Ondertekende bladmusiek van Die Stem haal R17 000

Deel op

deur Marthinus van Bart

Bladmusiek van Die Stem van Suid-Afrika wat Die Burger Boekhandel uitgegee het en wat op 13 Desember 1935 deur ds. M.L. de Villiers, die komponis, onderteken is, is Donderdag 28 Augustus in Sandton vir R17 000 opgeveil.

Dit is die beleid van die afslaer, Stephan Welz & Co, om nie kopers op sy veilings te identifiseer nie. Die veilingswaardasie van dié kleinood vir kultuurbewuste Afrikaners was R8 000, die helfte minder as die veilingsprys.

Die musiekstuk van vier bladsye, wat as Africana gereken word, is gelamineer. Dit dateer van ’n jaar voordat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) dié toonsetting van Die Stem amptelik as die volkslied van Afrikaanssprekende wit Suid-Afrikaners aanvaar het. Die indertydse nasionale volkslied was die Britte se God Save the King.

Ds. Marthinus Lourens de Villiers wat Die Stem van Suid-Afrika getoonset het.
Ds. Marthinus Lourens de Villiers wat Die Stem van Suid-Afrika getoonset het.
Die woorde van Die Stem is vir die Van Riebeeck-fees van 1952 in Engels omgesit as The Call of South Africa. In 1957 het die regering albei weergawes tot die amptelike nasionale volkslied verklaar. Ná die ANC-oorname in 1994 is dit vervang met Nkosi Sikelel’ iAfrika.

Sy bladmusiek wat deur Die Burger Boekhandel gedruk is en op 13 Desember 1935 deur hom onderteken is, het pas R17 000 op ’n veiling van Stephan Welz & Co in Sandton behaal.
Sy bladmusiek wat deur Die Burger Boekhandel gedruk is en op 13 Desember 1935 deur hom onderteken is, het pas R17 000 op ’n veiling van Stephan Welz & Co in Sandton behaal.
Die woorde van Die Stem is in 1918 deur die talentvolle regsgeleerde, politikus, joernalis, skrywer, digter en musikant C.J. Langenhoven aan sy woning op Oudtshoorn gedig. De Burger (sedert Januarie 1922 Die Burger) het die gedig geplaas, en Langenhoven het komponiste genooi om toonsettings in te stuur. M.L. de Villiers se eerste poging was in 1921, maar hy moes dit verskeie kere hersien voordat die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) dit in 1936 aanvaar het.

Lees meer oor die skryf van Die Stem, die toonsetting daarvan en wie almal betrokke was voordat dit die amptelike volkslied vir die Afrikaners geword het in KultuurKroniek, kultuurrubriek op die FAK se tuisblad by www.fak.org.za/
kultuur-kroniek/

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.