Aardbewing skud Windhoek

Deel op

Die skudding en vibrasies wat Dinsdag omstreeks 03:52 deur Namibiërs gevoel is, is niks meer as ’n gewone geologiese gebeurtenis nie.

Volgens ’n mediaverklaring wat gister deur die direktoraat van geo­logiese opname uitgereik is, is ’n lesing van die skudding slegs by sy stasie op Windhoek geneem.

“’n Aardskudding van onbekende grootte is by die direktoraat se Windhoek-stasie aangeteken. Die skudding is slegs deur hierdie stasie opgeneem en ontleding van die beskikbare inligting dui daarop dat dit tussen 15 en 20 sekondes geduur het,” het dr. Gabi Schneider van die direktoraat in die verklaring gesê.

Volgens haar kon die grootte van die skudding nie vasgestel word nie, omdat dit slegs deur een stasie opgeneem is.

“’n Minimum van drie stasies is nodig om die ligging, diepte en grootte van ’n skudding te bepaal. Die seismiese aktiwiteit wat op ander stasies in die land aangeteken is, stem nie ooreen met die lesing wat deur die stasie in Windhoek geneem is nie. Dít maak dit moeilik om die voorval te ontleed. In hierdie stadium is dit dus ons afleiding dat die gebeurtenis slegs plaaslik was,” lui die verklaring.

Schneider het Dinsdagmiddag reeds teenoor Republikein bevestig die direktoraat se seismometers het die gebeurtenis opgeneem. Volgens haar was geofisici toe al besig om die ligging van die episentrum en die omvang van die skudding te probeer bepaal.

Sy het in die verklaring gevra lede van die publiek moet die direktoraat by 061 284 8142 of 061 284 8144 kontak, sodat die direktoraat so gou as moontlik ’n verduideliking van die skudding kan kry.

“Ons het volledige inligting nodig oor die plekke en tyd waar die publiek die skudding ervaar het. Dit sal die direktoraat in staat stel om die gebeurtenis verder te bestudeer en mettertyd ’n redelike verduideliking oor die oorsaak van die skudding te gee,” lui die verklaring.

Volgens Schneider is die voorkoms van aardbewings in Namibië nie algemeen nie en is die land se seismiese aktiwiteite laag.

“Effe en ligte skuddings is normaal en dit dui aan dat energie deur die aarde se kors vrygelaat word. Die sterkte van hierdie skuddings is egter baie laag en sal veel hoër moet wees om enige skade aan strukture aan te rig,” het sy gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.