Twee koepee-keuses!

Deel op

Die koepee of dan tweedeursedanmotor is beina net so lank met ons as die gewone vierdeursedanmotors. Hierdie tipe motors is iets wat ek persoonlik nog nooit kon verstaan nie.
Hoekom wil jy ‘n groot lang motor met ‘n redelike bagasiebak en vier sitplekke koop as hy slegs 2 deure het en dit bitter moeilik is om agter in te klim? Die meeste koepeemotors is dan ook nog so knap agter dat geen normale mens daar kan sit nie; dit is eintlik slegs vir kinders of mense sonder bene geskik.

Wel dié tipe motors is te koop en duidelik is daar ‘n groot genoeg mark daarvoor want anders sou vervaardigers dié soort motor lankal vanuit hul modelreekse verwyder het.

Ons het na twee koepeemotors in die plaaslike motormark gaan kyk.

Die Kia Cerato Koup van voor
Die Kia Cerato Koup van voor

Kia Cerato Koup 1.6 T

Dink ‘n mens aan Koreaanse motors dan is ‘n sportkoepee eintlik die laaste tipe motor waarmee ‘n mens die Koreane sal vereenselwig. Die Oosterse rygoed is baie meer bekend vir die waarde-vir-geldfaktor, asook oor die laaste paar jaar vir mooi, doelgerigte en ekonomiese rygoed.

Die Kia Cerato Koup van die sykant gesien
Die Kia Cerato Koup van die sykant gesien

Die bakwerk van die nuwe Cerato Koup het sagte ronde, dog moderne lyne wat jou oë op reis neem. Die groot luginlaat voor onder die stamper en die groot skerp gevormde hoofligte maak ‘n sterk indruk. Hierdie is die tweede weergawe van die tweedeur-Cerato wat plaaslik beskikbaar is. Die vorige weergawe was in 2010 op ons paaie. Die motor het skerp sportiewe lyne gehad, maar daar was niks anders onder die enjinkap as wat ‘n mens in die gewone sedan sou kry nie. Met hierdie nuwe weergawe is dinge heelwat anders. Die motor is in alle opsigte groter, mooier, beter en sommer baie vinniger ook. Eienskappe soos groot, raamlose deure en gemakskenmerke soos armpies wat die sitplekgordel vir jou aangee, is teenwoordig.

Die Kia se paneerlbord
Die Kia se paneerlbord

Onder die enjinkap

Hier skuil Kia se 1.6- turbo-aangejaagde GDI-enjin wat dan ook Kia se eerste turbo-aangedrewe enjin is. Die 1.6-liter ontwikkel 152 Kw en 265 Nm se wringkrag. Om dit in perspektief te plaas, die VW Golf GTi met sy 2.0-literenjin lewer slegs 10 Kw meer teen 162 Kw. Dit is nogal heelwat krag uit ‘n 1.6-litermeuletjie. Die enjin verplaas die krag deur ‘n 6-spoedhandratkas na die voorwiele en dit gebeur superglad en sonder enige turbotraagheid. Ons kon ‘n verrigtingsyfer van 7,2 sekondes van rus tot by 100km/u aanteken en Kia gee die maksimum snelheid as 224km/u aan. Juis omdat die enjin slegs ‘n 1.6-liter is, maak dit die Kia Cerato lig op die voggies en selfs teen inklim-en-jaagsnelhede was die 7,2 l/100km-brandstofverbruik haalbaar. Die motor doen alles so gemaklik en stil dat ek nie een keer gevoel het die motor werk te hard of voel te hard of te sag of te stamperig of iets nie. Alles is baie goed uitgepluis en voel in die kol.

Binneruim van die Kia
Binneruim van die Kia

Binneruim

Die Kia Cerato Koup bly ‘n tweedeurkoepee wat die in- en uitklim vir die agterste passasiers enigsins moeilik maak, maar ruimte binne is verbasend en alhoewel ek self nou nie ver sou wou ry agter in die motor nie, was die kop-, skouer- en beenruimte agter beter as in enige ander koepee waarin ek al gesit het. Die afwerking van die binneruim is ook van hoogstaande gehalte met gehalteoppervlakte en leerinsetsels op al die regte plekke. Die sitplekke was veral opvallend groter en gemakliker om in te sit as wat ‘n mens van ‘n sportkoepee sou verwag.

Die Kia se bagasiebak
Die Kia se bagasiebak

Instrumente is duidelik en logies uitgelê, met alles wat net reg voel en reg werk. Daar is nie ‘n oormaat van knoppies nie en die kajuit is ook baie subtiel sportief. Geen helderrooi sitplekgordels of plastiekrooi insetsels nie, net stylvolle gemaklike gehalte rondom jou. Wat die bagasielaairuimte aanbetref, is daar 433 liter se pakplek, meer as genoeg vir ‘n paar reistasse.

Gevolgtrekking

Teen R335 000 is die Kia Cerato Koup 1.6T na ons mening goeie waarde vir geld, veral as ‘n mens kyk wat ander koepeemotors jou bied.

Kia Cerato Koup 1.6 T GDi

Prys 4 uit 5

Voorkoms buite 5 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5

Agter die stuur 5 uit 5

Enjin en ratkas 5 uit 5

Op die pad 5 uit 5

Veiligheid 5 uit 5

Totaal 38 uit 40

 

Die BMW 220i van voor
Die BMW 220i van voor

BMW 220i

Ons het ook die geleentheid gehad om BMW se nuwe babakoepee onder hande te neem. Die 220i is die intreevlakmodel van die Koepee-2-Reeks.

Sy-aansig van die BMW 220i
Sy-aansig van die BMW 220i

Wat die bakwerk betref, lyk die 220i mooi en sportief van voor. Daar is egte BMW-lyne met kort oorhange en die wiele wat reg op die hoeke van die bakwerk gemonteer is. Die motor hurk ook baie laag op die pad. Die agterkant is na ons mening die swak plek in die ontwerp. Dit is asof die treffendheid van die ontwerp effens skipbreuk gelei het met die agterligte en veral die kajuit: hoe dit op die bakwerk rus, lyk effens uit verhouding.

Paneelbord van die BMW 220I
Paneelbord van die BMW 220I

Onder die enjinkap

Hier doen BMW se 2,0-literpetrolenjin met ‘n turbo-aanjaer diens. Die enjin ontwikkel 135 Kw en 270 Nm se wringkrag. Daar is ‘n 6-spoedhandratkas wat krag na die agterwiele toe stuur. Kraglewering is baie glad en regdeur die toerestrek is daar meer as genoeg wringkrag. Juis omdat daar van ‘n turbo-aanjaer gebruik gemaak word, sou ‘n mens dink daar is traagheid. Geen turbotraagheid is te bespeur nie en wanneer die motor luier, moet ‘n mens kyk of die toereteller beweeg so stil loop die enjin. Verrigtingsyfers is heel aanvaarbaar met ‘n 0-100km/u-tyd van 7 sekondes en ‘n maksimumsnelheid van 235km/u. Die enjin is nog suinig met die koolstofgasse ook teen slegs 142g/km.

Agterste ruim in die BMW 220i
Agterste ruim in die BMW 220i

Die motor voel groter as wat hy werklik is, nie meer ruimte binne nie, want daar is regtig nie veel nie. Die neus en die gevoel op die pad voel groter as wat die motor is. Die lang neus maak parkering ook moeilik en jy moet die heel tyd dophou waar jy parkeer. Klim jy egter uit en stap weg van die motor af dan sien jy eers hoe kort en laag sy is.

Binneruim

Die 220i is pure BMW, met goed afgewerkte leerbekleedsel en gehaltestowwe vir die tapyte en dak. BMW-eienaars sal tuis voel in die motor. Die sitplekke het ‘n knoppie wat jy druk sodat die sitplek vorentoe kan skuif sodat iemand agter in kan klim. Ruimte agter is egter uiters beperk en glad nie vir volwassenes geskik nie, tensy die bestuurder self ‘n pikkie is.

Bagasieruim van die BMW 220I
Bagasieruim van die BMW 220I

Laairuimte is meer as genoeg met 390 liter se pakplek. Daar is byna elke luuksheid waaraan ‘n mens kan dink, van togbeheer tot parkeerhulp, parkeersensors voor en agter, outomaties verstelbare sitplekke, blou tande vir die radio, ens.

Op die pad

BMW-eienaars sal vinnig vir jou sê alle BMW’s is loutere bestuursgenot! Vir my is hierdie een van die BMW’s wat ek ongemaklik was om te bestuur. Ek kon nie my sit ordentlik kry nie; dit is asof die sitplekverstelling nie hoog genoeg kan opstel nie. Die onderstel van die 220i is goed gebalanseerd met goei gewigverspreiding, maar die rit is effens harder as wat ek dit sou wou hê.

Gevolgtrekking

Teen R425 000 sonder enige duur opsies is die BMW 220i nie goedkoop nie. As ‘n mens in ag neem dat hy eintlik die 1-reekskoepee is wat nou as die 2-reeks bekendstaan en dit is nog boonop die intreemodel van die 2-reeks dan is hierdie ‘n ware premiumprys vir ‘n klein motortjie.

BMW 220i

Prys 3 uit 5

Voorkoms buite 4 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing 3 uit 5

Agter die stuur 4 uit 5

Enjin en ratkas 5 uit 5

Op die pad 4 uit 5

Veiligheid 5 uit 5

Totaal 33 uit 40

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.