Geheimsinnige organisasie wil christenskap in Afrikaanse skole verbied

Deel op

‘n Geheimsinnige “organisasie” het so pas ‘n hooggeregshofaansoek in Johannesburg geloods om alle Afrikaanse skole te verbied om enige vorm van christelike verwysing, gebed of die lees van die Bybel in Afrikaanse skole te verbied.

Mnr. Johannes de Klerk Pietersen voer in hofstukke voor die Gautengse Hooggeregshof, Johannesburgse plaaslike afdeling, aan dat dit “ongrondwetlik” is om hoegenaamd na die christelike geloof in ‘n openbare skool te verwys. Daar mag ook nie van “christelike norme en waardes” gepraat word nie, aangesien dit teen ander gelowe en opvattings “diskrimineer”.

Namens die “organisasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie”, waarvan hy voorsitter is, vra Pietersen die hof om ‘n bevel wat die Laerskool Randhart in Alberton, die Laerskool Baanbreker in Boksburg, die Laerskool Garsfontein in Pretoria, die Hoërskool Linden in Johannesburg, die Hoërskool Oudtshoorn en die Langenhoven-Gimnasium in Oudtshoorn sal verbied om christelike verwysings en gebruike toe te laat en sodanige verwysings en gebruike as “ongrondwetlik” te verklaar.

Lede van Pietersen se organisasie is, volgens berigte, “Afrikaanssprekende mense wie se kinders in die onderskeie skole aan christelike praktyke onderwerp is”.

Dit is bekend dat dr. Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg, wat voorheen by ‘n heksejag betrokke was teen Afrikaanse akademici wat kritiek op kultuurmarxisme lewer, insgelyks hewig teen christelike inhoud of gebruike in skole gekant is. Hy lewer gereeld op sy Facebookblad neerhalende kommentaar oor gelowiges en christene in die besonder. Dit is tans onbekend of hy by die aksie teen christenskap in skole gekant is.

Pietersen se organisasie is nou die derde wat teen Afrikaanse skole optree, naas die nasionale onderwysdepartement en die George Soros-ondersteunde Section 27 wat reeds ‘n hofsaak teen die Hoërskool Fochville gevoer het in ‘n poging om die skool te verengels en rasse-onmin tussen kinders te saai. Die vorige LUR vir onderwys in Gauteng, die Engelse mev. Barbara Creecy, het private dreigemente teenoor Afrikaanse skole in die provinsie gemaak dat sy hul geboue sou konfiskeer en met Engelse kinders sou vul.

Mnr. Paul Colditz van Fedsas adviseer die skole oor die hofsaak wat hulle in die gesig staar. Daar is nog nie ‘n besluit geneem of die skole die aansoek gaan teenstaan nie. Volgens hom, “raak die aansoek… elke openbare skool, ook die skole met ’n ander godsdienstige etos as dié van christenskap. Sou die saak verder gevoer word, sal dit waarskynlik in die grondwethof draai weens dít wat gevra word.”

Die Madonna del Granduca deur Raphaël. Binnekort is die studie daarvan op 'n Afrikaanse skool verbode?
Die Madonna del Granduca deur Raphaël. Binnekort is die studie daarvan op ‘n Afrikaanse skool verbode?

Optrede teen die christelike geloof op skool word internasionaal veral met die kommunisme in die voormalige Oos-Europa vereenselwig. Gewoonlik is dit ‘n teken van ‘n owerheid wat ‘n wig tussen kinders en hul ouers wil indryf, sodat kinders makliker op skool gebreinspoel kan word. In Marx en Engels se oorspronklike Kommunistiese Manifes word voorgestel dat die staat kinders van hul ouers moet wegneem en moet grootmaak sodat kommunisme as enigste ideologie kan seëvier.

Kunsonderwyseresse by die skole is veral bekommerd dat hulle nie meer toegelaat sal word om Westerse kuns, waarin vele christelike tonele en verwysings voorkom, aan kinders te doseer nie. “Dikwels is daar ‘n klassieke skildery wat weer na ‘n Renaissance-skildery met ‘n christelike inhoud verwys,” het ‘n onderwyseres van Johannesburg, wat uit vrees vir viktimisering nie haar naam genoem wil hê nie, gesê. “Hoe gaan ‘n mens die inhoud en betekenis aan leerlinge kan verduidelik sonder om na die christelike godsdiens of die Bybel te verwys?”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.