VSA stuur troepe na Oekraïne, Irak, Somalië

President Barack Obama van Amerika gaan troepe na die westelike grens van die Oekraïne stuur vir ‘n gesamentlike militêre oefening hierdie maand met meer as 1000 troepe van die Verenigde State en sy bondgenote.

Die besluit om voort te gaan met die Rapid Trident-oefening vanaf 16 tot 26 September word beskou as ‘n teken van die toewyding van NAVO om die Oekraïne te ondersteun sonder openlike militêre ingryping in die konflik.

Die jaarlikse oefening sal plaasvind naby die Oekraïne se grens met Pole, en was aanvanklik geskeduleer vir Julie, maar is afgestel omdat vroeë beplanning deur die krisis in die oostelike deel van die land ontwrig is.

Die VSA het reeds $5 miljard bewillig vir ‘n regeringsverandering in die land. Daar word ná die NAVO-beraad in Wallis hierdie week ‘n nuwe vinnige reaksiemag van ‘n paar duisend troepe verwag.

Bykomend tot die lugmagoefeninge, sal die Verenigde State van Amerika tenks en 600 troepe na Pole en die Baltiese state Estland, Letland en Litaue stuur vir gesamentlike maneuvers in Oktober om valskermsoldate te steun.

Rapid Trident sal die eerste beduidende ontplooiing van Amerikaanse en ander personeel behels na die Oekraïne sedert die krisis uitgebreek het.

Onder ‘n breë program getiteld “Operation Atlantic Resolve” beoog die VSA om sy verbintenis tot die Europese wapenwedloop tesame met NAVO te bevestig.

Obama het ook aangekondig dat nog 350 troepe na Bagdad gestuur sal word om “hoofsaaklik Amerikaanse diplomate en sy ambassade in die Irakse hoofstad te beskerm”.

Dit sal die aantal Amerikaanse weermagpersoneel in Irak, wat hoofsaaklik vir sekerheid ontplooi is, op sowat ‘n duisend te staan bring.

Die Withuis en Pentagon het dit bekend gemaak nadat nog ‘n gru-video deur die Islamitiese Staat op die internet uitgereik is waar ‘n gemaskerde ekstremis met ‘n Britse aksent nog ‘n klaarblyklike onthoofding op ‘n Amerikaner uitvoer.

Ten spyte daarvan dat hulle nie egtheid van die twee videos kan bevestig nie, sal die VSA nog soldate stuur.

Die joernalis, Steven Sotloff wat verlede jaar in Sirië ontvoer is, was deel van die video wat die onthoofding van sy landgenoot, James Foley gewys het.

In die video dreig ‘n gemaskerde persoon ‘n derde gyselaar en waarsku regerings om hulle alliansies teen die Islamitiese Staat te staak.

Senator McCain het voorheen die leierskap van ISIS ontmoet en na hulle verwys as “gematigdes” wat veg teen die “diktatuur” in Sirië.

Berigte dat die VSA en Brittanje ISIS befonds is vollop op die internet.

In Afrika is Ugandese soldate wat deel vorm van die Afrika-unie se sending in Somalië, besig om voor te berei om na Kurtunwaarey in die Laer Shabelle-streek van Somalië te beweeg.

Dit is deel van Operasie Indiese Oseaan, wat daarop gemik is om die oorblywende dorpe in die gebied wat steeds deur die Moslemterroristegroep, Al Sjabaab beset word, te bevry.

Die VSA het ‘n lugaanval deur ‘n onbemande tuig gedoen oor ‘n gebied waar die leiers van Somalië se Al-Kaida-militante vergader het, het intelligensie bronne Dinsdag gesê, maar dit is onduidelik of enige bevelvoerders gedood is.

Die aanval het volgens Somaliese regeringsamptenare die al Sjabaab-leier Ahmed Abdi Godane en ander leiers geteiken wat glo byeen was by die plek, maar daar was geen bevestiging dat hulle getref is nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.