Kosie Pretorius meen Pik Botha het mense oor SWA mislei

Die geskiedenis van Namibië van ontvoogding vanaf Duitse kolonialisme sedert 1884 na soewereine onafhanklikheid in 1990 is een van verlore kanse waarin Suid-Afrika die bal verkeerd gespeel het.

In die mees onlangse geskiedenis van hierdie multi-etniese land was JWF (Koos) Pretorius ‘n belangrike rolspeler as leier van die SWA Nasionale Party.

In sy outobiografie “Suidwes-Afrika na Namibië”(2014) verduidelik hy sy rol, mislukkings en frustrasies.

Suidwes Afrika na Namibië – ‘n politieke bosoorlog deur Koos (JWF) Pretorius. Olimpiade Uitgewers 2014.

Wie was Kosie Pretorius?

Kosie Pretorius
Kosie Pretorius

Akademies het Pretorius met BA Admissie begin, maar uiteindelik met filosofie en staatsleer aan die Vrystaatse Universiteit voortgegaan en sy MA in Staatsleer behaal.

In 1983 is hy verkies tot leier van die NP (p. 7) in Suidwes. Ook voorsitter van die uitvoerende komitee in die Blanke Wetgewende Raad. Hy was ook vir 15 jaar lid van die opposisie onder ‘n SWAPO-regering.

Politieke filosofie

Sy politieke filosofie is dan ook tipologies van die staatsleer van Herman Strauss aan die destydse Vrystaatse Universiteit. In hierdie variant van die staatsleer as vakwetenskap word die humanistiese aandrang op individuele menseregte (wat verbind is aan ‘n unitêre staat) geringskat en die Christelike regstaatsidee hoog aangeslaan. Binne laasgenoemde konteks moet individuele menseregte, soos verwoord in moderne Handveste van Regte, uitgebalanseer word met gemeenskapsregte.

So gesien sou dit in die denke van Pretorius beter gewees het om Namibië progressief op die pad van selfstandigheid, uit onderhorigheid, binne die konteks van ‘n etnies saamgestelde federale staat te geplaas het.

Namibië en etnisiteit

Namibië is by uitnemendheid ‘n etnies plurale gemeenskap waarvolgens die verskillende gemeenskappe ook verskillende gedeeltes van hierdie land bewoon het.

In pre-koloniale Namibië was die San/Boesmans die enigste werklik inheemse gemeenskap. Die Koisan/Nama/Damara/Koikoi-mense het toe in die omgewing van die Oranjerivier hulle tuiste gemaak. Die Damaras het die grondgebied van SWA in die 9de eeu betree. Die Herero’s kom eers in die 17de eeu vanaf Oos-Afrika Damaraland binne. Die Afrikaner-boere het in die 19de eeu hulle opwagting gemaak. Die Oorlams/Koisan , met Jonker Afrikaner as die leier, het in die 1830s ‘n verdere toevoeging tot etniese pluralisme gemaak. Die Rehoboth-Basters, die nasate van blanke boere en swart vroue, het binne die SWA-grondgebied ‘n vrye Republiek van Rehoboth tot stand gebring.

Kolonialisme

Soos menige ander land, waaronder SA, was SWA die speelbal van kolonialisme en van vreemde sendingaksies. In 1793 annekseer die Kaapkolonie Walvisbaai. Deutsch Südwestafrika is die breinkind van Otto von Bismarck. As direkte gevolg van Wêreldoorlog I neem SA vir SWA in 1915 oor. Kragtens artikel 22 van die Gemenebes van Nasies administreer SA toe SWA as Klas C-mandaatgebied.

Met die tot niet gaan van die Gemenebes word SWA toe onder die Trusteeskap van die Verenigde Nasies geplaas. In 1971 het die Internasionale Geregshof die gesag van die VN oor SWA gehandhaaf en die administrasie van SWA deur SA as onwettig verklaar.

In 1977 het die Westerse kontakgroep (Kanada, Frankryk, Wes-Duitsland, die VK en VSA) deur resolusie 435 SWA op die pad na onafhanklikheid geplaas. Hierdie resolusie is in 1988 ‘n stappie verder geneem toe Chester Crocker begin het om resolusie 435 in werking te stel.

Etniese konflik in Namibië

Die geskiedenis van Namibië is van meet af aan deur etniese konflikte gekenmerk. In die 1830s was daar die konflik tussen die Herero, Oorlams en Damaras. Die Hottentotrebellie van Hendrik Witbooi het aanleiding gegee tot die Schuts-elitetroepe wat enige verset moes onderdruk en besleg. In 1904 was daar die Herero/Namaqu-rebellie. In 1917 het koning Mandume Ya Ndemufayo van Ovamboland tot verset oorgegaan. Toe in 1959 het die Katutura-opstande SA geruk. Dan volg SWAPO se gewapende verset, met die hulp van Kuba, die Sowjetunie en Angola.

SA se mistasting

Pretorius se analise van die politieke oplossing vir ‘n multi-etniese en diepverdeelde SWA is deurspek met voorbeelde, ingevolge waarvan SA die verkeerde politieke resep gevolg het.

Pretorius plaas die blaam vierkantig op die alliansie van Pik Botha, Marinus Wiechers en tot ‘n mindere mate op Dirk Mudge, wat deur verskillende administrateurs-generaal ondersteun is, waarvan Louis Pienaar en Danie Hough sag daarvan afkom, maar ander soos regter Tienie Steyn nie.

Hy beskryf Pik Botha met nie-vleiende taal en steun ook op die biografie van Papenfus om Botha te diskrediteer. Pik Botha is ‘n politieke opportunis (p. 2) met dualistiese persoonlikheidseienskappe (p. 18). Sy motivering was nie tussen reg en verkeerd nie, maar om gewild te wees (p. 4). Pik het twee standpunte gelyktydig ingeneem, om almal te probeer tevrede stel en so die NP’s in beide SA en SWA te flous (p. 6). Pretorius haal Ken Owen aan wat skryf dat Pik kon swaai, manipuleer en bluf (p. 15). Hy het aangeleun op die humanistiese en individualistiese mensbeskouing (p. 16). Vir Botha word die onderskeid tussen reg en verkeerd deur meerderheidsteun en nie prinsipieel bepaal nie (p. 18).

Die werklike Pik het meerderheidsregering saam met die Westerse Vyf bevorder en nie minderheidsregte nie (p. 8). In SA het hy egter verklaar dat “een-mens-een-stem” selfmoord sou wees (p. 9). Pik het eers voor en toe teen PW Botha gedraai toe dit dienstig was … soos ‘n hiëna wat ‘n gewonde leeu bekruip.

Pretorius beskuldig Botha daarvan dat hy nie met die NP/SWA gesprek gevoer het nie, maar mense in die RSA tog mislei het met uitsprake dat met almal gekonsulteer is (p. 26).

Slotbeskouing

Die punt word onderstreep dat as SA betyds begin het om anti-kolonialisme in SA en SWA van stapel te stuur, sodanige politieke aksie die VN van sy venyn kon ontneem het en dat SA binne hierdie konteks groter beweegruimte kon geniet het. Dit geld ook vir die rol van die politieke onderhandelaars uit SA, waaronder Pik Botha.

Alhoewel Pretorius ‘n meestersgraad in Staatsleer verwerf het, en sy staatkundige insigte gewig dra, is sy outobiografie swak geskryf. Hy ryg sy argumente soos krale in ‘n string aaneen, sonder dat daar geïntegreerde skakels is wat ‘n storie in verhaaltrant vertel.

Hy is nogal geneig om op voetpaadjies te dwaal, dan skielik oor ‘n paar klippe op ‘n ander pad te spring en ‘n ander pad te bewandel en later weer na reeds behandelde gebeure terug te gryp. So gaan die konteks dikwels verlore.

Nietemin is Pretorius se Suidwes-Afrika na Namibië ‘n lesenswaardige dokument, omdat dit die subjektiewe verhaal van ‘n belangrike rolspeler is.

Die geskiedenis van Suider-Afrika kan nie teruggedraai word nie. Maar ‘n mens wonder tog of vroegtydige staatsmanskap binne die konteks van konsosiatiewe demokrasie vir en binne SA, SWA en helaas ook Rhodesië en die Britse protektorate nie ‘n beter oplossing vir die sub-kontinent sou wees, as tans nie? ‘n Konfederale Alliansie van Suider-Afrikaanse state wat elk konsosiatief gestruktureer kon word, sou waarskynlik ‘n totaal ander gesig vertoon het, as die totalitarismes van Sam Njoma, van Mugabe en van Jakob Zuma … en op die verlengde moontlik Malema! Wie weet? Post facto weet mens beter …

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.