Die Oscar Pistorius-saak is sekerlik vir die “man op straat” van opvoedkundige waarde, maar ook ‘n ontnugtering. Van opvoedkundige waarde oor die proses en die hofprosedure. Maar dan ook ‘n ontnugtering oor die kostes, oor die eensydige manipulasie van feite en insidente, en van die fabrikasie en weerhouding van inligting en dokumente, asook bewysstukke.
‘n Mens sou binne die konteks van die 1996-grondwet verwag dat die staat en sy beamptes die voorsittende beampte (die regter in die Oscar-saak) van gebalanseerde feite sal voorsien, ten einde geregtigheid in uitspraak te lewer.
In die Oscar-saak kom dit voor asof die selektiewe aanwending van vermeende feite daarop bedag was om hom skuldig te laat bevind, kom wat wil. Gesien die sielkundige profiel van Pistorius, is sy reg om te swyg aangetas, sy sielkundige stabiliteit ondermyn en dus sy menswaardigheid dusdanig aangetas dat hy onmoontlik op ‘n koel, kalm en beredeneerde wyse sy saak kon stel.
Die Oscar-saak roep om diepgaande regshervorming, wat inhou ‘n plig op die aanklaer om die voorsittende beampte van alle tersaaklike feite en gegewens (positief en negatief vir die aangeklaagde) in te lig. Geregtigheid in uitsprake vra ‘n gebalanseerde feitebasis.
Kortom, die Handves van Regte, is bindend op die wyse waarop die aanklaers hulle werk sal doen. Na my oordeel is die Oscar-saak ‘n sprekende bewys hoe dit nie in die howe behoort te gaan nie. As Pistorius nie die dienste van ‘n bekwame Roux kon bekostig nie en as die regter nie deur drukgroepe beïnvloed sal word nie, sal die resultaat bedroewend wees. Nou is die vraag watter uitwerking die ANC se vroueliga op die proses probeer uitoefen? Is dit nie skandalig dat die Steenkampfamilie hulleself deur die ANC se vroueliga in die hof laat omring het nie?