Die vyand se wiele

Deel op

In ‘n vorige bydrae is melding gemaak van die rol van die Amerikanisme in die aanslag op die blanke ras en die Afrikaner spesifiek. Maar daar is nog ander belangrike redes wat natuurlik verband hou met die genoemde Amerikanisme. In ‘n groot mate het dit te make met die ankerloosheid van die moderne Westerse mens en die maniere waarop hy alternatiewe vasmeerplekke probeer skep. Die vashouplekke van die verlede verdwyn een na die ander: christelike waardes, die kommunisme en die nasionaalsosialisme, gediskrediteer deur die ervarings van WO2 en daarna. Wat bly dus oor om in te glo? Vir die afgelope aantal dekades was dit die obsessie met ras en die ou gunsteling, kapitalisme, wat, soos aangetoon sal word, nou met die rassebeheptheid verbonde is. Alles gaan min of meer daarom om ‘n lugleegte te probeer vul.

Amerikanisme, wêreldkapitalisme, rassewaansin, die drietandvurk van die bose waarteen die vryheidstryd van die behoudendes in die 21ste eeu gevoer sal moet word.

Die dryfveer van die kapitalisme is die winsmotief. Daar moet altyd net meer winste getoon word ten einde die aandeelhouers se vraatsug te bevredig. Die mens moet gereduseer word tot ‘n eenvormige, identiteitlose verbruikersinsek. Die kultuurwaardes wat bevorder moet word om die geestelike leegheid te vul, is dié van Hollywoodse prulle en popmusiek. Of almal nou Engels praat of almal ongeveer dieselfde lyk, m.a.w. ‘n soort gelerige verskynsel met kakiepeperkorrels, des te beter. Dit vereenvoudig net die taak van die internasionale finansiële oligargie om die lotgevalle van die mensdom beter te beheer en tot hulle eie voordeel uit te buit. Al wat tel, is ‘n groter en groter masssa van kopers en verbruikers en genereerders van winste. Dis duidelik dat die Afrikaner, met sy sterk identiteitsbewussyn en nasionalisme in die pad van hierdie program gestaan het en nog staan. Die beheptheid van die «internasionale gemeenskap» met Afrika en die «ontwikkeling» van Afrika, mag ingeklee wees in morele en humanitêre terme, maar dis net nog ‘n verdere poging om markte te skep en groter winste vir die finansiële maghebbers te bewerkstellig.

In Suid-Afrika self is dit nie anders gesteld nie. Ook hier was die versugting van die geldmagte om groter winste te toon die dryfkrag agter die program van oorgawe, ‘n versugting wat suksesvol deur die oorgawe bevredig is. Die Nasionale Party was maar net die hond wat deur die finansiële stert geswaai is.

Naspers is ‘n goeie voorbeeld: ‘n kapitaalkragtige, maar in wêreldterme relatief klein, maatskappy. Hulle oogmerk: winste en nogmaals winste. Die waarde van hulle advertensieruimte word deur die aantal lesers bepaal. En natuurlik lê die getalle lesers en die groeipotensiaal daarvan by die kleurlinge en swartes. So waarom sou Naspers hulle lesersgetalle en advertensie-inkomste in gevaar stel deur hulle oor Afrikanerbelange te bekommer en dít terwyl Afrikaners in elk geval gedienstig en gedweë die Nasperspublikasies koop? Die finansiële belange van Naspers kan veel beter gedien word deur die Afrikaners te vertrap en te verguis. En hierdie voorbeeld kan net so op die situasie wêreldwyd toegepas word. Die nie-wit rasse is wêreldwyd verreweg in die meerderheid en soos die oligargie van superrykes dit sien, verteenwoordig hulle die koopkrag van die toekoms waarvoor die witman gerus maar opgeoffer kan word.

Die Westerse mens is deur die finansiële wêreldmagte op ‘n pad van uitwissing geplaas en hulle beskawing word na die afgrond gerig. En dit geskied natuurlik, soos altyd, met die ywerige medewerking van die keffertjies in die media, wat op die voorpunt van die beweging verkeer.

Die wêreldoligargie van finansiële magshebbers kan teen die agtergond van die sukses van die globale program die afgelope dekades seker gelukkig voel, want dit het vir hulle inderdaad monstrueuse rykdomme geskep. Oral in die wêreld neem die gebruik van die Engelse taal toe en verskuif nasionale kulture en identiteite na die agtergrond. En oral word gemeng en verbaster. Maar daar is tog hoop, want die wêreldkapitalisme het ‘n klippie in die skoen.

Die klippie in die skoen is die perverse effek van die stelsel self wat hulle tot stand gebring het. In die meeste Westerse lande het die finansiële posisie van die middel- en laer finansiële klasse oor die afgelope drie-vier dekades drasties verswak. (Doelbewus bewerkstellig miskien?) Werkloosheid in Westerse lande is reeds massaal en aan die groei. Die verskille tussen die rykstes en die armstes is snel aan die toeneem. Die verbruikersmark is inderdaad nie besig om te groei nie, maar om te krimp. En die meesterideologie van gelykheid en eendersheid lyk ook maar so’n bietjie uitasem. Inderwaarheid is die wiele van die internasionale finansiële en ekonomiese orde besig om een vir een af te val. Sedert 2008 het 504 banke in Amerika alleen ineengestort waaronder finansiële mastodonte soos Lehman Brothers en Bear Stearns en baie vooraanstaande ekonome voorspel dat die ergste nog voorlê.

In baie Westerse lande bedryf regerings programme om wankelmoedige privaatmaatskapye in staat te stel om te belê, uit te brei en werkers in diens geneem. Tienmiljarde euro’s is hierby betrokke. Dit blyk nou dat in sommige lande waar miljarde se europrogramme, in die vorm van subsidies of belastingkortings tans in swang is, die voordele byna volledig in die vorm van dividende aan aandeelhouers uitgekeer word. Dit beteken dat bv. Sosialistiese regerings die aandeelhouers van private maatskapye met belastinggeld subsideer. Teater van die absurde? Nee, die ware werklikheid. Dit sê ook iets oor die veelgeroemde private ondernemerskap dat hulle moet oorleef op die gunste en gawes van (Sosialistiese) regerings! In Frankryk betaal groot maatskappye belasting teen ‘n koers van 7% terwyl klein en middelslagondernemings, verreweg die grootste werkgewers, 33% betaal. Enige mens met ‘n normale verstand in sy kop kan sien dat so ‘n situasie tot rampspoed gedoem is.

Dít alles beteken dat ontevredenheid onder die middel- en werkersklasse aan die broei is. Hierdie gedeeltes van die Westerse bevolking verwerp in toenemende mate die ultraliberale globale kapitalisme. Vir geestelike en materiële stabiliteit kan hulle nie meer hulle toevlug neem tot die kerke nie en ook nie tot die uitgediende en verwerplike kommunisme nie. Daarom wend meer en meer van hierdie mense hulle tot die nuwe nasionalistiese bewegings in Europa. Die Front National in Frankryk is in groot mate ‘n party van die werkers en toenemende getalle voormalige ondersteuners van die Kommunisteparty loop na hulle toe oor.

Die wêreldkapitalisme het dus gedeeltelik gewerk, maar ook grootliks misluk. Dit het gewerk vir ‘n handjievol superrykes, maar vir groot gedeeltes van die algemene bevolking het dit jammerlik gefaal. En boweal kon dit natuurlik allermins die groot leegheid vul. Die gevolg is dat die wêreldkapitalisme in belangrike opsigte die teenoorgestelde bereik van wat dit beoog het, nl. ‘n gesiglose, identiteitslose, amorfe massa van willose, klakkelose verbruikers. In stede daarvan het hulle nou ‘n nuwe en groeiende nasionalisme wakker gemaak, iets wat ons hopelik ten goede kan strek.

Ten slotte, ‘n klein opmerking waaroor u kan nadink. Gedurende die koue oorlog het Duitsland, uit vrees dat die Sowjette sy goudreserwes in die hande kon kry, 1500 ton goud na Amerika verskeep waar dit in die Amerikaanse sentrale bank geberg word. In die jongste jare probeer Duitsland om weer sy goud terug te kry, maar dit blyk nou dat die goud verdwyn het. Wat het daarvan geword?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.