deur Marthinus van Bart
Bladmusiek van Die Stem van Suid-Afrika wat Die Burger Boekhandel uitgegee het en wat op 13 Desember 1935 deur ds. M.L. de Villiers, die komponis, onderteken is, is Donderdag 28 Augustus in Sandton vir R17 000 opgeveil.
Dit is die beleid van die afslaer, Stephan Welz & Co, om nie kopers op sy veilings te identifiseer nie. Die veilingswaardasie van dié kleinood vir kultuurbewuste Afrikaners was R8 000, die helfte minder as die veilingsprys.
Die musiekstuk van vier bladsye, wat as Africana gereken word, is gelamineer. Dit dateer van ’n jaar voordat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) dié toonsetting van Die Stem amptelik as die volkslied van Afrikaanssprekende wit Suid-Afrikaners aanvaar het. Die indertydse nasionale volkslied was die Britte se God Save the King.
Lees meer oor die skryf van Die Stem, die toonsetting daarvan en wie almal betrokke was voordat dit die amptelike volkslied vir die Afrikaners geword het in KultuurKroniek, kultuurrubriek op die FAK se tuisblad by www.fak.org.za/
kultuur-kroniek/