.

Die Bond het binne vyf jaar 400 takke en 70 000 lede gehad wat elkeen maandeliks ‘n lidmaatskapsfooi van ses pennies bygedra het. ‘n Derde van die fondse is vir administrasie gebruik, ‘n derde vir die afbetaling van ‘n lewenspolis of spaarplan vir elke lid en die orige derde as kommissie vir die persoon wat die fondse ingesamel het.

Die Bond het gehelp om honderde Afrikaanse ondernemings op die been te bring, wat werksgeleenthede vir Afrikaners in veral die stede geskep het, ondermeer Federale Volksbeleggings en die Afrikaanse Handelsinstituut. » (Einde van aanhaling)

Hierdie aanhaling moet gelees en weer gelees word, want elke woord tel.

Uit die inisiatiewe van die Reddingsdaadbond het ook gegroei maatskappye soos SANLAM en Volkskas, voordat lg., ironie van ironieë, verkoop is aan Barclays Bank, Dominion, Colonial and Overseas !

In die laat sestigerjare, ná die groot waterskeiding, nl. die dood van dr Verwoerd, is die Afrikaner weer gemobiliseer, maar hierdie keer om anti-Afrikaans te wees. Dít, te danke aan doelgerigte breinspoeling en kondisionering deur veral die «Nasionale» pers, die Burger en sy susterpublikasies, sowel as die modieuse skrywers van sestig, André Brink aan die spits, met hulle patologiese brousel van Afrikanerhaat en seks.

Ook nie so lank terug nie het die «Nasionale» Party busvragte Stellenboschse studente gemobiliseer om mnr Jaap Marais se vergaderings in die omgewing te gaan ontwrig. En waar wil ‘n mens ‘n meer massale mobilisasie kry as die een wat gevorm is agter die verwronge beginsels van De Klerk en sy lakeie. M.a.w. die Afrikaner was tot onlangs nog heel mobiliseerbaar, maar op ‘n manier wat ongelukkig tot sy eie ondergang gestrek het.

Waarom kon die Afrikaner dan in 1938/39 opstaan en die regte dinge doen en nou nie meer nie ?

Verskeie redes doen hulle voor:

In die eerste plek is daar nie leiers van die kaliber van ds Kestell nie. Of miskien wil die volk hulle nie hê nie. Want leiers word deur n volk voortgebring en nie andersom nie. Miskien het die volk genoeg gehad van leiers wat eintlik verleiers is en is hulle bang om weer verkeerd te kies. Dit bring ons by die volgende rede.

Daar is net nie die samehorigheidsgevoel onder Afrikaners wat daar in 1939 was nie. Trouens, enige verwysing na samehorigheid word, danksy die linkse propaganda van die «Nasionale» Party met argwaan en hoon as verkramp of outyds afgemaak. As ‘n mens jou met hierdie proganda wil vereenselwig, gaan jy vroeër of later die prys daarvoor betaal. En die afrekening het reeds begin.

‘n Verdere rede is dat die Afrikaner, ná sy skaamtelose verraad teenoor mense soos mnr Jaap Marais en ter ondersteuning van De Klerk en gespuis, besef dat hy geen ander keuse oor het nie as om maar met die vrug van sy skande saam te leef en sy kop in die sand te druk. As dit so is, dan is daar minstens nog iets positiefs oor die Afrikaner te sê: Hy kan darem nog skaam wees. Of miskien is dit al wat hy kan wees: Skaam. As hy maar skaam was oor die regte dinge. In stede daarvan dat hy sy lafhartige oorgawe in die gesig staar en skaamkry daaroor, gee hy voor dat hy dit vir die «regte redes» gedoen het: «Demokrasie», «regverdigheid», besorgdheid oor die «agtergeblewenes» en «verontregdes» en ten slotte, o ten slotte, vir redes van «Christelike» moraliteit. Alles in aanhalingstekens want nie een van hierdie dinge bestaan werklik nie.

Voorts: Die Afrikaner is deur voormelde breinspoeling en kondisionering omvorm tot die deursnee moderne Westerling. Die deursnee moderne Westerling, is materialisties, kortsigtig, dink net aan sy eie voordeel en genoegdoening, vermy konflik, soek die maklikste uitweg, is gemaksugtig, volg die neigings van die massas, strewe na wat modieus is, volg die rigting wat aangewys word deur die media, wil ten alle koste in pas wees.

Nog ‘n rede is dat die Afrikaner tot magteloosheid en sinisme gestem is juis weens die feit dat hy al hierdie dinge wat in die Wikipedia-artikel hier bo genoem word, reeds gedoen het. Wat is die sin daarvan om dit alles weer te doen, net sodat dit weer afgevat kan word. Dus, op ‘n manier tog realisties.

Kan dit wees dat dit met die Afrikaner nog nie sleg genoeg gaan nie. Kyk maar weer na die Wikipedia artikel: ‘n Derde van die Afrikanervolk in armoede. Dit kan wees dat ons nie in dieselfde mate in materiële armoede verkeer as toe nie, maar kyk maar na die situasie met ons taal, ons universiteite, ons skole, die veiligheid van ons mense, die hopelose posisie waarin ons verkeer ten opsigte van die regspleging. Enige regskape mens sou kon sien dit kan nie juis veel erger met ons gaan nie.

Ook is dit so dat waar die Afrikaner hom in die verlede aan sy eie skoenrieme kon optrek, kan hy dit nou nie meer doen nie. Alles wat hy vandag tot stand bring, is hy verplig om te oorhandig aan ‘n parasitiese bestel wat maar steeds soos aasvoëls sit en wag om hom te versluk aan enigiets onverdiends. Enige saak of opvoedingsinstansie of wat ook al hy op die been bring, word die volgende oomblik net weer ingepalm en afgeneem. Hierdie is ‘n probleem waaroor daar duskant ‘n volslae onafhanklike tuiste vir Afrikaners net geen oplossing bestaan nie.

Die laaste en miskien grootste probleem is dat die Afrikaner in 1939 duidelike en haalbare doelwitte gehad het. Hy wou, onder aansporing van ware leiers die verarmde deel van die volk weer op sy bene plaas en die Afrikaner in die algemeen ekonomies bemagtig. Daarbenewens het hy die vooruitsig gehad om ‘n verkiesing te kan wen en het hy dit trouens minder as tien jaar later reggekry. Waartoe kan die Afrikaner egter nou aspireer? Waarvoor kan hy nou gemobiliseer word? Wat is haalbaar? Kom ons wees eerlik, daar is omtrent niks.

Die hart van die saak is dus: ‘n Volk red homself.

Die pynlike vraag is egter, is die Afrikaner inderdaad nog ‘n volk? Ons wil nie definisies maak nie, maar die wesenlike element van nasieskap is tog sekerlik die wil om ‘n volk te wees. Reeds sedert die De Klerk-regime bestaan die indruk dat die Afrikaner homself beskou as ‘n gemeenskap eerder as ‘n volk. Die Afrikaanssprekende gemeenskap, so op die lees van die English-speaking community.

Wat sê ‘n mens dus nou oor ‘n volk wat nie wil nie, wat nie wil saamstaan nie, wat nie eers wil bestaan nie? Moontlik drie dinge :

  1. Word wakker mens, maak jou oë oop. Die oomblik om dit te doen is nóú, anders is jy vir eens en vir altyd verlore. Strewe na iets, die behoud van jou taal, die beskerming van jou skole en universiteite, ondersteuning van Afrikaanse sake-ondernemings, die beskerming van ou mense op plase, en les bes, selfbeskikking op eie grondgebied. Iets. Strewe net na iets.
  2. As jy nie die pad van vryheid wil inslaan nie en trouens die FW De Klerk-koers na onderdanigheid verkies en vir die DA wil stem, as dit jou keuse is, is die situasie waarin jy verkeer miskien dan maar al wat jy verdien. As die nuwe Suid-Afrika vir jou aanvaarbaar is, kan ons nie veel meer doen nie as om jou ‘n lang lewe van bierblik-agtermiddae by die (kwota) rakbie en gesellige aandjies op die TV met 7de laan toe te wens. Miskien is dit genoeg om jou gelukkig hou. Daar is natuurlik ook nog die opsies om te verengels of te verbaster of beide, maar daartoe benodig baie reeds geen aanmoediging nie.
  3. Vir die Afrikaner wat Afrikaner wil wees, weet ‘n mens werklik nie wat om te sê nie. Die verraad was hierdie keer te groot en te diep. Sommige sal hardnekkig volhou treur en tier en teen die prikkels skop en alle sterkte word hulle toegewens. Ander sal tot die slotsom kom, in die nuwe Suid-Afrika is daar vir ons net nie ‘n toekoms nie. Vele het reeds hierdie gevolgtrekking gemaak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.