NAVO brei uit sonder MH17-vlugopnemerdatavrystelling

Deel op

NAVO is reeds in die Oekraïne. ‘n NAVO-kubersentrum is reeds sedert Maart in Kiëf bedrywig. Die sentrum is in die gebou van die land se Nasionale Veiligheidsraad en Verdediging. Die spul NAVO-burokrate bepaal tewens die nuusagenda in die Oekraïne en die onophoudelike demonisering van alles wat Russies is.

Daardie uitnemende Deense middelmatigheid by name Anders Fogh Rasmussen, is al hoe meer koorsig van oorlogsug. Die sekretaris-generaal het by die pasafgelope NAVO-beraad in Cardiff en Newport in Wallis weer bewys dat hy die mees gedienstige NeoCon-skoothondjie is. Maar “Fogh of War” het dalk iets laat deurskemer met sy ywer.

Terwyl hy weer “die voorafplasing van voorrade, [wapen]toerusting” bepleit het dié naweek vir iets wat klaarblyklik al voor die afskiet van vlug MH17 gereed was, begin algar wonder waarom die vrystelling van die data op die vlugopnemers van die Maleisiese rampvlug dan so kan talm?

Sou dit nie besonder geleë wees om juis dié data te hê voordat NAVO nog verdere aanvalsplanne teen Rusland met ‘n mag van 10 000 soldate uitdink nie? Die “snelreaksiemag”, terloops is ‘n presiese weergawe van die Amerikaanse Imperium se aanvalsdoktrine wat sedert die eeuwending geld.

“Toerusting”, ‘n eufemisme vir wapens, nuwe basisse en hoofkwartiere in gasheerlande asook die vinnige reaksiemag om te reageer op Russiese “aggressie” binne ‘n maksimum van vyf dae is in Wallis ooreengekom sonder dat iemand weet wie vlug MH17 met bykans 300 passasiers afgeskiet het.

Oekraïne is intussen besig om Duitsland se politieke toneel te vergiftig. Berlyn weet dat ‘n politieke oplossing die enigste oplossing is wat vir kiesers links, sentrum en regs aanvaarbaar sal wees. En Berlyn wil natuurlik toesien dat Russiese gas via die Oekraïne weer vloei. Berlyn wil veral nie Amerikaanse missielverdedigingstelsels in Oos-Europa sien nie, ten spyte van die Baltiese state se histeriese aandrang.

NAVO se entoesiastiese verkoopsman Rasmussen het voorheen met die verkragting van Irak gesmous. Kiesers in Duitsland sal nie weer dieselfde produk koop nie. Maar die hondsdol Angelsaksiese aanvalshond gaan nie maklik die aftog blaas nie, selfs by gebrek aan ‘n sondebok vir die dood van onskuldige passasiers.

Daar gaan dus nie meer “magte-rotasie” wees vir NAVO se oostelike front nie.

Volgens wet kan NAVO-basisse nie gedefinieer word as “permanent” nie, want dit druis in teen ‘n NAVO-Rusland-verdrag van 1997. Maar dit sal permanent wees. Dit sal in Szczecin, Pole, naby die Oossee, geleë wees om land, lug en see te “verdedig”.

En daar is nuttige idiote wat van die Atlantiese aandag hou. Estland en Letland is vir alle praktiese doeleindes as “Poetin se volgende doelwitte” teen “Russiese aggressie” aangewys.

Daarbenewens kan Finland en Swede NAVO-ooreenkomste onderteken om gasheerlande te wees. Dit impliseer NAVO-troepe mag Sweedse en Finse grondgebied gebruik in die toekoms vir “bedrywighede”.

Ten minste moet die ontplooiing van buitelandse troepe parlementêre goedkeuring in dié twee lande kry, dus kan die kiesers nog optree teen dié waansin.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.