Universiteit Stellenbosch: Ja, baas. Ons maak soos baas Blade Nzimande sê

Deel op

Ek het onlangs kritiek teen George Steyn, die raadsvoorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US), uitgespreek omdat hy niks anders as voortgang op die Russel Botman-pad vir hierdie inrigting kan voorsien nie. Steyn is ‘n sakeman en geen akademikus nie. Hy het geen eerstehandse kennis van universitêre onderrig (uit die oogpunt van die dosent) en navorsing nie. ‘n Mens sou dus verwag dat hy liewer sou swyg; des te meer omdat ‘n voorsitter veronderstel is om onpartydig te wees. Pleks daarvan het Steyn besluit om, in die afwesigheid van Botman, sy posisie te gebruik, of eintlik te misbruik, deur hierdie leemte te vul met uitlatings oor wat hy vir die US in gedagte het. Self is hy egter nie in staat om iets oorspronkliks vir die universiteit te bedink of visualiseer nie. Hy kan bloot pleit dat op die (vir hom) wonderlike Botman-pad, wat identies met die ANC- of Blade Nzimande- of kommunistiese pad is, volhard moet word.

NUUT!

Ek het Steyn se standpunt, soos gestel in Die Burger van 9 Augustus, in besonderhede op Praag (17.08) gekritiseer. Dit het geen aanklank by Steyn gevind nie. Op 24 Augustus het hy wesenlik dieselfde teks, maar vertaal, in die Weekend Argus gepubliseer. By albei geleenthede is Steyn se teks op die US-webwerf hergepubliseer. Steyn se mening is dus besig om die US te deursuur. Dat hierdie waarneming geldig is, blyk uit wat hieronder volg.

In die Argus-artikel gaan dit vir Steyn maar weer om “to ensure continuity;” dus waarom krap aan iets wat reg is. Die wesenlike probleem is egter dat die US polities reg het, dus die meerderheidspolitiek slaafs navolg, maar akademies ‘n dwase weg bewandel. “We are not planning a change in direction.” Daar is “transformation targets” wat deur die US nagejaag word om nie-wittes te bevoordeel. Daarenteen is kwotas om Afrikaans en blankes se belange te beskerm, taboe. “SU has not worn the Afrikaner blazer for a very long time.” Steeds word daar geen afkeer uitgespreek van ‘n ANC- of kommunistiese inslag wat so kenmerkend van die Botman-bewind was nie.

Eintlik al wat nuut by Steyn se tweede artikel ingevoeg is, is dat die verwysing na “the Nazi salute” aan die Noordwes-universiteit (NWU) aangevul is met vermelding van “students dressing up as black housekeepers” aan die Universiteit Pretoria (UP). Die US neem dus met Steyn se komplimente deel aan die onbillike verguising van twee ander universiteite waar Afrikaans darem nog as onderrigmedium voortbestaan.

Die algemene sekretaris of voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en ANC-minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, en Russel Botman, die vorige US-rektor, het dieselfde visie vir hierdie universiteit gedeel. Botman was in hart en niere eerder ‘n ANC-aktivis as ‘n akademikus. Nzimande het openlik verklaar dat daar nie plek vir Afrikaanse universiteite is nie; net Suid-Afrikaanse universiteite het glo bestaansreg (Die Burger, 23.07, p 2). In die praktyk beteken dit dat eintlik net universiteite met Engels as onderrigmedium op owerheidsubsidiëring geregtig is.

Universiteite wat voortgaan om onderrig in Afrikaans aan te bied, soos veral die Potchefstroom-kampus van die NWU en die US, is dus by uitstek in Nzimande se visier. Waarna Nzimande soek, is iets (bv ‘n insident, hoe gering ook al) waarmee hy ‘n eens Afrikaanse universiteit kan diskrediteer. Hy misbruik dit dan as voorwendsel om aan te dring op verandering, oftewel transformasie (veral verswarting en verengelsing). Aan die Universiteit Vrystaat was daar die Reitz-insident, op Potchefstroom die “Nazi-saluut” en aan die UP die twee studente wat hulle swart gesmeer en geklee het om soos huishulpe te lyk. In geen normale samelewing sou sulke onbenullighede ‘n rimpeling veroorsaak het nie. In die nuwe Suid-Afrika is hierdie voorvalle egter opgeblaas tot toonbeelde van die uiterste rassisme.

Dit is die agtergrond vir Nzimande se jongste skuif. Hy het “‘n konsep-beleid oor sosiale inklusiwiteit” bekend gestel (Die Burger, 22.08, p 2). Hy verwag van al die universiteite om hierdie handleiding sonder meer te volg as hulle op voortgesette finansiële steun van die staat aanspraak wil maak. “Praktyke wat sekere groepe uitsluit, kan nie by Suid-Afrika se tersiêre instellings voortgesit word nie – dit is diskriminerend en het ‘n nadelige impak op die akademiese prestasie en integrasie van studente.” Let op hoe Nzimande akademiese prestasie en rasse-integrasie koppel, asof hulle vanselfsprekend van mekaar afhanklik is. Dit is maklik voorstelbaar dat akademiese prestasie juis beter in ‘n meer homogene etniese en taal-omgewing gedy.

Oor Nzimande se voorskrifte: “Dié wydlopende beleid het ten doel om te verseker dat onderwysinstellings integrasie, ‘n kultuur van menseregte, eenheid en menswaardigheid erken en bevorder.” Waarop dit neerkom, is die outoritêre, verpligte opdringing van ANC-beleid aan alle tersiêre inrigtings. Alles word uit ‘n nie-wit hoek betrag: “Ingevolge die beleid moet daar optrede ten gunste van minderbevoordeelde groepe wees, maatskaplike kohesie bevorder word, koshuise bevorder word wat gemengde kulture en rassegroepe verteenwoordig en geld vir landelike studente bewillig word.” Kortom, Nzimande skryf voor dat nie-wittes bevoordeel en wittes benadeel moet word.

“Nzimande het verlede maand in sy begrotingstoespraak kommer uitgespreek oor die volgehoue ‘outoritêre en semi-militaristiese’ ontgroeningspraktyke by sommige universiteite. Hy het tóé gesê sulke praktyke grens aan rassisme en het ten doel om baie studente uit te sluit en gemarginaliseer te laat voel.” Dit is myns insiens onwaarskynlik dat (baie) studente op Potchefstroom uitgesluit en gemarginaliseer gevoel het. Nzimande roem daarop dat sy hoofbydrae tot die “bevrydingstryd” die afbrand van die biblioteek van die Universiteit Zoeloeland is. Hy moet darem ‘n dik vel hê om hom as ‘n geskikte bekleër van die pos van minister van hoër onderwys te beskou. ‘n Nog dikker vel is by so iemand nodig om moreel hovaardig oor beweerde rassisme te predik. Nzimande: “Ons sal nie rasse- of etnies-eksklusiewe instellings toelaat nie. Dit is agterlik en hoort nie in ‘n demokratiese Suid-Afrika nie.” Is die afbrand van ‘n biblioteek nie oneindig meer agterlik/onbeskaaf nie?

“Gevra waar dié beleid outonomie van instellings laat, het hy [Nzimande] geantwoord: ‘Ons moenie as Suid-Afrikaners toelaat dat die outonomie van instellings ‘n veilige hawe vir politieke skurke word nie.” Het iemand wat ‘n biblioteek afbrand nie ‘n baie sterker aanspraak op skurkskap nie? Wat duidelik uit Nzimande te reaksie blyk, is dat hy nie ‘n flenter omgee vir universitêre outonomie nie. Van die kant van die universiteite het hierteen nog geen beswaar hoegenaamd opgeklink nie. Hoe gou en hard is daar nie gekerm sodra die “apartheidsregime” met outoritêre universitêre maatreëls gekom het nie. In die nuwe Suid-Afrika het al die universiteite egter sonder protes gaan lê.

Die NWU het by monde van sy nuwe rektor soos volg op Nzimande se jongste skuif gereageer. Dan Kgwadi “het die beleid as ‘n ‘positiewe ontwikkeling’ bestempel. ‘Ons glo ons berei studente voor vir ‘n geïntegreerde samelewing. Ons verwelkom die beleid en ons raad is reeds in ‘n gevorderde stadium om te verseker dat studente daaraan voldoen.'” Wat ons hier het, is openlike erkenning dat studente geïndoktrineer word. Dit is myns insiens glashelder dat rasse-integrasie swartes (meesal) bevoordeel en blankes (meesal) benadeel. Ons is dalk ‘n haarbreedte weg van die verpligting dat wittes met nie-wittes (veral swartes) moet trou. Dit sou immers ‘n hupstoot aan “‘n geïntegreerde samelewing” gee. Waarom koshuisintegrasie afdwing maar dan huisgesin-integrasie agterweë laat? Omdat daar baie minder blankes as swartes is, sou verpligte inklusiewe huwelike net van blankes vereis word. Dit is versoenbaar met ANC-beleid waarvolgens blankes die offers moet bring en swartes skotvry daarvan afkom.

Nzimande se beleid is in ooreenstemming met dié van die ANC, dus konsekwent pro-swart en anti-wit. Dit is die eens blanke universiteite wat moet integreer; nie tradisioneel swart universiteite nie. Dit is die tradisioneel blanke koshuise wat aan verpligte integrasie onderwerp word. Daar is geen of min druk op histories swart universiteite en koshuise om dieselfde te doen. Swartes het dus die keuse om in ‘n swart omgewing of in ‘n geïntegreerde opset te studeer en te leef. Dieselfde geld natuurlik woongebiede en skole dwarsoor die land. Aan wittes word nie hierdie vryheid van keuse gegun wat swartes geniet nie.

Ek het onlangs Donna Bryson se boek, It’s a Black-White Thing (2014), op Praag (10 08) bespreek. Let op die volgende aanhaling: “Integration in residences is still an incomplete journey, notably in some historically black residences” (Kindle 911). Byvoorbeeld, die koshuis Khayalami van die Universiteit Vrystaat “remains predominantly black” (2268). Dus, die tradisioneel wit koshuise word deur die rektor, Jonathan Jansen, verplig om op ‘n 50/50-grondslag te integreer, maar sodanige gedwonge integrasie word nie (in dieselfde mate) aan die swart koshuise opgedring nie.

Die Potchefstroom-kampus van die NWU is die Afrikaansste in die land. By monde van sy swart rektor is Nzimande se jongste inmenging verwelkom. Hoe het die Afrikaansste universiteit, die US, gereageer? Weens die afsterwe van sy rektor word die US-kitaar op die oomblik deur die vise-rektore, soos die waarnemende rektor, Leopold van Huyssteen, en Arnold Schoonwinkel (Praag 17.08), asook die raadsvoorsitter, George Steyn, geslaan. Hulle is almal oënskynlik pro-Botman- en dus ANC-gesind. Botman se nalatenskap word bv spesiaal tydens Erfenis e’Bosch gevier (US-webwerf 29.08). Onlangs het daar weer skok en verbasing opgeklink oor die getal en intensiteit van die misdadige voorvalle op die US-kampus (US-webwerf 31.08). Die misdadige US-kampus en dorp was nogeens die hoofberig op die voorbladsy van Die Burger (1 deser). Met ingang 2015 sal geen toetse en eksamens meer saans afgelê word nie (Die Burger, 2 deser, p 4). Weens misdaad kan die US dus nie meer akademies soos voorheen behoorlik funksioneer nie. Die ontstaan van hierdie haglike situasie kan teruggevoer word na die wens wat Botman in sy 2007-intreerede vir ‘n swarter US en Stellenbosch-dorp uitgespreek het.

Desnieteenstaande is die huidige US-bestuur oorgehaal om op die Botman-pad te volhard. Glo dit as u wil, die US se reaksie op Nzimande se jongste skuif is selfs meer oordraad ANC-gedienstig as dié van die NWU. Pleks van weerstand teen Nzimande se vermetele inmenging te bied, roem die US daarop dat hy reeds lankal op hierdie ANC-pad is. Soos ‘n Johannes die Doper het die US dus as ‘t ware as ‘n wegbereider vir Nzimande se beleid gefunksioneer. Die US het daarvolgens lankal uit die Afrikaner-laer gebreek en die pad van ANC-saligheid betree.

“Verskeie aspekte wat in ‘n konsepbeleidsraamwerk oor maatskaplike inklusiwiteit vir hoër onderwysinstellings vervat is, is reeds deur die … US as prioriteit geïdentifiseer en word reeds toegepas. Die US het, soos die … NWU, die raamwerk verwelkom wat Donderdag deur dr Blade Nzimande … aangekondig is. Die raamwerk is daarop gerig om te verseker dat onderwysinstellings integrasie, menseregte, diversiteit en menswaardigheid bevorder” (Die Burger, 25.08, p 2).

“Die US-raad het verlede jaar die Institusionele Voorneme en Strategie (IVS) goedgekeur wat die universiteit se Visie 2030 as ‘inklusief, innoverend en toekomsgerig’ stel. Volgens prof Leopold van Huyssteen … is die US se inisiatiewe gebore uit oortuiging en nie omdat landswette dit dryf om dit te doen nie. Swart, bruin en Indiër-studente maak tans ‘n derde van die US se voorgraadse studentetal uit en die doelwit is om dit teen 2018-’19 tot 50% te verhoog … In ‘n poging om die diversiteitsprofiel van sy studente te vergroot, is verskeie werwingsinisiatiewe reeds geneem.” Vervolgens word daar ook melding gemaak van “werwingsbeurse” en “mentor- en diversiteitsprogramme in koshuise.”

Al hierdie inisiatiewe is nie-akademies, naamlik polities, gemotiveer. Dit is onwaarskynlik dat hulle in enige opsig die veelgeprese akademiese voortreflikheid aan die US bevorder. Wat eerder hoogs waarskynlik is, is die verslegting van die akademiese gehalte (insluitende potensiaal) van die studente, asook die verlaging van akademiese standaarde. Verder, as die twee universiteite teen wie Nzimande se voorskrifte by uitstek gemik is, die US en NWU, só gedienstig reageer, sal dit hierdie kommunistiese minister sekerlik aanmoedig om met verdere drakoniese, anti-akademiese maatreëls vorendag te kom.

Gelukkig is ek nie die enigste waarnemer wat oor die kruipsugtigheid van die huidige US-bestuur bekommerd is nie. Pieter van der Merwe, Bellville, het soos volg geskryf. Ek haal sy brief volledig aan: “Dr Blade het gesê ‘spring’, en die Universiteit Stellenbosch het onmiddellik met ‘hoe hoog?’ gereageer. Ek verwys nou na ‘US steun regering se plan vir inklusiwiteit’ (DB, 25.08). Dink prof Van Huyssteen dat daar iets van Afrikaans aan Maties oor sal wees as hy en sy mede-‘oortuigdes’ se visie ‘n werklikheid word? Gee hy om? En hoekom 50% eers teen 2018-’19? Hoekom nie sommer al van volgende jaar af nie? Dan kan die oogmerk van ‘n oorwegernd anderskleurige, Engelstalige universiteit mos nóg gouer verwesenlik word. Buitendien is 18-19% nie ‘n korrekte weerspieëling van die land se demografie nie. ‘n Mens sou seker van die drywers van hierdie ‘uit oortuiging gebore’ inisiatief kon verwag om ‘n voorbeeld te stel deur te bedank sodat inklusiwiteit ook onmiddellik op personeel- en raadsvlak kan geskied. Die Randse Afrikaanse Universiteit het You-Jay [UJ – University of Johannesburg] geword. Die Afrikaners wat die dryfkrag agter die stigting van die Universiteit van Port Elizabeth was, is lankal vergete. Wat gaan die Universiteit Stellenbosch teen 2018-’19 genoem word? Dalk is ek ál een wat so voel, maar ek wil tog sê mense wat hul erfenis ten koste van politieke korrektheid vertrap, maak my siek” (Die Burger, 30.08, p 14).

In die lig van die voorafgaande moet ek dit ongelukkig as my oortuiging stel dat die US (en die NWU) klaarblyklik vir die Afrikaner, Afrikaans, Europese beskawing en die akademie (grootliks) verlore is. Vergelyk dit met wat die US eens was. In die woorde van Willie Esterhuyse: “Stellenbosch was destyds ‘n intellektuele en kulturele Mekka van die Afrikanerdom” (Eindstryd, 2012, p 19). Die oud-Broeder Esterhuyse beywer hom reeds dekades lank vir ‘n getransformeerde US. Myns insiens is dit nie wat die US nodig het nie.

Wat die US nodig het, is ‘n Afrikaner-Simson wat die politieke pilare waarop die US tans staan, omtrek. Wat broodnodig is, is ‘n rektor wat ideologie verstaan en gesonde, akademies-gegronde weerstand teen ‘n kommunistiese ideoloog soos Nzimande bied. So iemand sal aandring op basiese akademiese vereistes, soos universitêre outonomie, ideologiese neutraliteit en akademiese vryheid. Ook dat studentetoelating en die toekenning van studiebeurse op grond van bewese akademiese prestasie (nie potensiaal nie) moet geskied. Ook dat dosente en navorsers op akademiese gronde (bv formele kwalifikasies, ondervinding, publikasies) aangestel en bevorder moet word; nie op etniese en seksistiese gronde soos tans dikwels gebeur nie. So ‘n rektor sal nie laag kruip voor Nzimande en die ANC-regering nie, maar eerder sy tyd bestee aan pogings om die akademiese aansien van die US te herstel en terug te keer tot Afrikaans as sy enigste statutêre onderrigtaal.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.