Madonsela daarvan beskuldig dat sy CIA-spioen is

Deel op

Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela het die adjunkminister van Verdediging en Militêre Veterane, Kebby Maphatsoe drie dae gegee om met bewyse vorendag te kom nadat hy beweer het Madonsela is ‘n CIA-spioen.

Sy sê indien hy dit nie kan bewys nie, moet hy sy stelling terugtrek en amptelik om verskoning vra. Maphatsoe kan aangekla word van minagting van die Openbare Beskermer as hy nie aan die versoek voldoen nie.

Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Patrick Gaspard het bevestig dat ‘n amptelike diplomatieke klag gelê gaan word. Hy sê die bewerings is “ongegrond en beledigend”.

Gaspard, het homself Maandag tot Twitter gewend om Maphatsoe, ook voorsitter van die Umkhonto we-Sizwe militêre veterane-vereniging (MKMVV), uit te daag.

“Dit is problematies, maar onbelangrik weens ‘n gebrek aan geloofwaardigheid vir die gemiddelde Suid-Afrikaner wat deur die rookskerms sien,” het Gaspard getwiet.

Maphatsoe, wat Saterdag in Soweto die beskuldiging teen Madonsela gemaak het, het Maandag by Luthuli-huis in Johannesburg sy aanval voortgesit en bygevoeg buitelandse magte gebruik haar om die land te destabiliseer.

Verskeie ontleders meen egter dat Madonsela ‘n Britse agenda eerder as ‘n Amerikaanse agenda dryf.

Maphatsoe sê Madonsela was nooit ’n MK-lid soos sy vroeër beweer het nie. “Sy het ’n openlike agenda teen die ANC en pres. Zuma. Sy ondermyn parlementêre prosesse,” het Maphatsoe gesê.

Hy het ook verwys na ondersoeke deur Madonsela wat voortdurend aan die media uitgelek word.

Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, het gesê die party ondersteun die Openbare Beskermer se funksie wat ongehinderd en sonder vrees of guns verslag moet doen.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.